Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing 2019
Schweizer straf die DA

Die dag toe die DA met die onderwyseres Elana Barkhuizen “begin sukkel het”, was die dag toe dié party se steun op Schweizer-Reneke by die agterdeur uit is.

Coenraad Herbst, die DA-raadslid van Schweizer-Reneke, sê die rasseherrie by die dorp se laerskool was een van die redes hoekom hy omtrent al sy Afrikaanse kiesers verloor het. Foto: Elizabeth Sejake

Die DA het Woensdag 760 stemme (of 53%) van hul steun op dié dorp in Noordwes verloor, ’n feit wat baie inwoners direk toeskryf aan die manier waarop die party die hele kwessie oor Barkhuizen se beweerde rassistiese optrede gehanteer het.

Boonop, sê Coenraad Herbst, die plaaslike DA-raadslid, het sy party alle waarskuwings dat kiesers op die dorp boos is oor die gebeure in die wind geslaan. Die gevolg is dat kiesers Woensdag die party swaar gestraf het.

Die dorp het in Januarie vanjaar, enkele dae nadat die skooljaar begin het, amper in vlamme opgegaan nadat die DA se jeugleier in die provinsie, Luyolo Mphithi, ’n foto versprei het waarop vier swart gr. 1-leerlinge apart van hul wit klasmaatjies sit. Die foto is vroeër deur die onderwyseres Elana Barkhuizen op ’n WhatsApp-groep aan ouers versprei om hulle gerus te stel oor hul kinders se welstand op die eerste skooldag. Barkhuizen het die foto geneem in haar kollega Elsabé Olivier se klas. Die onderwysers het later verduidelik dat kinders wat dieselfde huistaal praat aanvanklik saamgegroepeer is. Gou het daar ook ander foto’s uit dieselfde klas op sosiale media die ronde gedoen waar wit en swart kinders saam sit.

‘Hierdieis juis ’n blanke bar.'

Barkhuizen is bykans onmiddellik deur die provinsiale onderwysdepartement geskors. Die skorsing is later as onregmatig opgehef omdat Barkhuizen nie ’n werknemer van die departement is nie – sy is deur die skoolbeheerliggaam aangestel.

Om sout in die wonde te vryf, het die DA-leier, Mmusi Maimane, Mphithi se optrede verdedig, terwyl die vakbond Solidariteit suksesvol in die howe geveg het om Barkhuizen se skorsing opgehef te kry. Maimane het Mphithi as ’n “slagoffer” beskryf omdat mense in die dorp hom sleggesê het. Dit het veral wit inwoners net verder die josie in gemaak.

Tiaan Brand, wat in die omgewing boer, sê “almal wat hy ken” het ná afloop van dié gebeure na die VF Plus oorgeloop.

“Vandat daardie jeugleier met die skool gaan sukkel het, het hulle tot vandag toe nog nie eens vir die gemeenskap jammer gesê nie. Ons voel verraai.”

Herbst, die DA se plaaslike raadslid, sê egter ’n hele paar faktore het saamgespan.

“Mense was al klaar gefrustreerd . . . Daar was al klaar probleme met grondonteiening, droogte en geld. Vir vyf maande het die hele dorp nie eens water gehad nie.

“Toe hierdie rasseherrie losbars, was dit net petrol op die vuur. Die EFF het by die skool gaan toi-toi en rubberbande verbrand. Dit was chaoties.”

Hy sê hy is al 20 jaar lank betrokke by die politiek. “Ek gee baie om vir my mense en vir my gemeenskap. Maar ons veldtog was baie meer nasionaal gemik. Ons het meer na die hele land se kwessies gekyk, eerder as net Schweizer. Hulle (die DA se nasionale leiers) wou nie luister nie. Maar wag, ek gaan nie daaroor praat nie. Ons sal ons mense terugkry. Ons sal beter raak.”

Ook by die plaaslike gholfklub – waar wit en swart vroeër vanjaar sáám vergader het om die krisis op hul dorp te bespreek – is inwoners baie suur vir die DA.

“Mannetjie, ’n ou soos jy moet maar eerder hier f**of,” sê ’n man wat in die kroeg kuier.

“Jy weet mos die DA is net daar vir k*****s. Hierdie is juis ’n blanke bar.”

Nico Killian, die plaaslike VF Plus-raadslid, sê egter die Barkhuizen-geval was nie die belangrikste rede vir sy party se sterk seun nie. (Die VF-Plus het 415 stemme bygekry in dié verkiesing, ’n verbetering van 91% op 2014 se uitslae). “Die DA is besig om afwesig te raak met Afrikaans. Mense hou nie daarvan nie. Dinge raak al hoe meer net Engels aan daardie kant. Dis wat my trots maak. Die Afrikaanse stem het Woensdag die hardste gestem by ons,” sê hy.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie, het hierdie week gesê die onderwysdepartement se ondersoek na Barkhuizen en haar kollegas se “rassistiese gedrag” het intussen ’n stille dood gesterf.

“Daar was te veel ander prioriteite om met die ondersoek aan te gaan. Die politieke realiteit het ingewandel,” sê Klopper.

  * Lees ook die voormalige DA-leier Helen Zille se striemende kritiek op die DA se hantering van die gebeure op Schweizer-Reneke in Weekliks.

Meer oor:  Elana Barkhuizen  |  Schwei­Zer-Reneke  |  Verkiesing 2019  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.