Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing 2019
Stembrief, kruisie trek, toue, tellery: alles langer!

Politieke partye sal moontlik op stemdag om die beurt die stemtellery moet dophou omdat daar in die stemlokale te min plek vir almal kan wees.

Dit tel onder die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) se uitdagings omdat 48 partye vanjaar aan die verkiesing deelneem teenoor 29 in 2014.

Die wet bepaal dat elke party twee agente in die stemlokaal mag hê wanneer die stemme getel word. Dit kan tot 96 agente per stemlokaal beteken.

Die OVK het Vrydag gesê daar sal dalk nie genoeg plek wees vir almal wat die stemtellery wil en mag dophou nie. Hulle sal dit dalk om die beurt moet doen.

48: Die getal partye wat aan vanjaar se verkiesing deelneem, teenoor 29 in 2014.

Die getal partye op provinsiale vlak het ook byna verdubbel.

Die groter getal partye bring ook mee dat die stembrief baie langer gaan wees as voorheen.

Terry Tselane, uitvoerende hoof van die Instituut vir Verkiesingsbestuursdienste in Afrika en voormalige adjunkhoof van die OVK, het Sondag in ’n Engelstalige weekblad geskryf die lengte van die stembrief het ook implikasies vir die getal stembusse wat vir die stembriewe nodig gaan wees.

Hy het voorgestel dat die OVK naburige lande soos Mosambiek en Lesotho nader om stembusse te huur. Tselane verwag die logo’s en simbole van die partye sal ook kleiner moet wees om plek te maak vir alle partye op ’n enkele stembrief.

Tsile Maswanganyi van die kommunikasie-afdeling van die OVK het Vrydag gesê die 50 miljoen stembriewe word tans gedruk.

Hy het erken dat die groter getal partye meebring dat bykomende stembusse nodig sal wees vir die langer stembriewe en dat dit ’n beduidende koste meebring in die druk-, vervoer- en bergingskoste.

Ook die stemtellery sal langer as in die verlede duur.

Meer as 220 000 stembusse is reeds na die provinsiale en munisipale pakkamers vervoer.

Volgens Tselane sal kiesers dalk ook meer tyd in die stemlokaal deurbring, want dit gaan hulle langer neem om die party waarvoor hulle wil stem op die brief te vind, wat op sy beurt tot langer toue buite stemlokale kan lei.

Maswanganyi sê egter dit het tradisie geword vir kiesers om sedert 1994 saam te werk en geduldig te wag.

Die stembrief is met behulp van die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) ontwerp om dit vir kiesers makliker te maak om tussen die partye te onderskei.

Ná die 2014-verkiesing het die ANC gekla dat van dié party se stemme moontlik na die Independent African Congress (IAC) gegaan het omdat die partye se akronieme en logo’s baie eenders was. Dié keer is partye wat weens die alfabetiese orde na aan mekaar gelê het, ’n bietjie verder van mekaar geplaas.

Die OVK het vroeër aangedui dat die amptelike uitslag op Saterdag 11 Mei bekend gemaak sal word.

¦ Australië se stembrief vir die 2013-senaatsverkiesing was sowat een meter lank. In elke stemhokkie was daar toerusting waarmee die woorde op die stembrief vergroot kon word.

Meer oor:  Verkiesing 2019  |  Stemdag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.