Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing 2019
Pretorianers sê hul sê oor verkiesing

Pretorianers het uiteenlopende menings oor die komende verkiesing op 8 Mei.

Netwerk24 het ’n paar mense in die strate van Hatfield voorgekeer en aan elkeen drie vrae gevra:

* Gaan jy stem?

* Waarom of waarom nie?

* Wat is jou wens vir Suid-Afrika ná die verkiesing?

Butana Mboniswa. Foto: Deaan Vivier

Butana Mboniswa gaan stem.

“Dit is belangrik dat elke burger daardie reg uitoefen. Hulle moet dit nie aan ander mense oorlaat om te besluit wat hulle wil hê nie.”

Hy is hoopvol dat armoede en korrupsie aandag sal kry.

Musi Mangangi. Foto: Deaan Vivier

Musa Mangangi gaan ook sy kruisie trek.

“Die regering as geheel moet verander. Ons doen dieselfde ding die afgelope 20 jaar en ek dink dit is tyd dat ons ’n ander perspektief kry.”

Sy droom vir Suid-Afrika is dat almal ’n werk kry en die geleentheid het om van ’n jong ouderdom af nuwe vaardighede te leer, “eerder as ’n onderwysstelsel wat jou net deur die stelsel sit en niks verander nie”.

Rehandre Landman. Foto: Deaan Vivier

Rehandre Landman gaan nie aan die verkiesing deelneem nie.

“Ongeag watter politieke party aan bewind is, bly die maatskaplike samestelling dieselfde. Leierskap en stedelike transformasie is een van die dinge waarby ek betrokke is.”

Hy verduidelik dat Arcadia, wat aan Hatfield grens, voor 1994 dieselfde reputasie gehad as wat dit nou het.

“Daar was egter wit mense. Dus het die maatskaplike samestelling verander – swart mense het by die buurt ingetrek en wit mense het uitgetrek, maar dit het steeds dieselfde probleme onder ’n ander regering.

“Toe die regering in Pretoria verander het van die ANC na die DA, het daar steeds niks in daardie omgewing verander nie. Ongeag die politieke party in beheer – dinge bly dieselfde.”

Tshegofatjo Kutumela. Foto: Deaan Vivier

Tshegofatjo Kutumela sal die oggend van die verkiesing besluit of hy gaan stem of nie.

“Ek sien nie ’n rede vir my om te stem nie. Die politieke partye sê gewoonlik dieselfde goed, maar niks kom van hul beloftes nie.”

Volgens hom bly die onderwysstelsel onveranderd, al daal die matriekslaagsyfer. Dit is nie maklik om by ’n universiteit aanvaar te word of ’n werk te kry nie.

“Net tyd sal leer of verbeteringe aangebring word of nie.”

Sy wens is dat die onderwys sal verbeter, veral in die plaaslike gebiede waar daar ’n tekort aan onderwysers is.

Melissa Ndlovu. Foto: Deaan Vivier

Melissa Ndlovu is opgewonde om vir die eerste keer te stem.

“Al verander dinge nie, glo ek dit kan ’n verskil maak.”

Sy hoop Suid-Afrika sal ná die verkiesing ’n verenigde land wees.

Sandy Lebese. Foto: Deaan Vivier

Sandy Lebese sê hy gaan “definitief” in die opkomende verkiesing stem.

“Ons het ’n baie goeie president (Cyril Ramaphosa) wat baie hard daaraan werk om die mense van Suid-Afrika te verenig. Ek het die volste vertroue in hom. Ek wil ’n beter, verenigde Suid-Afrika hê. Ons ekonomie in die land sal verbeter vanweë die president wat ons nou het.”

Dit is ook die eerste keer dat Ané de Beer haar kruisie sal trek om ’n verskil aan die land se toekoms te maak.

“Ek wil hê daar moet ’n beter leierstruktuur wees sodat daar meer op die jeug se opvoeding gefokus word. Ons land se grootste probleem is oorbevolking en mense is nie opgevoed genoeg om te weet wat aangaan nie.”

Rebecca Martin. Foto: Deaan Vivier

Rebecca Martin gaan ook vir die eerste keer stem.

“Ek voel almal moet stem. Dit is ’n belangrike ding in Suid-Afrika en dit help om verandering te bring.”

Haar wens vir Suid-Afrika is dat die korrupsie iets van die verlede sal wees met ’n nuwe persoon aan bewind.

“Rassisme is ’n groot probleem in Suid-Afrika, so ek hoop dit is nie so erg in die toekoms nie.”

Meer oor:  Pretoria  |  Verkiesing 2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.