Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing 2019
Talle klein partye se parlement-droom aan skerwe

Talle kleiner politieke partye wat kort voor die verkiesing gestig is, asook ’n paar gevestigde partye, se droom om setels in die Nasionale Vergadering (NV) te wen, is aan skerwe omdat hulle nie genoeg stemme in Woensdag se verkiesing kon kry nie.

Boonop is hulle ook hul deposito’s kwyt wat hulle moes betaal om aan die verkiesing deel te neem. Politieke partye moes elk ’n deposito van R200 000 betaal om op nasionale vlak aan die verkiesing deel te neem, en R45 000 om op provinsiale vlak deel te neem.

Onder die nuwe politieke partye wat opsigtelik deur die kiesers verwerp is, is Black First Land First (BLF), die African Content Movement van Hlaudi Motsoeneng, voormalige bedryfshoof van die SAUK, die Capitalist Party of South Africa (ZACP) en die Land Party. Hul stemme was teen Vrydagmiddag – nadat sowat 90% van die stemme getel is – nie genoeg om vir hulle ’n setel in die Nasionale Vergadering te verseker nie.

Altesaam 32 van die mikro-partye gaan waarskynlik nie parlement toe nie, en saam het hulle 221 000 stemme ontvang, wat ’n gemiddeld van ongeveer 7 000 stemme per party is.

Vyf kleiner partye het op dié tydstip minder as 3 000 stemme gekry.

Nuwe partye wat beter gevaar het en op pad is parlement toe, sluit in die Good-party van Patricia de Lille, voormalige burgemeester van Kaapstad, en die African Transformation Movement waarvan Mzwanele Manyi, voormalige kabinetswoordvoerder, ’n senior lid is.

Steun vir sommige gevestigde kleiner partye soos die UDM, die National Freedom Party (NFP) en die African Independent Congress (AIC), het ook teenoor die vorige algemene verkiesing in 2014 teruggesak, maar hulle behou steeds setels in die NV.

Dit lyk asof Cope een van die groot verloorders in die verkiesing gaan wees. Dié party, wat in 2014 op nasionale vlak 123 235 stemme verower het, se getal stemme het Vrydag, toe 90% van die stemme getel was, op 49 000 gestaan.

Theo Venter, politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit, het in reaksie gesê dit is tog só dat as jy vir ’n “mikroklein party” stem, jou stem wel verlore gaan in die berekening van wie uiteindelik parlement toe gaan.

“Altesaam 32 van die mikro-partye gaan waarskynlik nie parlement toe nie, en saam het hulle 221 000 stemme ontvang, wat ’n gemiddeld van ongeveer 7 000 stemme per party is.

“Dié 221 000 stemme kon vyf verteenwoordigers vir ’n ander party in die parlement beteken het. My slotsom is dus dit is goed om vir ’n klein party te stem, mits daardie party minstens die kans het om in die parlement verteenwoordig te word.”

Meer oor:  Land Party  |  Blf  |  African Content Movement  |  Zacp  |  Verkiesing 2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.