Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing 2019
Só het Cyril die ANC gered

Die Ramaphosa-faktor en verdeelde stemme het ’n groot rol gespeel in sy party se vertoning, berig Jan de Lange.

Kiesers staan tou by die Brazzaville-informele ned
Kiesers staan tou by die Brazzaville-informele nedersetting in Pretoria op stemdag. Foto: Lefty Shivambu

Die finale uitslae van Woensdag se verkiesing wys onomstootlik dat die Ramaphosa-faktor ’n reuse-rol gespeel het om te verseker dat die ANC sy meerderheid in die parlement behou.

Selfs in sogenaamde Afrikaner-vestings in Pretoria, Johannesburg en die Wes-Kaap het die aansien van pres. Cyril Ramaphosa ’n wesenlike rol in die ANC se oorwinning gespeel.

Dít blyk duidelik uit die groot getal kiesers wat verdeelde stemme uitgebring het deur op die nasionale stembrief (vir die Nasionale Vergadering) vir een party te stem, maar op die provinsiale stembrief (waarop setels vir provinsiale wetgewers bepaal word) vir ’n ander party.

In die meeste gevalle was dit die DA wat kiesers op nasionale vlak afgestaan het aan die ANC, maar in Limpopo het die Cyril-faktor ook die EFF seergemaak.

Hy’s ook gewild in Afrikaanse buurte.

In dié provinsie het die EFF nasionaal 194 058 stemme gekry maar provinsiaal 205 196, wat beteken dat 11 138 kiesers wat op die provinsiale stembrief vir die EFF gestem het, nasionaal vir die ANC gestem het.

Die grootste verskil wat die verdeelde stem gemaak het, is in Gauteng, waar bykans ’n kwartmiljoen kiesers (243 951) wat op die provinsiale stembrief vir ander partye gestem het, nasionaal ANC gestem het. Van hulle het sowat 40 000 EFF gestem op die provinsiale stembrief en die res vir die DA.

Sonder die ekstra “Ramaphosa-stemme” sou die ANC ook wat nasionale stemme in Gauteng betref ongemaklik naby aan 50% van die stemme gekry het eerder as die 53% wat die party toe ingeoes het.

Die verdeelde stem het ook ’n groot rol gespeel in die Wes-Kaap, waar 70 490 (11,54%) van die kiesers wat vir die DA gestem het op die provinsiale stembrief, nasionaal eerder ANC gestem het.

Die ANC het in dié provinsie 659 546 stemme op hom verenig op die nasionale stembrief, en net 589 056 op die provinsiale stembrief.

Die verskil was ook groot in Limpopo, waar kiesers trots is daarop dat ’n Venda nou die land se president is en waar die ANC 77% van die stemme op die nasionale stembrief verower het.

In dié provinsie het 1 163 091 kiesers op die nasionale stembrief ANC gestem – 6,09% meer as op die provinsiale stembrief, waar die EFF die provinsie se amptelike opposisie in die wetgewer is.

Die Ramaphosa-faktor is regdeur die verkiesingsuitslae sigbaar, maar is die opvallendste in Gauteng en die Wes-Kaap.

Cyril sit hand by in Gauteng...

* In Midvaal, ’n DA-beheerde munisipaliteit, het die ANC 14 623 stemme op nasionale vlak gekry en 13 231 op provinsiale vlak – ’n verskil van 10,5%. Selfs in die Merafong-munisipaliteit, wat uit Carletonville en Fochville bestaan, het die ANC 35 977 nasionale stemme gekry – 7,2% meer as op provinsiale vlak.

* In Tshwane, waar Ramaphosa net meer as ’n week voor die verkiesing ’n groot hoofsaaklik wit gehoor in die Atterbury-teater toegespreek het, het die ANC 439 718 stemme vir die nasionale vergadering gekry – ’n hele 47 783 stemme (12,1%) meer as op provinsiale vlak.

By die stempunt in die Hoërskool Hercules het 322 kiesers nasionaal ANC gestem – 16,6% meer as die 276 provinsiale stemme vir die party.

By die Hoërskool Pretoria-Wes was die verskil nog groter: daar het 1 145 kiesers op die provinsiale stembrief ANC gestem, maar 28,7% meer (1 474 stemme) op die nasionale stembrief.

By die stempunt in die Hoërskool Waterkloof het 175 kiesers op die nasionale stembrief ANC gestem – 19,8% meer as op die provinsiale stembrief.

By die Laerskool Genl. Beyers was die getal nasionale stemme 1 457 – 20,3% meer as wat op die provinsiale brief vir Ramaphosa se party gestem het.

By die Skemervreugde-dienssentrum in Wonderboom-Suid was die nasionale ANC-stemme (169) 29,5% meer as provinsiaal, by die Laerskool Bergsig was die 121 nasionale stemme 25,6% meer as provinsiaal, by die NG kerk Pretoria Tuine-stempunt was die 449 nasionale ANC-stemme 28,7% meer as die provinsiale stemme en in die Pretoria-Stadsaal-stempunt, een van die groter stempunte in Tshwane, het 2 453 kiesers op die nasionale stembrief vir die ANC gestem en 1 676 op die provinsiale lys. Dis 47,7% meer op die nasionale stembrief.

By die stempunt in die Hoërskool Hendrik Verwoerd het die ANC 305 stemme op die nasionale stembrief gekry – 39,9% of 87 stemme meer as op die provinsiale stembrief. Die DA het by hierdie stembus 1 041 op die nasionale stembrief gekry. Dis 76 stemme minder as op die provinsiale lys.

* In Ekurhuleni aan die Oos-Rand het die ANC 497 942 stemme vir die Nasionale Vergadering gekry – 41 540 of 9,1% meer as vir die provinsiale wetgewer.

* En in Emfuleni in die Vaaldriehoek het 83 575 mense nasionaal vir die ANC gestem – 6,7% meer as provinsiaal.

Rapport het ook stempunte in gegoede, tradisioneel Afrikaanssprekende buurte van Johannesburg bestudeer. Ook daar was Ramaphosa gewild.

By die Laerskool Esperanza in Newlands het 556 kiesers nasionaal ANC gestem – 14,8% meer as die 484 provinsiale stemme. En by die Laerskool Fairland in Johannesburg het 384 kiesers nasionaal ANC gestem – 14,6% meer as die 335 provinsiale ANC-stemme.

Die verskil was nóg groter by die stempunt by Northcliff Primary: 698 nasionale ANC-stemme teenoor net 335 provinsiaal.

Nie ver daarvandaan nie, by Northcliff High, was die ANC se 447 stemme op die nasionale stembrief 30,7% meer as die 342 ANC-stemme op die provinsiale stembrief.

By die Hoërskool Linden het 423 kiesers nasionaal ANC gestem – 16,5% meer as op die provinsiale stembrief – en by Blairgowrie Primary was daar 386 nasionale ANC-stemme – 28,2% meer as die party se provinsiale oes.

By Greenside Primary het 551 kiesers op die provinsiale stembrief ANC gestem, maar 781 op die nasionale stembrief. Dis 51,74% meer. Die DA het by dié stempunt 1 816 stemme op die nasionale stembrief gekry – 357 stemme of 19,6% minder as op die provinsiale stembrief.

... en in die Wes-Kaap

* Ramaphosa, wat in April deur die wynmaker Beyers Truter genooi is om boere en sakelui buite Stellenbosch toe te spreek, het ook sy party aangehelp in die Kaap.

In Stellenbosch het die ANC 16 922 stemme op die nasionale stembrief gekry – 2 255 of 15,3% meer as op die provinsiale stembrief.

Die ANC het 27,05% van die nasionale stem gekry en die 24,37% van die provinsiale stem.

In die Overstrand-munisipaliteit het die ANC 20,3% meer stemme op die nasionale lys gekry as op die provinsiale lys en in Saldanha 13,6% meer.

Meer oor:  Cyril Rama­Phosa  |  Verkiesing 2019  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.