Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing 2019
Ondanks syfers spog DA met nuwe swart steun

Hoewel "rasse-nasionaliste" teen die DA gestem het, was daar 'n "belangrike verskuiwing" van swart kiesers na die DA, sê Jonathan Moakes, nasionale verkiesingsbestuurder van die DA.

In ’n brief aan die party se strukture sê Moakes hy wens hy kon in die brief oor “enorme groei” geskryf het, maar die party se posisie is eerder “solied en stabiel”.

In dié stadium lyk dit of die DA sowat 20,8% van die stemme gaan kry, wat ’n daling is van die 22,2% in 2014. Dit is die eerste keer sedert 1994 dat die DA nie sy kiesersbasis in ’n nasionale verkiesing kon laat groei nie.

In teenstelling daarmee het die VF Plus se steun merkwaardig verdubbel tot 2,5%, volgens News24 se projeksiemodel.

In die brief sê Moakes die DA staan alleen om ’n verenigde Suid-Afrika te bou waar “gematigde, liberale kiesers” ’n toekoms het waar hulle kollektief die radikale politiek kan teenstaan.

“Maar die belangrikste in die verkiesing is dat die tendense vir ons wys dat daar ’n beduidende verskuiwing onder nuwe kiesers na die DA plaasgevind het. Dit is meestal jong swart, bruin en Indiër Suid-Afrikaners,” sê Moakes.

Statistieke deur die verkiesingsontleder Dawie Scholtz, gegrond op die jongste syfers, toon egter dat die DA skynbaar geen beduidende opgang onder swart kiesers gemaak het nie.

Volgens sy ontleding het die DA die steun van 4,9% van swart kiesers in 2014 gehad, en vanjaar 5%.

Met verwysing na die party se verkiesingsverliese – baie steun het na die VF Plus gegaan – sal die party in die toekoms nie langer die keuse wees van “rasse-nasionaliste” nie, sê Moakes.

“Sommige mense kon die verkiesing as ’n geleentheid gesien het om teen die DA te stem. Die redes daarvoor moet ondersoek word, maar dit kan moontlik wees omdat daar geen DA-teenwoordigheid in hul gebied is nie of omdat die party nie reageer op inwoners se klagtes oor dienslewering nie.”

Phillip van Staden, bestuurslid van die VF Plus, sê dié party se ervaring is dat baie van die meer as 200 000 nuwe stemme wat sy party gekry het, oud-DA-kiesers is wat deur die DA vervreem en verwaarloos is.

“En dit was nie net konserwatiewe of ‘regse’ kiesers wat na ons toe gekom het nie. Histories lojale DA-kiesers, van wie sommige saam met die PFP en DP gekom het en nooit vir die NP gestem het nie, het nou vir ons gestem.”

Mmusi Maimane, DA-leier, het Vrydag gesê hy is “tevrede en gemaklik” met sy party se vertoning. – News24

Meer oor:  Da  |  Stembriewe  |  Verkiesing2019  |  Ovk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.