Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing 2019
Survé sê ‘vendettas’ rede hoekom ANC sy R1 m. teruggee

Die omstrede sakeman dr. Iqbal Survé beweer die adjunkminister van finansies se “persoonlike en politieke vendettas” teen hom is die hoofrede waarom die ANC in die Wes-Kaap sy skenking van R1 miljoen teruggegee het.

Dít nadat Khaya Magaxa, waarnemende ANC-voorsitter in die provinsie, op die vooraand van die algemene verkiesing Dinsdag aangekondig het dat die party die skenking gaan teruggee.

In reaksie hierop het Survé, voorsitter van die Sekunjalo-groep en Independent Newspapers, Dinsdagaand in ’n sterk bewoorde verklaring, wat Sekunjalo uitgereik het, teen adjunkminister Mondli Gungubele losgetrek.

Gungubele is ook die voorsitter van die Openbare Beleggingskorporasie.

Dr. Iqbal SurvéFoto: LERATO MADUNA

Magaxa het in reaksie op Survé se verklaring Dinsdagaand gesê die provinsiale ANC het by ’n vergadering van sy provinsiale uitvoerende komitee (PUK) net vir Gungubele raad gevra oor of die OBK-ondersoek ten opsigte van Survé se maatskappye afgehandel is.

“Ons is ingelig dit duur nog voort en het besluit om die R1 miljoen terug te gee. As ons dit gehou het, sou dit die OBK-ondersoekproses ondermyn het.

“Pres. Cyril Ramaphosa het hom Sondag op Ellispark ook sterk uitgespreek oor korrupsie en ons wou ook nie daardie boodskap ondermyn nie.”

Volgens Magaxa het hy groot respek vir Survé, maar ondermyn sy uitsprake in sy verklaring die kapasiteit van die PUK om besluite op hul eie te neem.

“Ons neem dit nie ligtelik op nie. Gungubele kan nie die PUK-besluit beïnvloed nie.”

Hy het bygevoeg dat die provinsiale ANC beskikbaar is om ná die verkiesing met Survé oor die kwessie te vergader, nadat hy dit in sy verklaring aangevra het.

Survé sê in die verklaring hy het (Sondag) die geld geskenk ná ’n regstreekse versoek van die provinsiale ANC vir stemdag-kospakkies en ander logistiek vir ANC-vrywilligers.

Khaya MagaxaFoto: MELINDA STUURMAN

Volgens hom was hy ook nog nie formeel ingelig dat die geld teruggegee sal word nie, maar het hy verneem “dat die geld reeds aan al die streke uitbetaal is vir die beplande doelwit daarvan”.

Survé meen hy is ingelig dat Gungubele opdrag gegee het dat sy skenking teruggegee word.

“Ons sien hierdie optrede van Gungubele as niks anders as ’n doelbewuste poging om die reputasie van Sekunjalo en Survé te skaad nie.

“Dit is ’n jammerte dat Gungubele ’n persoonlike en politieke vendetta teen Survé gebruik om legitieme steun vir ons demokrasie en die ANC te ondermyn.

“Dit is net nog ’n voorbeeld van hoe Gungubele sy posisie as OBK-voorsitter gebruik om ’n kwaadwillige veldtog teen die Sekunjalo-groep en Survé te bedryf,” het Survé geskryf.

Intussen het Cosatu ook die party se besluit om die geld terug te gee, verwelkom.

Matthew Parks, Cosatu se parlementêre koördineerder, het gesê om geld van Survé te aanvaar voordat die OBK-kommissie die ernstige beweringe teen hom en sy maatskappye getakel het, sou die ANC se verbintenis tot ’n nuwe dagbreek en skoon regering ondermyn én die OBK-kommissie se belangrike werk verswak het.

Gungubele se woordvoerder kon teen die tyd van publikasie Dinsdagaand nie vir kommentaar bereik word nie.

Meer oor:  Verkiesing 2019  |  Iqbal Survé
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.