Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing 2019
‘The Economist’ steun Cyril nasionaal, DA provinsiaal

’n Goeie man, ’n swak party.

Dit is die opskrif van ’n hoofartikel in die invloedryke Britse tydskrif The Economist oor pres. Cyril Ramaphosa en die ANC.

Ramaphosa se gesig pryk op die voorblad en benewens die hoofartikel is daar ook ’n ontledende artikel oor die komende verkiesing in Suid-Afrika.

Dié tydskrif, wat veral in Brittanje, die res van Europa en Noord-Amerika hoë aansien geniet, sê korrupsie het onder oudpres. Jacob Zuma se bewind gedy. Ondanks die maer jare onder Zuma, is daar nou egter hoop. Zuma is deur sy eie party herroep en word deur klagte van korrupsie in die gesig gestaar.

Die voorblad van The Economist.

Die nuustydskrif, wat al sedert 1843 verskyn, beskryf Ramaphosa as ’n “eerlike hervormer” en ’n baie knap politikus. Hy is die regte man om Suid-Afrika te lei.

Volgens die tydskrif staan Suid-Afrikaanse kiesers in die algemene verkiesing op 8 Mei voor twee keuses: óf hulle stem weer vir die ANC en hoop Ramaphosa gaan voort om die party te suiwer en die land te vernuwe, óf hulle gee die opposisie die kans.

Die tydskrif wys daarop dat die kiesers in Suid-Afrika nie soos in baie lande regstreeks die president verkies nie. Hier word die president deur die parlement verkies.

“Die ANC is al 25 jaar aan die bewind, wat te lank vir enige party op enige plek is. Ondanks mnr. Ramaphosa se pogings, is daar steeds te veel skelms in die party waarvan sommige te magtig is vir die president om af te dank,” skryf The Economist.

“Hoewel die party die tuiste vir wyd uiteenlopende ideologieë is, was daar die laaste ruk ’n kommerwekkende herlewing van verlinkse populisme onder sy kaders. Dit sluit in die party se besluit om die Grondwet te verander om die onteiening van plaasgrond sonder vergoeding moontlik te maak.”

Die publikasie sê daar is goeie rede waarom die kiesers vir die DA kan stem.

Die DA is baie skoner as die ANC en sy “jong en charismatiese leier Mmusi Maimane”, glo in die vryemarkbeginsel.

“Die dele van die land waar die DA aan die bewind is, soos Kaapstad en Johannesburg, is eilande van doeltreffendheid in ’n see van duisternis en onbekwaamheid.

“Hoewel die oorgrote meerderheid munisipaliteite deur die ANC beheer word, het ’n onlangse studie van die dinksentrum Good Governance Africa bevind 15 van die voorste 20 munisipaliteite word deur die DA beheer.”

Die dele van die land waar die DA aan die bewind is, soos Kaapstad en Johannesburg, is eilande van doeltreffendheid in ’n see van duisternis en onbekwaamheid.

Die tydskrif sê hoewel hy met die vorige algemene verkiesing in 2014 sy steun aan die DA toegesê het, sal hy die ANC dié keer op nasionale vlak steun.

Die DA is steeds die regte medisyne vir Suid-Afrika, maar hy sal dit nie in werking kan stel nie omdat hy nie genoeg steun het nie.

The Economist sê hy sou wel op provinsiale vlak sy kruisie agter die DA trek, as hy kon stem.

Die groot vraag in die verkiesing is of die ANC ’n volstrekte meerderheid sal behaal en of Ramaphosa se hand versterk sal word om hervorming deur te voer en of hy ondermyn sal word. ’n Slegte verkiesingsuitslag sal Ramaphosa se posisie verswak en skietgoed gee aan dié faksie in die ANC wat van hom ontslae wil raak.

Wat die ANC nodig het, is ’n stewige meerderheid wat dit vir Ramaphosa moontlik sal maak om die populiste en die mafia in sy party vas te vat. Dit sal aan hom ook die geleentheid bied om die nuttelose aanstellings van Zuma met kundige mense te vervang.

“Oor die volgende vyf jaar moet hy die staatsaanklaers toelaat om die staatskapers te jag. Hy moet Eskom se monopolie beëindig en ’n moratorium plaas op al die regulasies wat dit moeilik maak om mense aan te stel. Onderwysvakbonde moet vasgevat word en eiendomsregte moet eerder uitgebrei as vertrap word.”

Die tydskrif wys daarop dat Ramaphosa die man is wat oudpres. Nelson Mandela wou hê by hom moes oorneem.

Hy moenie dié kans deur sy vingers laat glip nie.

Onderwysvakbonde moet vasgevat word en eiendomsregte moet eerder uitgebrei as vertrap word.

Meer oor:  The Economist  |  Verkiesing 2019  |  Cyril Ramaphosa  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.