Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing 2019
OVK kies wéér kant vir die BLF

Die Verkiesingskommissie (OVK) het die VF Plus se appèlaansoek van die hand gewys om Black First Land First (BLF) se registrasie as party nietig te laat verklaar. Wouter Wessels, VF Plus-LP, sê sy party het nou geen ander keuse as om weer die kieshof te nader nie.

Andile Mngxitama, BLF-leier, by ’n verkiesingsgeleentheid van sy party in Soweto.foto: rosetta Msimango

Die VF Plus het op 18 Maart stappe aangekondig om die BLF te keer om aan die verkiesing op 8 Mei deel te neem omdat die party se grondwet bepaal dat wit mense nie lede van dié party mag wees nie. Hierdie hofaansoek moes egter op 29 Maart teruggetrek word omdat die VF Plus regtens eers die besluit van die OVK se hoofkiesbeampte om die BLF te registreer op appèl moes neem by die OVK self.

Dit is hierdie appèl wat nou van die hand gewys is. Die OVK betoog dat die VF Plus kragtens art. 16 van die Kieswet 14 dae gehad het om te appelleer teen die BLF se aansoek om as party te registreer, wat op 27 Mei 2016 in die Staatskoerant gepubliseer is.

Die BLF se aansoek om registrasie is op 10 Junie 2016 goedgekeur, waarna daar 30 dae vir besware was.

‘Die OVK gryp in ’n groot mate nou na strooihalms.'

Volgens die OVK is geen besware ontvang nie en is die BLF op 8 September 2016 as ’n party geregistreer.

“Die besware teen die (BLF se) grondwet dat dit lede uitsluit op grond van ras moes aangeteken word toe BLF kennis gegee het van sy aansoek in die Staatskoerant,” lui ’n brief van Glen Mashinini, OVK-voorsitter, aan Wessels.

Mashinini voer verder aan dat om die BLF nou van die stembrief te verwyder ernstige gevolge sal inhou vir die OVK se vermoë om ’n “vreedsame, vry en regverdige” verkiesing te hou.

Volgens Wessels het die OVK hom glad nie bemoei met die meriete van die VF Plus se saak dat BLF die Kieswet oortree deur lede op grond van ras uit te sluit nie.

Die VF Plus gaan nou in die kieshof aanvoer dat die hoofkiesbeampte sy plig versuim het en “nooit sy besluit om die BLF te registreer in die Staatskoerant gepubliseer het nie”.

Wouter Wessels, VF Plus-LP.

Volgens die Kieswet moet die hoofkiesbeampte die registrasie van ’n party in die Staatskoerant publiseer, waarna besware vir 30 dae ontvang word.

Die OVK het erken dat die BLF se registrasie as party nog nie in die Staatskoerant gepubliseer is nie. Hy is wel in die proses om die name van al die geregistreerde partye te publiseer.

Maar volgens Wessels moes die hoofkiesbeampte die besluit om ’n party te registreer in die Staatskoerant gepubliseer het sodat appèl daarteen aangeteken kon word.

“Die OVK gryp in ’n groot mate nou na strooihalms,” sê Wessels.

Volgens die Verkiesingskommissiewet mag politieke partye nie geregistreer word as hulle sekere mense nie sal toelaat as lede op grond van ras nie.

Andile Mngxitama, BLF-leier, hou vol dat sy party nie vir wit mense is nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.