Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing 2019
Steek hand in eie boesem, DA

Afrikaanse kiesers het ’n duidelike boodskap aan die DA gestuur en die party behoort mooi te luister wat hulle sê.

Helen Zille

Noudat die stof om die verkiesing gaan lê het, broei die volgende storm: die interpretasie van die uitslae.

Diegene verantwoordelik vir hul onderskeie partye se verkiesingstrategie sal onvermydelik die uitslae probeer rasionaliseer om hul eie ontleding te bevestig (of om hul werk te behou). Dit geld veral vir die twee grootste partye, die ANC en die DA. Albei het Woensdag ’n skok by die stembus gekry en albei behoort ernstige selfondersoek te doen.

Soos altyd is die waarheid moeilik om te vind tussen die spin. Die beste wat ons kan doen, is om so naby as moontlik aan die werklikheid te bly en die (dikwels ongemaklike) waarheid in die gesig te kyk.

Die DA se afname in steun kan hoofsaaklik toegeskryf word aan die verlies van ruim 200 000 stemme aan die VF Plus en ongeveer 50 000 stemme aan die ACDP. Ons (soos die ANC) is ook hard getref deur die relatief lae stempersentasie. Die verskilverhouding was egter sterk in die DA se guns. Dit beteken dat ’n veel hoër persentasie DA-kiesers gaan stem het, vergeleke met ANC-kiesers.

Schweizer-Reneke het ’n duidelike boodskap gestuur.

Die versoeking is natuurlik om die DA se afname in steun toe te skryf daaraan dat ons wit kiesers verloor het omdat ons swart kiesers geteiken het. Trouens, hierdie ontleding word reeds as “vanselfsprekend” aanvaar. In ’n radio-onderhoud wat ek pas gedoen het, was die onderhoudvoerder se vertrekpunt dat die DA ’n prys betaal het omdat hulle “pro-swart” was – wat outomaties beteken dat ons anti-wit was.

Dit is ’n algemene wanopvatting wat selfs deur sommige lede van die DA onderskryf word. In werklikheid is dit presies die teenoorgestelde van dit waarvoor ons staan. Ons is nie ’n “pro-” of “anti-” enige groep nie. Ons wil een Suid-Afrika vir almal hê waar almal hul vryheid kan uitleef om hul lewe te verbeter.

Om daardie kiesers wat die DA verlaat het as “rassenasionaliste” te beskryf wat nie geïnteresseerd is in die bou van ’n enkele nasie nie, is ’n fout, ’n oppervlakkige en gevaarlike lees van die situasie. Die DA is beslis nie “beter af sonder hulle” nie, soos sommige meen. En die uitslag was nie ’n “wen-verlies” (’n winning loss) soos een DA-ontleder dit beskryf het nie (wat dié term ook al beteken).

Schweizer-Reneke in Noordwes is ’n goeie gevallestudie. Hier het die DA elke stemdistrik wat ons voorheen maklik gehou het, verloor. Dit was ongetwyfeld ’n gevolg van die DA se ondeurdagte rassisme gemik op ’n jong wit onderwyseres by die plaaslike skool, gegrond op ’n enkele foto op sosiale media, sonder om onsself van die feite van die saak te vergewis.

Mmusi Maimane in Athlone op stemdag. Foto: Edrea du Toit

As enigiemand hier rassisties was, was dit die DA. En dit was beslis nie in die belang van swart leerlinge nie.

Die DA-kiesers van Schweizer-Reneke het hul stem gebruik om ’n duidelike boodskap te stuur oor die maak van rasgegronde gevolgtrekkings sonder om eers die feite te kry. Hierdie kiesers is nie vir ewig vir ons verlore nie, maar hulle wil hê ons moet by ons waardes bly.

Die DA se boodskap van ’n inklusiewe Suid-Afrika in dié verkiesing was niks nuut nie. Ons het altyd gestaan vir “een nasie, een toekoms” – presies dieselfde boodskap as “Een Suid-Afrika vir almal”. Ons het altyd mense aangemoedig om volgens hul hoop en nie hul vrese nie te stem.

Een van die werklik buitengewone eienskappe van post-apartheid-Suid-Afrika is dat die oorgrote meerderheid wit mense deur hul ondersteuning van die DA bewys het hulle wil deel word van ’n gemeenskaplike samelewing, dat hulle in een Suid-Afrika vir almal glo. Die gewilligheid van die meeste wit mense om die rassenasionalisme van apartheid agter te laat, was ’n belangrike komponent van die oorgang tot demokrasie in Suid-Afrika – en een wat veel groter aandag van historici vereis as wat dit tot dusver ontvang het.

Dieselfde kan gesê word van alle minderhede wat die afgelope 15 jaar hul etniese nasionalistiese partye verlaat het om agter die DA te konsolideer. Dit is ’n enorme bewys van ons vermoë tot nasiebou in ’n komplekse, meervoudige samelewing.

Die afgelope week het ons egter ’n slaggat op dié pad getref.

Dit sou verkeerd wees om ons vertoning aan internasionale tendense toe te skryf in ’n poging om onsself te verontskuldig. Baie ontleders maak reeds foutiewe gevolgtrekkings geskoei op die Trump-verskynsel in Amerika. Suid-Afrikaanse wit mense, voer hulle aan, slaan dieselfde rigting in.

Na my mening was die groot swaai na Trump in Amerika in ’n groot mate ’n reaksie op die uiterste vorm van linkse “identiteitspolitiek” wat soos ’n kwaadaardige gewas van Amerikaanse kampusse na die samelewing in die geheel versprei het. Dis ’n ideologie wat die skuld vir al die probleme van minderhede soek in “witheid” en “wit bevoorregting”.

Die verskuiwing was so diepliggend dat ontleders dit beskryf as ’n belangrike “moreel-kulturele” oorgang. Dit is ’n verskuiwing tot ’n slagoffer-kultuur waar mense voortdurend op soek is na tekens van rassisme, waar jou gevoelens feite troef en waar mense aangemoedig word om op die geringste onbedoelde oortreding met kleinserige verontwaardiging te reageer.

Wit mense word as rassisties aanvaar, tensy hulle hierdie rassistiese filosofie onkrities aanvaar. Dit is die filosofie onderliggend aan die teiken van die Schweizer- Reneke-onderwyseres.

Die DA moet nooit waag om op hierdie rassistiese lawaaiwa te spring nie. Want wie kan mense blameer wat ’n politieke filosofie verwerp wat hul velkleur (wat hulle nie kan verander nie) uitwys as die kernprobleem in die samelewing?

Namate die kanker van identiteitspolitiek geesteswetenskap-fakulteite van hoofsaaklik Engelssprekende Suid-Afrikaanse universiteite, die media en die breër samelewing verlam, word die krimpende wit minderheid in Suid-Afrika steeds meer as “die probleem” geteiken. Dit is nie ’n “progressiewe” diskoers nie. Dit is eerder hoogs retrogressief.

Die eerste les van hierdie verkiesing vir die DA is die belang daarvan om politiek te verwerp wat rasse-identiteit in enige gedaante of vorm verhef bo die gemeenskaplike belange van die land.

Ons werk is om ’n nuwe meerderheid te bou op grond van ’n gemeenskaplike stel waardes onder mense wat een Suid-Afrika vir almal wil hê (anders as byvoorbeeld die EFF wat Suid-Afrika slegs vir een ras wil reserveer).

Ons is ’n party vir mense wat toegewyd is om die ware probleme wat ekonomiese groei, beter onderwys en sosiale vooruitgang in die wiele ry, aan te pak sonder om minderhede die sondebokke te maak.

Dit is misleidend om die kernprobleem in Suid-Afrika in tweeledige terme van “swart armoede” teenoor “wit bevoorregting” te sien.

Die gesig van bevoorregting is in elk geval getransformeer deur die rowers van die ANC-EFF-elite wat die land geplunder het en op die pad rommelhoop toe geplaas het. Die DA moenie hierdie analise help aanblaas nie.

Die DA moet volhard om nie­rassigheid te bevorder (al word dié belangrike waarde nou beskou as “konserwatief” deur die rasse-nasionalistiese aanhangers van identiteitspolitiek). Ons kan nie stilbly as daar dikwels duidelike dubbele standaarde oor rassevraagstukke is nie.

Ons moet ophou om hulp van rassenasionaliste te soek. En in teenstelling met wat sommige ontleders dink, wil die meeste minderhede nie ’n Suid-Afrika net vir hulleself hê nie. Dit sou ’n absoluut sinlose strewe wees. Dié wit mense wat hul eie land wil hê, het reeds na Orania vertrek.

Ons politieke handelsmerk en unieke verkoopspunt moet insluiting en goeie regering wees wat aan almal werklike geleenthede bied om hul lewe te verbeter. Dit was ons roeping in die Wes-Kaap. 

Ons steun onder swart kiesers het ook met 50% gestyg – en was dubbel soveel as die DA-ondersteuning van swart kiesers in die Oos-Kaap, die provinsie waarvandaan die meeste swart mense wat nou in die Wes-Kaap woon, kom.

Ja, die swart steun is nog klein (hoewel ’n veel groter persentasie van swart mense vir die DA stem as wat wit mense vir die ANC stem).

Ons het (konserwatief geskat) 6,1% swart steun in die Wes-Kaap (waar ons ’n wit premierskandidaat gehad het) in vergelyking met 3,1% swart steun in die Oos-Kaap (waar ons ’n swart premierskandidaat gehad het).

In hierdie konteks is dit belangrik om te onthou dat dit nog altyd vir die DA die moeilikste was om DA-steun onder Nguni-sprekers (Xhosa en Zoeloe) te wen.

Die reis weg van rassenasionalisme is moeisaam. Maar ek hou vas aan die geloof, bemoedig deur die uitslag in die Wes-Kaap, dat dit moontlik is. Dit sal langer neem as wat ons gehoop het. Maar ons moet aanhou, want daar is geen ander hoop vir Suid-Afrika nie.

Die DA kan selfkorrigeer. Maar net as ons die werklike probleme onderliggend aan die verkiesingsuitslag van 2019 eerlik in die gesig kyk.

  • Helen Zille is die voormalige premier van die Wes-Kaap.
Meer oor:  Helen Zille  |  Schwei­Zer-Reneke  |  Verkiesing 2019  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.