Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing 2019
NUUSARTIKEL: Die laaste wit verkiesing 30 jaar gelede
Sarel van der Walt
Sarel van der Walt

Dit was so 01:30 die oggend van 7 September 1989 op die skougronde van Louis Trichardt in die eertydse Verre Noord-Transvaal (nou Limpopo).

Die hoofkiesbeampte het pas aangekondig adv. Tom Langley van die Konserwatiewe Party (KP) het die kiesafdeling Soutpansberg vir die KP behou.

“Kaapee, Kaapee, Kaapee!” het die KP-ondersteuners opgewonde uitgeroep en toe begin sing: “Hoor jy die magtige dreuning!”

Van die KP-ondersteuners het dié verslaggewer raakgesien en uitgeroep: “Skryf, skewe Beeld, skryf wat vannag hier gebeur het.”

Toe ek ’n paar minute later in my motor klim, kon ek nog hoor hoe hulle uitroep: “Kaapee! Kaapee! Kaapee!”

Die destydse KP se logo.

Ek was as Verre-Noord-verteenwoordiger met daardie verkiesing ook verantwoordelik vir die verslaggewing oor wat in die kiesafdelings Waterberg, Pietersburg en Lydenburg (wat onder meer ook Phalaborwa en Hoedspruit ingesluit het) gebeur het.

Daardie jare was Tim du Plessis, Arrie Rossouw en Peet Kruger die politieke joernaliste van Beeld.

In die paar weke voor die verkiesing het ek duisende kilometer ver deur Verre Noord-Transvaal gery om politieke vergaderings by te woon. Van Ellisras in die weste tot Phalaborwa in die ooste en van Warmbad in die suide tot Messina en Alldays in die noorde.

Dit was voor die dae van selfone en ek het my berigte meestal van openbare telefone (tiekiebokse) deurgebel Johannesburg toe waar Ans van der Merwe en Ben Smit die intikkers was.

Dr. Andries Treurnicht, eertydse KP-leier.Foto: Argief

Een aand op Ellisras was ek op ’n KP-byeenkoms waar dr. Andries Treurnicht, die KP-leier, die spreker was. Iemand het vir hom gewys waar sit “Beeld se man”.

In ’n stadium in sy toespraak het Treurnicht oudergewoonte die NP aangeval, na my gewys en gesê: “Skryf Beeld, skryf.”

Die KP-ondersteuners het saam geskree: “Skryf Beeld, skryf!”

Vir baie KP-ondersteuners, en veral AWB-lede wat die wêreld vir my warm gemaak het, was Beeld niks anders nie as ’n “linkse, kommunistiese koerant”.

Alles waarmee hulle nie saamgestem het nie, was vir hulle “kommunisties”!

Maar om terug te kom na daardie aand op Louis Trichardt. Op pad terug Pietersburg toe ek oor die radio na die SAUK se verkiesingsprogram geluister.

“Piep, piep, piep” was die sein wanneer ’n nuwe uitslag bekend gemaak is. “Hier volg die uitslag van die parlementêre verkiesing in die kiesafdeling Primrose . . .”

Net so ’n entjie buite Louis Trichardt het die uitslag van die kiesafdeling Soutpansberg deurgekom: “Adv. Thomas Langley (Konserwatiewe Party) . . .”

Ek het ook gehoor Treurnicht het Waterberg maklik behou, en sy kollegas Dries Bruwer Lydenburg en dr. Willie Snyman die kiesafdeling Pietersburg.

Dit was ná 03:00 die oggend toe ek terug was in Pietersburg.

By die NP se kantoor in die eertydse Vorsterstraat was daar nog mense wat om vure gestaan het. Dié vure was nie vreugdevure nie.

Ek het ingedraai om te hoor of ek die NP-kandidaat, dr. Nic van Reede van Oudtshoorn, se kommentaar kon kry.

Van Oudtshoorn het my na sy kantoor genooi en vir ons elkeen ’n glas wyn ingegooi.

“Weet jy, ek het vandag ’n groot les geleer. Die Liewe Here se doel met my was nie om ’n politikus te wees nie, maar om mense se tande reg te maak,” het hy filosofies opgemerk.

Nou Maandagaand bel ek vir Nic wat later NP-burgemeester van Pietersburg sou word

“Ek onthou daai dag asof dit gister was,” sê dié nou afgetrede tandarts.

Net vyf maande ná dié verkiesing het die politieke landskap van Suid-Afrika vir altyd verander met pres. FW de Klerk se 2 Februarie-toespraak

* Met die 1989-verkiesing was PW Botha nog president, maar FW de Klerk die NP-leier. Die NP het 48% van die stemme op hom verenig en 103 setels verower, teenoor die KP se 31% (41 setels). Die nuwe Demokratiese Party (wat die PFP vervang het) het 34 setels verower.

’n Jong Tony Leon, die latere DA-leier, is met dié verkiesing tot parlementslid verkies as volksraadslid vir Houghton, Johannesburg.

Van der Walt is ’n politieke joernalis en sportskrywer van Netwerk24, Beeld, Die Burger en Volksblad. Hy was van Julie 1989 tot Desember 1992 Beeld se Verre Noord-verteenwoordiger in Pietersburg (Polokwane).

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.