Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing 2019
OORSIG: Vroeë uitslae nie gunstig vir DA in Schweizer-Reneke

Die groot wag vir die uitslae het begin. Volg Netwerk24 se regstreekse dekking hier namate die verkiesingsuitslae bekend gemaak word. Ons gaan dekking deur die nag verskaf asook oor die volgende paar dae.

Tot dusver:

  • Kommer is uitgespreek oor die geldigheid van die verkiesing nadat minstens twee gevalle genoem is waar kiesers twee keer gestem het.
  • Die OVK sê die integriteit van die uitslag is nie in die gedrang nie.
  • Die DA het 'n regspan op 'n gereedheidsgrondslag geplaas hangende gesprekke tussen ringkoppe in die party oor die regverdigheid van die verkiesing.
  • Vyf stemlokale kon weens onrus nie geopen word nie. Die sluit in drie lokale in die Inkosi Langalibalele-munisipaliteit in KwaZulu-Natal, die Buffalo City-metro in die Oos-Kaap en die Ntabankulu-munisipaliteit, ook in dié provinsie.

09 Mei 04:06:35

Wes-Kaap

Die DA het het net voor 04:00 al meer as 100 000 stemme in die Wes-Kaap oortref.

Die party loop voor met 104 713 stemme (61%). Tans is die uitslae van 254 kiesdistrikte (16%) al bekend en word die stemopkoms op 62,9% bepaal.

In 2014 het die Wes-Kaap 'n stemopkoms van 72,7% behaal.

Die ANC is tweede met 37 882 stemme, oftewel 22%.

Good is derde met 6 656 stemme (3,8%).

Die Kaapse Party het ook tans meer stemme as Cope, met 664 stemme (0,39%) teenoor Cope se 614 stemme (0,36%).

09 Mei 03:51:10

Oos-Kaap

Die ANC het teen 03:45 loshande in die Oos-Kaap voorgeloop. Van die 126 899 geldige stemme wat bekend gemaak is, het die ANC 90 634 (71%), die DA 20 497 (16%), die EFF 7 564 (6%) en die UDM 2 295 (2%) gekry. In die vorige algemene verkiesing het die ANC meer as tweederdes van die steun in die provinsie gekry.

09 Mei 03:42:01

Mangaung

In Mangaung, die munisipaliteit waaronder Bloemfontein val, het die ANC teen 03:30 voorgeloop met 4 347 (61%) van die stemme. Die regerende party is gevolg deur die DA met 1 428 (20%) van die stemme en die EFF met 841 (12%). Die DA het ’n groot deel van sy veldtog op dié gebied toegespits en hoop om sy steun hier te laat groei. Die DA het in die vorige algemene verkiesing 21% van die stemme op hom verenig.

09 Mei 03:25:24

Wes-Kaap

Elkeen van die topses partye in die Wes-Kaap het teen 03:15 beter gevaar as in 2014, behalwe die ANC.

Met 12,9% van die kiesdistrikte se uitslae wat al uitgereik is, het die DA gelei met 77 918 stemme, oftewel 60,2%. In 2014 het die party 59,3% behaal.

Die ANC het 29 775 stemme (23%) gehad teenoor 32,8% in 2014.

In sy eerste verkiesing is Good derde met 5 043 stemme (3,9%).

Die ACDP is vierde met 3 934 stemme (3,04%), teenoor 1,02% in 2014.

Die EFF het gedaal tot die vyfde plek met 3 764 stemme (2,9%), teenoor 2,1%  in 2014.

Die VF Plus is sesde met 2 654 stemme oftewel 2,05%, teenoor 0,5% in 2014.

09 Mei 03:17:10

Gauteng

Nadat die DA vroeër die oggend in Gauteng voorgeloop het, het die ANC teen 03:00 die meerderheid van die 19 796 geldige stemme wat bekend gemaak is op hom verenig. 

Die ANC het 8 506 (43%), die DA 5 592 (28%), die EFF 2 641 (13%) en die VF Plus 1 742 (9%) van die stemme gekry. 

In die vorige algemene verkiesing kon die VF Plus net 1,2% van die stemme in Gauteng kry.

Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, het vroeër gesê Gauteng en die Wes-Kaap is die provinsies waar hy vanjaar die meeste groei verwag. Die party wil vanjaar meer as ’n miljoen stemme oor die land heen op hom verenig.

09 Mei 03:13:33

Hoe werk die proses nou?

Kiesbeamptes het begin tel die oomblik wat die laaste kruisie by stemlokale getrek is. Elke brief moet nagegaan word om seker te maak dit het 'n stempel om vervalste briewe uit te skakel.

Die stemme word by die betrokke stemlokale self getel. Die bedorwe stemme word eenkant gesit en daarna word die geldige stemme uitgesorteer volgens elke party.

Die uitslae word dan in 'n dokument neergepen en 'n afskrif word aan die OVK se munisipale kantoor verskaf. Dit word dan elektronies aangeteken. 

En dan begin die proses van voor af! Eers as die eerste vaslegging se syfers met die tweede vaslegging klop, aanvaar die stelsel die resultate.

Hierna word die syfers geoudit alvorens die finale uitslag bevestig word.

09 Mei 03:02:22

Nasionaal

Donderdag teen 03:00 was nog net 5,27% van die stemme in die nasionale verkiesing getel. Tans het die ANC 49,47% van die stemme op hom verenig, teenoor die DA se 31,86% en die EFF se 6,33%. Die ANC het 156 421 stemme gehad, die DA 100 733 en die EFF 20 023.

09 Mei 02:56:42

Limpopo

Teen 02:40 was daar 4 153 geldige stemme in Limpopo getel, waarvan die ANC 2 048 (49%), die DA 944 (23%), die VF Plus 695 (17%) en die EFF 351 (8%) van die stemme gekry het. 

Limpopo is een van die provinsies waar die DA hoop om ’n groot hoeveelheid steun by te kry.

Meer oor:  Stembriewe  |  Verkiesing2019  |  Ovk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.