Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing 2019
SA se probleme begin vóór apartheid - Mpofu
Dali Mpofu, voorsitter van die EFF, Vrydag by Unisa aan die woord op ‘n debat oor die algemene verkiesing op 8 Mei. Foto: Sarel van der Walt

Kolonialiste het destyds grond van swart Suid-Afrikaners afgeneem omdat hulle geweet het grond is nodig om die ekonomie te bou, sê adv. Dali Mpofu, voorsitter van die EFF.

Hy het Vrydag in Pretoria op ’n verkiesingsdebat van Unisa se departement politieke wetenskap gesê Suid-Afrika se probleme is “struktureel, histories en fundamenteel”.

Die land se probleme kom al van voor die dae van apartheid af. Dit het begin toe die kolonialiste destyds swart Suid-Afrikaners se grond op gewelddadige wyse begin afvat, sê Mpofu.

“Hulle het ons grond gevat omdat hulle besef het as jy die ekonomie wil laat groei, het jy grond nodig.

“Van die ander partye sê nou ons moenie wette nie, maar die vryemarkstelsel gebruik om die probleme met grond op te los. Hulle sê niks daaroor dat die staat in die apartheidsera en voor dit as instrument gebruik is om mense te verdruk nie,” sê Mpofu.

“Die grond in die land moet deur almal gedeel word.”

Die grond in die land moet deur almal gedeel word.

Mpofu sê die groot fout wat die ander politieke partye in die land maak, is dat hulle nie weet hoe om die land se probleme te diagnoseer nie.

“Enige goeie dokter sal vir jou sê jy moet eers die probleem diagnoseer voordat jy met die pasiënt se behandeling kan begin. Behalwe vir die diagnose, moet jy ook die regte medisyne en behandeling voorskryf.

“Die EFF weet wat dié probleme is en hy stippel in sy omvangryke verkiesingsmanifes duidelik uit watter behandeling nodig is,” het Mpofu gesê.

“Dit is waarom grond en werkskepping die deurlopende tema in ons verkiesingsmanifes is.”

’n Groep EFF-ondersteuners in die gehoor het adv. Anton Alberts, die VF Plus se premierskandidaat, gekoggel toe hy gesê die staat het genoeg grond vir grondhervorming beskikbaar. Dit is dus nie nodig om grond sonder vergoeding te onteien nie, het Alberts gesê.

“Sowat 90% van die grond wat vir grondhervorming onteien is, is nog in die hande van die staat,” het hy bygevoeg.

Alberts het gesê die VF Plus meen hy het ’n konstruktiewe rol te speel in koalisievorming ná die algemene verkiesing op 8 Mei.

“Die partye wat deel van sulke koalisies word, moet in belang van die land optree en geen party mag die ander as gyselaar hou nie.”

Refiloe Ntsekhe (DA), ’n lid van die Gautengse wetgewer, het gesê werkloosheid is een van die grootste uitdagings waardeur die land in die gesig gestaar word. “Sowat 10 miljoen Suid-Afrikaners het nie werk nie. Dit tas hul menswaardigheid aan en dit moet herstel word.”

Sy stem ook saam die staat genoeg grond het wat hy vir grondhervorming beskikbaar kan stel.

“Hoekom is die begroting vir die beskerming van baie belangrike mense groter as dié vir grondhervorming,” wou sy weet.

Alvin Botes (ANC) het gesê die ANC het die laaste 25 jaar baie gedoen om die lot van die meeste Suid-Afrikaners te verbeter en sal daarmee voortgaan. “Ons doel is om oor die volgende vyf jaar 275 000 nuwe werksgeleenthede per jaar te skep.”

Ongelykheid het die afgelope 25 jaar onder die ANC toegeneem.

Bantu Holomisa, die UDM-leier, het gesê vir die UDM is die etiek van goeie regering baie belangrik.

“Ongelykheid het die afgelope 25 jaar onder die ANC toegeneem.”

Holomisa sê die stelsel van provinsiale regerings is niks meer nie as die “verheerliking van die ou tuislandstelsel”.

“Is dit regtig nodig dat daar byvoorbeeld tien ministers van onderwys in die land moet wees?”

Meer oor:  Verkiesing 2019  |  Verkiesingsdebat  |  Dali Mpofu
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.