Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing 2019
Só misluk DA-droom

Die DA se verlies van byna ’n halfmiljoen stemme in Woensdag se verkiesing is die gevolg van ’n mislukte strategie en dit is duidelik dat ’n klompie van die party se se­nior amptenare se posisies in gedrang is in die soeke na sondebokke.

’n Verslae Mmusi Maimane, DA-leier, Donderdag in P
’n Verslae Mmusi Maimane, DA-leier, Donderdag in Pretoria by die Verkiesingskommissie se nasionale uitslagsentrum toe dit al duidelik was dat sy party geknou is. Foto: Felix Dlangamandla

’n Ontleding van die party se uitslae maak dit duidelik dat die party nie net misluk het in hul pogings om swart kiesers te lok nie, maar ook van hul steun onder minderheidsgroepe prysgegee het – in baie gevalle deur hul aktief te vervreem deur ondeurdagte uitsprake.

Terwyl die ANC net so ’n nagmerrie-dag by die stembus beleef het, kon die DA glad nie munt slaan uit die regerende party se probleme nie. Trouens, pres. Cyril Ramaphosa se gewildheid het die party duur te staan gekom – veral in Gauteng en die Wes-Kaap. ’n Ontleding van stempatrone toon dat tot soveel as 200 000 kiesers provinsiaal vir die DA gestem het, maar nasionaal vir die ANC. In die Wes-Kaap kan die getal tot 70 000 wees (sien hier).

Die keersy van die munt is natuurlik dat, was dit nie vir Ramaphosa se gewildheid nie, die ANC baie swakker sou gevaar het as die 57,5% van die nasionale stem wat dit uiteindelik behaal het. Saam het die EFF en die ANC nou 68,3% van die stemme, slegs 0,2 persentasiepunte minder as in 2014. Dit beteken dat die twee partye steeds sou kon saamstaan om grondwetlike wysigings aan te bring – sou Ramaphosa en Julius Malema gemeenskaplike belange kon vind.

Nie net die Ramaphosa-faktor het die DA hard geslaan nie. Hoewel verreweg die meeste wit en bruin Afrikaanse kiesers steeds DA stem, het veral die VF Plus – maar ook Patricia de Lille se Good-party – DA-steun afgerokkel.

Die DA kon nie munt slaan uit ANC- probleme nie.

Die DA se powere vertoning word in ’n groot mate verbloem deur die feit dat die party se aandeel in die nasionale steun met net 1,4 persentasiepunte gedaal het – van 22,2% in 2014 tot 20,8% vanjaar. Hul skouspelagtige verliese raak eers duidelik as mens na die uitgebragte stemme kyk.

Die DA se 3,6 miljoen stemme landwyd is amper ’n halfmiljoen (472 592) minder as in 2014. In Gauteng, waar die DA groot gewag gemaak het van die feit dat hulle kan help om die ANC tot onder 50% te dwing, het hul strategie skouspelagtig misluk en het die party 197 000 minder stemme op hulle verenig as in 2014.

Die tweede grootste slagting was in die Wes-Kaap, waar 119 000 minder kiesers DA gestem het as in die vorige algemene verkiesing. Verliese in die Oos-Kaap staan op 52 000 en in Noordwes op sowat 30 000. In die Noord-Kaap, waar die DA aspirasies gehad het om die ANC te onttroon, het die party se veldtog ook ’n muis gebaar – ’n netto wins van slegs 282 stemme.

Die enigste provinsie waar die DA sy stemme ’n bietjie kon vermeerder was KwaZulu-Natal – en net met sowat 11 000. Die DA het ook sy posisie as amptelike opposisie in KZN aan die IVP afgestaan en in Mpumalanga aan die EFF.

Die party wat die grootste munt geslaan het uit die DA se power vertoning was die VF Plus, wat sy aantal stemme sedert 2014 met 150% (250 000 stemme) verbeter het tot 414 864. Die VF Plus staan nou amper ewe sterk as wat dit in 1994 onder die leiding van genl. Constand Viljoen was toe ruweg 425 000 vir hulle gestem het. Die VF Plus het die DA in elk van die nege provinsie stemme laat bloei, maar sy grootste winste was in Gauteng, waar die VF Plus 116 398 stemme bygekry het, gevolg deur die Wes-Kaap (36 111).

Die ander afrokkelaar van DA-stemme was Patricia de Lille se Good, wat 3% van die stemme in die Wes-Kaap (61 971) gekry het. Dis egter duidelik dat De Lille se steunbasis streng tot die Wes-Kaap beperk is. Sy kon net sowat 8 500 stemme buite die provinsie inoes. Dis aansienlik minder as die 163 000 wat De Lille se ou party, die OD, in 2009 kon trek.

Die DA se verliese onder bruin kiesers in Mitchells Plain op die Kaapse Vlakte, tradisioneel die party se sterkste basis, was ook aansienlik (sien berig hier).

Die DA se powere vertoning is reeds op die agenda van ’n vergadering van die party se federale dagbestuur môre.

Die lang messe word, volgens Rapport se bronne, egter gebêre vir die volgende vergadering van die federale raad middel Junie, waar leiers vanuit alle streke teenwoordig gaan wees.

Rapport verstaan dat die voorsitter van die federale dagbestuur, James Selfe, en die party se uitvoerende hoof, Paul Boug­hey, gevaar staan om die sondebokke gemaak te word vir die ramp. Hulle sê die party se leier, Mmusi Maimane, sal waarskynlik die slagting oorleef omdat baie glo die party het geen ander alternatief as leier nie.

As die party vir redes soek waarom veral wit Afrikaanse kiesers die party verlaat het, hoef hulle nie verder te soek as peilings wat die afgelope drie maande onder lede van die vakbond Solidariteit en AfriForum gedoen is nie. Die peilings het gewys dat die DA wit kiesers vervreem het met hul hantering van ’n hele paar rassekwessies.

Connie Mulder, hoof van die Solidariteit-navorsingsinstituut, sê steun vir die VF Plus het skielik begin toeneem in Februarie en Maart. In Januarie het die DA-jeugleier Luyolo Mphithi entoesiasties deelgeneem aan beskuldigings van rassisme teen die laerskoolonderwyseres Elana Barkhuizen in Schweizer-Reneke. DA-leiers is deur hul raadslid daar gewaarsku oor skade, maar het nie ag daarop geslaan nie (sien hier).

Dit het “nie goed afgegaan nie”, sê Mulder.

Terselfdertyd het die VF Plus munt geslaan uit die woede oor Steve Hofmeyr se uitsluiting deur DStv deur hom te gebruik in hul radio-advertensies.

Bronne in die DA se binnekring identifiseer nóg redes vir hul verliese.

DA-jeugleiers het onder meer in September 2015 slagspreuke soos “Afrikaans Must Fall” by Tukkies ondersteun. ’n Senior partylid, wat met Rapport gepraat het op voorwaarde dat hy nie geïdentifiseer word nie, sê daar is ook ongelukkigheid omdat die party nooit opgetree het teen DA-aktiviste wat saam met EFF-lede die lied “Kill the Boer, Kill the Farmer” gesing het nie.

“Die Schweizer-Reneke-geval was die laaste strooi,” sê hy.

Nog ’n bron sê die DA is vir jare gesien as ’n party wat die strydbyl opneem vir minderhede.

“Maar as jy begin om op jou eie kernondersteuners te trap en uitsprake teen hulle te maak, dan soek hulle ’n ander heenkome.”

John Moodey, DA-leier in Gauteng, skryf die uittog uit die DA toe aan nasionalisme wat wêreldwyd kop uitsteek. “ ’n Mens sien dit in Europa en Amerika. Dis deel van ’n wêreldtendens.

“Maar daar was ook die gevoel dat sommige Afrikaners nie meer tuis voel in die DA nie en dat ons party nie na hul behoeftes omsien nie. Die oorweldigende meerderheid Afrikaners is egter steeds DA-ondersteuners.”

Mike Moriarty, DA-hoofsweep in die Gautengse wetgewer, sê die “rassistiese retoriek” van die EFF het groot getalle kiesers in die arms van die VF Plus gejaag.

Hy glo nie dat kiesers wat die DA verlaat het rassiste is nie, het hy Saterdag op Facebook geskryf.

“Hulle het in 2016 vir ons gestem. Hulle glo in een Suid-Afrika vir almal. As die party sy basis ignoreer of beledig, kan ons straf by die stembus verwag. Ons moet luister, of ’n slagting in 2021 verwag.”

Ryan Coetzee, voormalige strategiese hoof van die DA se bloeitydperk, het Vrydagaand getwiet die DA se probleme het die afgelope twee tot drie jaar duidelik geword en kan die toekoms van die party kortwiek as dit voortduur.

Hy sê besluitelose leierskap, filosofiese en strategiese onsamehangendheid en ’n algemene gebrek aan dissipline in die party is nog redes vir die slagting. Maimane is hardwerkend en toegewyd, maar sukkel om die party rondom sy besluite te verenig.

“Dit skep ’n vakuum waarin chaos broei,” sê Coetzee.

Maimane het Saterdag gesê die DA sal hard werk om die verlore steun terug te wen.

“Ons is ’n party wat glo een Suid-Afrika is moontlik. Dit is ’n wanopvatting dat wit stemme op die altaar geplaas moet word vir swart stemme. Dis heeltemal vals en onwaar. En enige persoon wat liedere (soos ‘Kill the Boer’) sing, hoort nie in die party nie.”

Moodey, sowel as Athol Trollip, voorsitter van die DA, staan agter Maimane. Albei sê Maimane sal die party deur die munisipale verkiesing van 2021 lei en sy termyn voltooi.

Meer oor:  Mmusi Mai­Mane  |  Verkiesing 2019  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.