Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing 2019
Ouer mense steeds hoopvol, jeug staan apaties
”Ek voel steeds dat dinge vorentoe gaan verbeter en dit is juis hoekom ek vandag vroeg opgestaan het om te kom stem,” sê Miles Ramsay. Foto: Werner Beukes

Duisende Suid-Afrikaners het Woensdag stembusse besoek om vir hul onderskeie politieke partye te stem, maar nie almal het ’n gevoel van opwinding vir Suid-Afrika se sesde demokratiese verkiesing sedert apartheid gedeel nie.

Hunter Kennedy, ’n jarelange inwoner van Muldersdrift, het douvoordag bewend afgeloop by die effense afdraande wat lei na die stemlokaal by die Lesego Primary School in dié gebied aan die Wes-Rand, om sy kruisie te gaan trek.

“Ek het nog hoop vir die toekoms van ons land,” sê Hunter Kennedy voordat hy by die Lesego Primary School in Muldersdrift gestem het. Foto: Werner Beukes
Glad nie geesdriftig oor die verkiesing nie. Van links is Saheed Page, Mike Khumalo en Muhhamed Charkile van Florida.Foto: Werner Beukes

“Ek bewe, maar glo my dit is nie van opwinding nie,” skerts Kennedy, wat nie sy ouderdom wou gee nie, in die verbygaan.

“Ek het nog hoop vir die toekoms van ons land. Ek is geneig om eerder na die dade van die politieke partye te kyk, en nie soseer te veel aandag aan al hul praatjies te gee nie,” sê Kennedy voordat hy by die kleinerige lokaal inloop om te stem.

“Dit is nie net altyd die jong generasie wat die voorreg en geleentheid van vryheid uitleef nie, maar ook die oues van dae,” sê Miles Ramsay (67), wat met sy groen identiteitsboek een van die eerste kiesers was wat by die Lesego Primary School in die tou gestaan het.

“As jy my ouderdom bereik is elke geleentheid wat jy kan stem, ’n spesiale voorreg. Ondanks die algehele gevoel van wantroue teenoor politici in die land, die hoë werkloosheidsyfer en die verwoesting wat staatskorrupsie saai, voel ek steeds dat dinge gaan vorentoe verbeter en dit is hoekom ek vandag vroeg opgestaan het om te kom stem,” sê Ramsay.

Kiesers staan tou by Steynsvlei in Muldersdrift aan die Wes-Rand om hul kruisies te trek. Nie almal het ’n gevoel van opwinding vir die land se sesde demokratiese verkiesing sedert apartheid gedeel nie. Foto: Werner Beukes

“Jonk of oud – deur jou kruisie te trek, glo ek, kan ’n mens steeds ’n verskil maak,” sê Valerie McDaniel (80) van Roodepoort wat met die hulp van haar seun, James, in ’n rolstoel by die stempunt by die Laerskool Die Ruiter neffens ’n nywerheidsgebied haar kruisie kon trek.

McDaniel is hoopvol dat haar 51-jarige seun, wat sedert 2016 nie ’n vaste betrekking kon kry nie, weer binnekort in die arbeidsmark opgeneem sal word.

James McDaniel help sy ma, Valerie, by die stempunt by die Laerskool Die Ruiter in Roodepoort.Foto: Werner Beukes

“Die persepsie dat bejaardes baie moeiliker geneë is om nuwe grense oor te steek, is verkeerd. Ek dink ons kan ook by veranderende omstandighede aanpas. Ek kan aan min ander lande dink waar mense met soveel vreugde stem,” sê McDaniel.

Muhhamed Charkile (19) van Florida deel nie McDaniel se geesdrif nie.

“Kyk na die onreg en korrupsie. Hoekom moet ek as ’n jong mens stem vir politici wat sonder om te skroom geld in hul eie sak steek terwyl die kwesbares in die gemeenskap ly. Waar is leiers wat simpatie het met die probleme in die samelewing?”

James McDaniel saam met sy ma, Valerie, by die stempunt by die Laerskool Die Ruiter in Roodepoort.Foto: Werner Beukes

Terwyl hy praat, sit Charkile saam met sy boesemvriende Saheed Page en Mike Khumalo (ook 19 jaar oud) op ’n vuil bankie langs die Florida-meer en rook terwyl ’n lang tou kiesers ’n klipgooi van hulle af by die Moths-saal in die koue windjie wag om te stem.

“Daar is wel geleenthede om jouself ekonomies te bemagtig, maar werkloosheid is vir die meeste jong mense daagliks steeds ’n ongemaklike realiteit. Dit beteken dat ons as die jonger generasie by die ekonomie uitgesluit voel. Dit is waarom ek nie stem nie,” sê Khumalo.

“Ek dink baie van ons weet nie meer wat om te glo nie,” sê Page.

“Baie sê hulle glo dinge sal verander omdat dit is wat hul ouers hulle vertel. En dis al hoekom.”

Meer oor:  Verkiesing  |  Verkiesing 2019  |  Stemme  |  Stemdag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.