Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing 2019
Trollip kap Cyril oor uitlating oor Afrikaans en grond

Om te sê “Afrikaanssprekendes voel dieselfde seer oor hul taal as wat die meerderheid Suid-Afrikaners oor grond voel” is geheel en al onvanpas en misplaas, sê Athol Trollip, federale voorsitter van die DA.

Atholl Trollip. Foto: Carla-Lee Dorfling

Sy reaksie volg op ’n uitlating wat pres. Cyril Ramaphosa Maandagaand op ’n ANC-verkiesingsbyeenkoms met “meningsvormers” in Pretoria gemaak het.

Trollip sê Ramaphosa “kan soveel mooi broodjies bak as wat hy wil”, die feit bly staan sowel die ANC as die EFF wil die Grondwet verander om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak.

“En hoe meer ons ekonomie agteruitgaan, hoe meer kom minderheidsgroepe in ons land in die ANC se visier, nie net deur die dreigement van onteiening sonder vergoeding nie, maar ook die gedwonge investering van pensioenfondsgeld in sukkelende staatsbeheerde instellings,” sê Trollip.

Hy sê die DA is heeltemal verbind tot grondhervorming. “Waartoe ons nie verbind is nie, is grondonteiening sonder vergoeding, soos wat die ANC en die EFF voorstel.”

Vir die president om hierdie beplande optrede deur die ANC-regering te probeer goedpraat deur dit met Afrikaanssprekendes se geesdrif vir hul taal te vergelyk is om die minste te sê beledigend, sê Trollip.

“Afrikaanssprekendes en alle ander Suid-Afrikaners het die reg om die taal van hul keuse te gebruik en, soos vervat in die Handves van Menseregte, in art. 30 van die Grondwet, aan die kulturele lewe van hul keuse deel te neem. Dit is eerder tyd dat die ANC hierdie regte, verskans in ons Grondwet, respekteer en opdwing en ophou om doelbewus ’n stigma aan die taal te probeer koppel.

Pres. Cyril Ramaphosa en dr. Gerhard Koornhof Dinsdagaand op die verhoog van die ANC se verkiesingsbyeenkoms in Pretoria. Foto: Deaan Vivier

Die DA respekteer die meerderheid Suid-Afrikaners se geesdrif vir die grondkwessie. Net soos dit nie nodig is om te karring aan die Grondwet om Afrikaanssprekendes se taalregte te beskerm nie, net so is dit ook nie nodig om die Grondwet te wysig om grondhervorming te bewerkstellig nie, sê Trollip.

Hy sê Ramaphosa, nes sy “baas”, Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, moet ophou om na wit Suid-Afrikaners met onrealistiese en ondeurdagte beloftes en skyn-besorgdheid te vry.

Minderheidsgroepe in Suid-Afrika is moeg daarvan om politieke speelballe te wees vir die ANC-regering wat die laaste 25 jaar meestal hul grondwetlike regte ondermyn het en hierdie land so te sê tot in die afgrond gedwing het, sê Trollip.

Ramaphosa, wat staande applous op die byeenkoms in die volgepakte Atterbury-teater in Pretoria gekry het, het gesê die kwessie van Afrikaans moet soos die grondkwessie nog behoorlik getakel word.

Die ANC-leier het gesê hy verbind hom daartoe dat Afrikaans sy regmatige plek in die Suid-Afrikaanse samelewing kry.

Meer oor:  Afrikaans  |  Da  |  Cyril Ramaphosa  |  Athol Trollip  |  Pretoria  |  Grondhervoming  |  Grond
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.