Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing 2019
Verkiesing 2019: Ontleders maak sin van stempatrone

Die verkiesing van 2019 is verby.

Al die stemme was teen Saterdagmiddag getel en die uitslag is later die aand in Pretoria in die teenwoordigheid van pres. Cyril Ramphosa deur die Verkiesingskommissie (OVK) geproklameer.

* Die ANC het die nasionale verkiesing met 57,51% gewen. Die ANC bly ná ’n groot stryd in Gauteng ook in beheer van agt provinsies.

* Die DA het 20,76% van die nasionale steun gekry en is steeds in beheer van die Wes-Kaap.

* Die EFF het sy nasionale steun tot 10,79% verhoog en word deur talle saam met die VF Plus, wat ook sy steun tot 2,38% verhoog het, as die twee suksesverhale van vanjaar se verkiesing beskou.

Godrich Gardee, verkiesing 2019, EFF
Godrich Gardee en Vuyani Pambo van die EFF hou die uitslae Donderdag by die OVK se nasionale uitslagsentrum dop. Foto Felix Dlangamandla

VF Plus en EFF

Prof. André Duvenhage, politieke ontleder, sê die VF Plus en die EFF se sukses is ’n aanduiding daarvan dat sommige dele van die samelewing al hoe meer gepolariseerd raak ten opsigte van ras, kultuur en politiek.

Hy meen al hoe meer konserwatiewe wit mense het vir die VF Plus gestem en al hoe meer radikale swart landsburgers het hulle tot die EFF gewend.

Die EFF se steun het van 6,35% in 2014 tot 10,79% vanjaar verbeter, terwyl die VF Plus sy steun van 0,90% tot 2,38% verbeter het.

Duvenhage sê die VF Plus en EFF se sukses wys ook op ’n vorm van belange- en identiteitspolitiek.

“Die grondkwessie (veral oor onteiening sonder vergoeding) was ongetwyfeld ’n baie belangrike aandrywer van dié twee partye se sukses.

“Dit was egter nie die enigste nie. Dit wys ook in watter erge konflik ons samelewing is. ’n Mens kan dit sien in die vlakke van haatspraak wat al hoe erger word, soos gesien kan word met die BLF en die EFF. Dit wys ook hoe hoog die maatskaplike spanning is.

“Bogenoemde verdiep ook die persepsie dat wit mense oor die algemeen ryker is en in gegoede buurte leef, terwyl swart mense ’n arm bestaan voer.

“Dit is egter ’n skeefgetrekte opvatting omdat baie swart mense ryker geword het en ook in gegoede buurte woon.

“Daar is dus politieke, ekonomiese en maatskaplike aandrywers wat tot die sukses van die VF Plus en die EFF bygedra het,” sê Duvenhage.

Dr. Zwelinzima Ndevu van die Universiteit Stellenbosch se skool vir publieke leierskap, meen veral die VF Plus het vriend en vyand verras met sy prestasie.

“Dit is grootliks te wyte aan dié party se beleidsposisie oor veral grondhervorming. Die ander groot wenner was die EFF, hoewel die party gedink het hy sou baie meer groei en selfs ’n paar provinsies wen.”

Duvenhage het bygevoeg die VF Plus se “ongelooflike prestasie” kan ook toegeskryf kan word aan wit Afrikaanse kiesers wat vervreemd geraak het van die DA, veral oor hoe dié party onder meer plaaslike voorvalle hanteer het, soos vroeër in Coligny en Schweizer-Reneke.

verkiesing 2019, uitslagsentrum
Konfetti stort neer by die OVK se nasionale uitslagsentrum nadat die uitslae van die 2019-verkiesing Saterdagaand geproklameer is. Foto: Deaan Vivier

Grondonteiening

Het die ANC en die EFF saam nou ’n tweederdemeerderheid? Wat is die implikasies daarvan?

Onteiening van grond sonder vergoeding was voor die verkiesing hoog op die nasionale agenda en om dit reg te kan kry, moet art. 25 van die Grondwet gewysig word.

Duvenhage sê ’n tweederdemeerderheid in die parlement is nodig om dit te kan doen.

Die ANC en die EFF, wat albei ’n wysiging van die Grondwet voorstaan om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak, het saam 68,3% van die steun op hulle verenig. Vir ’n tweederdemeerderheid het hulle 66,6% nodig.

“As hulle dus die Grondwet wil wysig, sal hulle dit kan doen. Of die ANC dit wel gaan doen, is nog onseker.

“Die kwessie van onteiening gaan een van pres. Ramaphosa se eerste belangrike en groot toetse in sy nuwe termyn wees.

“Hy is tans onder geweldige druk in die ANC om dié en ander radikale resolusies deur te voer,” sê Duvenhage.

Mmusi Maimane, verkiesing 2019
Mmusi Maimane, DA-leier, Donderdagaand op besoek aan die nasionale uitslagsentrum in Pretoria. Foto: Felix Dlangamandla

DA se dilemma

Die DA het die Wes-Kaap behou met 55,45% steun, maar meer mense in Gauteng het vir die party gestem waar hy 27,46% steun gekry het.

In die Wes-Kaap het 1,14 miljoen kiesers vir die DA gestem en in Gauteng 1,185 miljoen.

Hoewel die VF Plus steun by die DA afgerokkel het, het die DA in sy tradisionele gebiede steeds goed genoeg gevaar om steeds die meeste stemme te kry.

In Johannesburg (53,09%) en Tshwane (49,56%) waar die DA met die plaaslike verkiesing drie jaar gelede die beheer saam met ander partye oorgeneem het toe die ANC nie meer as 50% van die steun kon kry nie, het die ANC nou weer die sterkste steun geniet.

Emeritusprofessor Pieter Labuschagne van Unisa sê die verkiesing het gewys die DA het sy plafon bereik en hy sal in die toekoms moeilik verdere groei toon.

“Die DA se groot probleem is dat hy baie op dieselfde ideologiese beginsels as die ANC gegrond is – liberale en sosiaal-demokratiese uitgangspunte.

“Desondanks kon die DA geen steun afrokkel by die ANC wat steier onder korrupsie nie. In 2014 het die DA 5% van swart kiesers se steun gekry. Hy kon dié keer nie daarop voortbou nie.

“Die afname in DA-steun kan toegeskryf word aan die feit dat baie van sy ondersteuners terug is na die VF Plus.”

Labuschagne sê die DA sal nie groei as hy nie ’n sterker en meer eiesoortige identiteit ontwikkel nie.

“’n Party sal nooit kan groei as hy net dieselfde beleid ‘beter’ wil toepas nie.

“Dit het gebeur met Cope, wat in twee verkiesings 1,2 miljoen stemme verloor het. Net so gaan die Good-party ook binne vyf jaar die vergetelheid inglip.”

Labuschagne sê die EFF kon groei omdat sy beleid gegrond is op “ongeartikuleerde ideologiese gronde (gesentraliseerde staat-sosialisme)".

Hoewel die VF Plus talle waarnemers verras het, is die 414 844 stemme wat hy op hom verenig het, baie minder as die mikpunt van 1 miljoen stemme wat dr. Pieter Groenewald, sy leier, gestel het.

Soos Labuschagne, sê hy die VF Plus, wie se verkiesingslagspreuk “Slaan terug!” was, het veral in tradisioneel DA-gebiede vordering gemaak.

’n Voorbeeld: By die stempunt by die Hoërskool Waterkloof in Pretoria het die DA in 2014 altesaam 2 104 stemme gekry. Dit het dié keer gedaal tot 1 294, terwyl die VF Plus se steun van 160 in 2014 tot 249 vanjaar gegroei het.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die Vryheidsfront Plus, Vrydagaand voor die OVK se uitslagbord. Die party het sy steun meer as verdubbel. Foto: Deaan Vivier

Dr. Piet Croucamp, politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit, sê die ideologiese retoriek van die EFF, die BLF en sekere ANC-lede het beslis ’n vervreemding onder wit Afrikaners laat intree.

Dieselfde groep DA-ondersteuners wat dié keer hul kruisies langs die VF Plus getrek het, “het vroeër by die DA teen die ANC geskuil”, meen hy.

Baie van dié kiesers is bloot terug na hul tradisionele politieke tuiste.

Die provinsie waar die VF Plus die meeste stemme gekry het, is Gauteng waar meer as 153 000 kiesers vir hom gestem het. In die Wes-Kaap het 32 000 kiesers vir hom gestem.

ANC se wen en verloor

Waar het die ANC gewen en verloor? Wat moet ons lees in die skuif? Wat is die implikasies vir Cyril Ramaphosa?

Die 57,51% wat die ANC vanjaar gekry het, is effens minder as die 62,15% wat die party in die 2014-verkiesing gekry het.

Daniel Silke, ’n onafhanklike ontleder, skryf die ANC se sukses toe aan twee woorde: “Cyril Ramaphosa”.

“Ek het geen twyfel dat sy verkiesing as ANC-president (in 2017 by Nasrec) dié party se raklewe verleng het nie. Hy het die ANC deurgedra. Hoewel die ANC swakker as in 2014 gevaar het, beteken die oorwinning kiesers het aanklank gevind by Ramaphosa se boodskap van ’n ‘nuwe dagbreek’.”

Hy sê dit lyk ook of swart kiesers in veral Gauteng, waar die ANC steun in die 2016-munisipale verkiesing verloor het, teruggekeer het na die ANC. Die ANC het in 2016 die metro’s van veral Tshwane en Johannesburg in Gauteng aan ’n DA/EFF-geleide koalisie afgestaan.

“Kiesers het die ANC en Ramaphosa ook ’n laaste kans gegee om die party oor die volgende vyf jaar reg te ruk as hy weer ’n verkiesing wil wen,” sê Silke.

Duvenhage is “verskriklik verbaas” dat die ANC ondanks die skandaal geteisterde Jacob Zuma-era en bewerings van staatskaping wat daagliks teen ANC-leiers gemaak word, steeds kon wen. “Dit is totaal ongehoord in enige demokrasie dat ’n party met so ’n bevlekte rekord sulke steun kry. Dis ’n Godswonderwerk dat die ANC nog in beheer is.”

Oor Gauteng, waar die ANC net-net met 50,19% gewen het, sê Ralph Mathekga, onafhanklike politieke ontleder, as die ANC nie begin om na die mense te luister nie, sal hy nie meer vir lank hier aan die bewind bly nie.

“Die mense in Gauteng is baie kwaad vir die ANC en dit is duidelik in die verkiesingsuitslag in dié provinsie.”

Gauteng se setels. Foto: Deaan Vivier

Volgens hom sal die binnegevegte tussen die verskillende faksies in die ANC ook voortduur.

“Die verkiesings het hulle eintlik net vir ’n oomblik laat ophou baklei. Dinge gaan net dieselfde bly. Ramaphosa se mandaat is nie sterker nie. Die spanning tussen die pro- en anti-Ramaphosa-groepe sal net vererger, veral nou wanneer Ramaphosa kabinetsministers en mense in ander hoëprofielposte sal moet aanstel,” sê Mathekga.

Jessie Duarte, adjunk-sekretaris-generaal van die ANC, het die belangrikheid van die ANC se oorwinning besef toe sy Saterdag in ’n oorwinningsverklaring gesê het hoewel kiesers se vertroue in die ANC begin terugkeer, besef die party dat baie mense nog nie oortuig is dat hy op ’n nuwe trajek is nie.

“Hul opdrag is duidelik: ons vertrou julle, maar doen meer en beweeg vinniger om korrupsie en staatskaping vas te vat, om verantwoordbaarheid te verseker en om die land op ’n pad van beter ekonomiese groei en ontwikkeling te plaas,” het Duarte gesê.

IVP in KwaZulu-Natal

Wat het in KwaZulu-Natal gebeur dat die IVP so sterk gegroei het? Is dit omdat daar nou ’n anti-Cyril-sentiment is?

Xolani Dube, politieke ontleder by die dinkskrum Xubera Institute for Research and Development in die provinsie, sê die ANC het daar stemme aan die IVP afgestaan omdat dit ’n “senuwee raakgeboor het” van tradisionele leiers, veral oor die Ingonyama Trust-debakel.

“Die kwessie van die herverspreiding van grond was die olifant in die kamer. Die ANC het ’n senuwee aangeraak by tradisionele leiers. Die ANC het ook daarin misluk om ’n duidelike boodskap aan die Indiër-gemeenskappe te kommunikeer,” sê Dube.

Die ANC het die provinsie behou, al is dit met ’n baie kleiner meerderheid van 54,22%. Dit is ’n daling van net meer as 10 persentasiepunte van die 64,54% wat die party daar in die 2014-verkiesing gekry het.

Die IVP, met sy steun van 16,34%, het nou ook by die DA oorgeneem as die amptelike opposisie in KwaZulu-Natal.

Loop die tyd vir die UDM uit?

Wat van die UDM in die Oos-Kaap? Is dié party se tyd besig om uit te loop?

Bantu Holomisa, UDM-leier, het Saterdag gesê hy is net so “verras deur en teleurgesteld in” sy party se vertoning in die verkiesing.

Die UDM kon vanjaar net 0,45% van die steun op hom verenig, teenoor die 1% in 2014.

Die party het selfs ’n vernederende uitslag in die Oos-Kaap, sy tradisionele steunbasis, gehad waar hy net 2,60% kon kry vergeleke met die 6,16% in 2014.

Holomisa sê hy en sy party sal selfondersoek moet gaan doen om te bepaal wat verkeerd gegaan het.

Hy maak dit duidelik dat die party nie in die politieke woestyn sal verdwyn nie, omdat hul oë nou stip gerig is op die verkiesings van 2021 en 2024.

“Daar is geen twyfel dat ons geskok is nie. Ons het gedink die kiesers sal ons steun. Maar ons kan nie kla daaroor nie. Ons sal teruggaan en selfondersoek doen,” het Holomisa gesê.

Bantu Holomisa, UDM-leier. Foto: Daily Sun

Die pad vorentoe vir Cope

Cope het die swakste steun nog gekry sedert hy in 2008 gestig is. Hy het 0,27% van die nasionale stemme gekry teenoor 0,67% in 2014.

In 2009 het Cope meer as 1 miljoen stemme gekry nadat hulle weggebreek het van die ANC.

Papi Kganare, sekretaris-generaal van Cope, het sy teleurstelling oor sy party se steun by die stembus uitgespreek.

“Baie dinge het verkeerd gegaan. Ons is teleurgesteld.”

Mosiuoa Lekota, Cope-leier, het Saterdag aan Netwerk24 gesê hy is uiters teleurgesteld, maar sy party sal steeds twee parlementêre setels hê.

Groot verloorders

Ndevu meen die grootste verloorders in vanjaar se verkiesings is juis die kleiner partye soos Cope, die UDM en die African Independent Congress (AIC), wat feitlik ingeplof het. “Dit is onwaarskynlik dat van hulle ooit van hul verliese sal kan herstel.”

Daar is ook sowat 35 partye op die stembrief wat elk minder of nie veel meer as 20 000 stemme gekry het nie. Dit sluit onder meer in die omstrede Black First Land First (BLF) en die ewe omstrede Hlaudi Motsoeneng, voormalige bedryfshoof van die SAUK, se African Content Movement (ACM) in.

Hulle sal ook mettertyd van die radar verdwyn siende dat hulle nie genoeg stemme vir ’n parlementêre setel kon inpalm nie.

Setels in die parlement

Theo Venter, Netwerk24 se verkiesingsontleder, verduidelik die heel eerste ding wat die OVK ná die stemtellery doen, is om die drempelwaarde te bepaal vir hoeveel stemme elke party benodig om ’n parlementêre setel te kry.

“Dit word gedoen deur die volle aantal LP’s in die Nasionale Vergadering (wat 400 is) te verdeel deur die aantal geldige stemme wat uitgebring is in die verkiesing.

Luidens die OVK het die aantal geldige stemme Saterdag op 17,4 miljoen gestaan.

Dit beteken dat partye sowat 43 500 stemme moes kry om een LP in die parlement te kan hê.

Glen Mashinini, OVK-voorsitter, het Saterdag aangekondig dat 13 van die 48 partye wat aan die nasionale verkiesing deelgeneem het, soos volg in die Nasionale Vergadering verteenwoordig sal word:

Pan Africanist Congress (PAC): 1 setel

Al Jama-ah: 1 setel

UDM: 2 setels

National Freedom Party (NFP): 2 setels

Good: 2 setels

Cope: 2 setels

ATM: 2 setels

African Independent Congress (AIC): 2 setels

ACDP: 4 setels

VF Plus: 10 setels

IVP: 14 setels

EFF: 44 setels

DA, as amptelike opposisie: 84 setels

ANC: 230 setels

verkiesing 2019, cyril ramaphosa
Pres. Cyril Ramaphosa spreek die gehoor toe by die proklamasie van die verkiesingsuitslae. Foto: Deaan Vivier

Wat gebeur volgende?

Die parlement het Vrydag gesê hy is gereed om die nuwe LP’s in te huldig sodra die OVK die finale verkiesingsuitslag geproklameer het.

Moloto Mothapo, parlementswoordvoerder, het gesê politieke partye se kandidatelyste met die name van wie hulle as LP’s sal verteenwoordig, sal aan hoofregter Mogoeng Mogoeng oorhandig word om hom voor te berei vir die inhuldigingseremonie sodra die uitslag geproklameer is.

Ingevolge die Grondwet moet die Nasionale Vergadering (NV) en die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) saamgestel word binne 14 dae nadat die uitslag verklaar is.

Die eerste sitting van die NV is voorlopig geskeduleer vir 22 Mei en dié van die NRP vir 23 Mei.

* Ramaphosa se inhuldiging as die land se nuwe staatshoof is vir 25 Mei op Loftus Versfeld in Pretoria geskeduleer. – Llewellyn Prince, Sarel van der Walt en Bonolo Selebano

Meer oor:  Verkiesing 2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.