Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing 2019
Verkiesing 2019: Met dié plakkate moet jy vir die hotel stem

Plakkate van ’n hamburger met ’n kenmerkende rooi EFF-baret en die VF wat sê mense moet die rem aanslaan.

Dít is van die plakkate wat Dinsdag op lamppale in Oos-Londen verskyn en motoriste twee keer laat kyk het. Die plakkate lyk met die eerste oogopslag soos politieke partye se verkiesingsplakkate.

Die Highgate-hotel se bemarkingsplakkaat wat op die EFF se verkiesingsplakkaat geskoei is. Foto: Facebook
Die Highgate-hotel se weergawe van die VF Plus se plakkaat. Foto: Facebook

Dié bemarkingsveldtog van die Highgate-hotel in Oos-Londen sinspeel op partye se verkiesingsplakkate en volgens die hotelbestuurder is die veldtog nog lank nie verby nie.

David Ellis, hotelbestuurder, het Woensdag gesê die reaksie op hul nuwe bemarkingsveldtog is oorweldigend en die meerderheid is positief.

“Dit is ’n veldtog met goeie bedoelinge om die opknappingswerk aan die buitekant van die hotel te vier. En met die verkiesing om die draai het ons gedink dit is ’n goeie plan om op die politieke wa te spring.”

Op een plakkaat, met ’n rooi agtergrond, staan daar “Everyone’s Favorite Food”, waarop ’n hamburger met ’n rooi baret pryk. Die opskrif van die plakkaat, “Fresh from the soil”, herinner aan die huidige EFF-verkiesingsplakkaat se opskrif, “Son of the Soil”, met Julius Malema, EFF-leier, se gesig daarop.

Nóg ’n plakkaat, met ’n groen agtergrond, lees “Venue and Functions”, met die hoofopskrif “Slaan Brakes” en ’n kaart wat die ligging van die hotel aandui. Dié opskrif sinspeel op die VF Plus se “Slaan Terug”-leuse.

Die Highgate-hotel se plakkaat wat op dié van die DA geskoei is. Foto: Facebook

Op ’n blou blok met ’n Suid-Afrikaanse landsvlag in die agtergrond staan die woorde “Daily Accommodation” en “Enough room for all”, wat op die DA se verkiesingsplakkaat geskoei is. Die hotel se geel, swart en groen plakkaat met die woorde “Accommodation and Conference” sinspeel op die ANC se verkiesingsplakkaat.

Die geel, swart en groen plakkaat van die Highgate-hotel lyk op ’n afstand soos die ANC se verkiesingsplakkaat. Foto: Facebook

Piet Mey, leier van die VF Plus in die Oos-Kaap, sê die plakkate is humoristies. “Ek haal my hoed af vir die hotel. Dit is goed om die humorsin te sien.

“Geen politieke party se logo is gebruik nie, en dit is goed gedoen.

“Terloops, ek kan byvoeg dat die VF Plus wél die rem sal aanslaan vir dinge wat verkeerd loop in die provinsie – so daai plakkaat is nie te ver verkeerd nie.”

Yazini Tetyana, voorsitter van die EFF in die Oos-Kaap, het by navrae gesê die bemarkingsveldtog is in swak smaak en dit is onvanpas om dit te laat voorkom asof die EFF-leier se gesig met ’n hamburger vervang word.

“Dit is swak van ’n hotel om die ernstige politieke stryd vir hul eie bemarking uit te buit. Dit kan kiesers die verkeerde idee van ’n party gee en die doel agter die verkiesingsplakkate afbreek.”

Ellis sê die hotel het vooraf regsadvies ingewin, asook met politici gepraat en hulle voel dat hulle op niemand se tone trap nie.

Meer oor:  Oos-Londen  |  Plakkate  |  Verkiesing 2019  |  Hotel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.