Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing 2019
President se inhuldiging op Loftus ‘sal R120 m. kos’

Die presidensiële inhuldigingseremonie wat ná die verkiesings op 8 Mei in die Loftus Versfeld-stadion in Pretoria gehou sal word, gaan die belastingbetaler volgens die DA ’n allemintige R120 miljoen kos.

John Steenhuisen, DA-hoofsweep, het Donderdag op ’n mediakonferensie by die parlement bevestig dat bogenoemde bedrag die totale koste van die glansryke seremonie sal wees wat vir 25 Mei beplan word.

John Steenhuisen. Foto: Lindile Mbontsi

Die seremonie word gewoonlik ná algemene verkiesings by die Uniegebou gehou, maar sal vanjaar by die stadion plaasvind.

Pres. Cyril Ramaphosa se kantoor het vroeër in ’n verklaring gesê dat dit vanjaar na die stadion verskuif is omdat dit groter openbare deelname aan hierdie belangrike nasionale gebeurtenis sal toelaat.

Benewens die publiek sal die seremonie bygewoon word deur verskeie staatshoofde, godsdiensleiers, politieke partye en verteenwoordigers van streeks-, kontinentale en internasionale organisasies.

Volgens Steenhuisen het die DA uitgevind dat dit die publiek altesaam R120 miljoen sal kos.

“Hierdie oormatige onderneming is ook moedswillig omdat die ANC aanneem dat hy op 8 Mei (as die regerende party) herverkies sal word, wanneer dit nie die geval mag wees nie. Suid-Afrikaners moet nog gaan stem en dit word eers oor 12 dae gedoen.”

Steenhuisen het bygevoeg dat hoewel die publiek deel moet wees van ’n president se inhuldiging, is dit “gewetenloos” dat die presidensie honderde miljoene rande daaraan wil bestee en mense na die geleentheid wil aanry terwyl die land in ’n finansiële penarie verkeer.

“Wat nog meer verstommend is, is dat die presidensie die provinsies opdrag gegee het om elkeen 2 000 munisipale afgevaardigdes te stuur om die stadion vol te maak. Die presidensie het opdrag gegee dat die koste om die afgevaardigdes na Pretoria te vervoer, ook deur die reeds sukkelende munisipaliteite gedra moet word. Dit alleen kan op sowat R2 miljoen neerkom.”

Om sy punt te staaf het Steenhuisen ’n skriftelike opdrag van die Limpopo-regering aan plaaslike munisipaliteite daar in hierdie verband aan joernaliste gewys.

Volgens hom moet munisipaliteite basiese dienste aan Suid-Afrikaners lewer en nie betaal om afgevaardigdes na politieke geleenthede aan te ry nie.

“Dit is ongelooflik onverantwoordelik vir die presidensie om geld wat gebruik kon word om slaggate te herstel en water en sanitasie aan gemeenskappe te lewer, te herlei om in wese ’n skare vir die inhuldiging te huur.”

Hy meen dit kom ook nadat die nasionale tesourie ’n versoek van die parlement vir ’n begroting van R60,6 miljoen vir die inhuldiging- en induksieprogram van die 400 nuwe LP’s ná die 8 Mei-verkiesing weens kostebesparingsmaatreëls afgekeur het. Die parlement het nou net R8,4 miljoen beskikbaar vir dié program.

“Toe die vyfde parlement ontbind het, is politieke partye ingelig dat die koste vir die 2019- presidensiële inhuldiging en die amptelike parlementsopening tot ’n minimum beperk sal word gegewe die desperate finansiële toestand waarin ons onsself ná 25 jaar van ANC-bewind bevind,” sê Steenhuisen.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.