Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing 2019
Opkoms op stemdag ‘bepalend vir DA, ANC’
Pres. Cyril Ramaphosa (middel) saam met sy twee grootste bondgenote in die party se topses, die ANC-voorsitter Gwede Mantashe (links) en adj.pres. David Mabuza, by ’n partybyeenkoms in Januarie vanjaar. Foto: Phill Magakoe

Die opkoms van kiesers op stemdag gaan ’n bepalende faktor in die Mei-verkiesing – veral vir die ANC in Gauteng en die DA in die Wes-Kaap – wees.

Dit is die mening van Ebrahim Fakir, politieke ontleder en direkteur van programme van die Auwal Socio-Economic Research Institute (ASRI), wat Donderdag ’n konferensie van die Dullah Omar-stigting by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) oor die 2019-verkiesing toegespreek het.

Steun vir die ANC is laag in Gauteng en in die Wes-Kaap, maar dit is nie só in die ander provinsies nie.

“Selfs al is daar ’n inkrementele skuif in steun na ander partye is dit onwaarskynlik dat dit die ANC se steun in dié provinsies tot onder die 50%-merk sal druk.”

Tendense toon dat die daar redelike konstante en inkrementele groei in DA-ondersteuning was. Hulle doen in elke verkiesing gewoonlik beter as wat verwag word, maar Fakir is nie seker of dit dié keer weer die geval gaan wees nie, aangesien die DA volgens hom voor “ernstige probleme” te staan kom.

Fakir reken as daar ’n 70%-stemopkoms is, dit waarskynlik sal wees dat die ANC net-net sal deurskuur in Gauteng met 51% van die steun. As die ANC se steun in Gauteng tot onder 50% daal, sal die party nie baie keuses hê nie en sal hy “harde en moeilike” besluite moet neem oor met wie hy moet saamwerk.

Moontlike koalisievennote sluit in kleiner partye soos die AIC, APC, PAC of Azapo.

Ebrahim Fakir reken as daar ’n 70%-stemopkoms is, dit waarskynlik sal wees dat die ANC net-net sal deurskuur in Gauteng met 51% van die steun

“Die ander opsie is dat hulle met die EFF in koalisie kan gaan, maar ons weet wat dit beteken – allerhande toegewings oor kontrakte, tenders, staatsaankope, ensovoorts. Dit sal afhang van wat die EFF van die ANC op nasionale vlak en in die provinsies wil hê.

“Die beter opsie vir die volhoubaarheid van die land – dit is ’n ongewilde een, maar noodsaaklik om te oorweeg – is ’n deel van die ANC saam met ’n deel van die DA, maar ek weet nie of dit gaan werk of nie,” sê Fakir.

Die Wes-Kaap is volgens Fakir meer onvoorspelbaar.

“Die DA sal moet staatmaak op ’n soliede stemopkoms. Soveel as wat ons wil beweer die EFF-kieser is stamgebonde, is die DA-kieser net so stamgebonde. In 2016 – weens die manier waarop die stelsel saamgestel was – was die stemopkoms in voorstede meer as 70% en 80% wat amper eksklusief DA gestem het. Townships het ’n meer interessante variasie en verspreiding van kiesersteun. Daarom sal die DA in die Wes-Kaap, soos die ANC, swaar steun op die stemopkoms. Die opkoms sal dus die bepalende faktor van die verkiesing wees, soos ek glo dit in elke verkiesing is.”

Die DA-kieser is volgens Fakir egter oor vyf faktore ontmoedig. “Die eerste is die persepsie van Mmusi Maimane, DA-leier en swak leierskap. Dit druis egter in teen die bewyse omdat Maimane groei in die party bewerkstellig het en metro’s gewen het; daar is die voorkoms van identiteitspolitiek in die DA; sommige DA-kiesers mag na regs skuif of na ander partye, en hulle mag dalk dink die ANC onder Ramaphosa is ’n goeie opsie.

“Hulle het ook ’n relatief “lae profiel”-premierskandidaat in die Wes-Kaap (Alan Winde), so geen wonder ons kry nou geoutomatiseerde foonoproepe van Helen Zille nie. Die lae profiel van die kandidaat maak saak, veral as jy te staan kom teen iemand soos pres. Cyril Ramaphosa.

“As ons die stemopkoms vat met inkrementele skuiwe na ander partye; die impak van Ramaforia en die feit dat die DA ’n hoë opkoms nodig het – gegrond op ’n stemopkoms van 72% – is dit waarskynlik dat die DA die Wes-Kaap, soos die ANC in Gauteng, naelskraap met 52%, 53% kan behou.”

Prof. Cherrel Africa van die departement van politieke studies aan die UWK wou nie voorspelling waag oor die verkiesingsuitslag in die Wes-Kaap nie, maar sê gegrond op tendense is dit nie ’n uitgemaakte saak dat die DA sy dominansie in die provinsie sal behou nie. “Hulle het die massiewe stryd met Patricia de Lille gehad, en die manier waarop hulle die droogte bestuur het . . . daar is ook teenstrydige boodskappe en hul veldtog teen kleiner partye.

“Hul plakkate lui dat die ANC en die EFF uit die regering gehou moet word, maar die punt is gemaak dat hulle die party is wat met die EFF saamwerk.”

Volgens Africa dit is onwaarskynlik dat die ANC die meeste van die stemme in die Wes-Kaap sal wen. Die Good-party van De Lille sal ’n impak hê, maar dit is moeilik om te voorspel hoe groot dié impak sal wees.

Meer oor:  Verkiesing 2019  |  Da  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.