Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing 2019
Verkiesing het byna ontspoor

Ernstige gevolge vir lede van die Verkiesingskommissie (OVK) en veranderings aan hoe Suid-Afrikaners stem, is op pad nadat die OVK die afgelope week nie kon verseker dat kiesers slegs een keer stem nie.

Adv. Dali Mpofu, nasionale voorsitter van die EFF,
Adv. Dali Mpofu, nasionale voorsitter van die EFF, neem Donderdag ’n selfoonfoto van die elektroniese telbord by die nasionale uitslagsentrum in Pretoria. Die party se steun is landwyd nou 60% groter as in 2014. Foto: Gallo Images

Rapport het vasgestel dat die spanning in ’n stadium so hoog geloop het ná Woensdag se algemene verkiesing dat politieke leiers die proses moes “oorneem” omdat die OVK self nie antwoorde kon verskaf op vrae nie oor onder meer onbevoegde amptenare, kiesers wat meer as een keer gestem het, ink wat van vingers verwyder kon word en ’n gebrek aan bewyse in ID-boeke of op ID-kaarte dat mense reeds gestem het.

Bronne in die OVK het wel Saterdag aan Rapport gesê die klagtes deur ’n groep klein partye wat misluk het in hul pogings om parlementsetels te ver­ower, het nie veel om die lyf nie – die partye het nie die vermoë, voete op die grond of hulpbronne om met genoegsame bewyse van omvattende kiesbedrog vorendag te kom nie.

Verteenwoordigers van groter politieke partye het ook bevestig dat daar nie by die groter partye die aptyt is vir die hou van ’n nuwe verkiesing nie, maar dat dinge “dringend en omvattend” moet verander, want as die OVK sy geloofwaardigheid verloor, trek dit die demokratiese mandaat in twyfel en kan die demokrasie self sneuwel.

‘Dit is gered deur die politieke partye.’

“Ons is nie tevrede met die maat­reëls wat ingestel is teen dubbele stemmery nie. Die skuldiges moet voor stok gekry word. Ons ondersteun die oudit van verkiesingsuitslae. Ons kan nie toelaat dat ’n instelling soos die OVK dieselfde pad loop as die Suid-Afrikaanse Inkomstediens en die nasionale vervolgingsgesag nie, waar vertroue in instellings ondermyn is deur swak bestuur en onbevoegdheid nie,” het Dakota Legoete, nasionale woordvoerder van die ANC, aan Rapport gesê.

By navraag aan verskeie hoofrolspelers agter die skerms die afgelope week by die verkiesingsuitslagsentrum in Pretoria het dit geblyk hoe hard veterane in verskeie partye moes terugveg teen druk uit eie geledere om die verkiesing in sy geheel te verwerp.

“Hierdie verkiesing is gered deur die politieke partye. Die verkiesing het uitgewerk ten spyte van die OVK, nie danksy die OVK nie,” het Jo-Ann Downs, jarelange verteenwoordiger van die ACDP op die veelparty-moniteringskomitee, aan Rapport gesê.

Rolspelers in die komitee, wat agter geslote deure in die uitslagsentrum vergader het om probleme te takel namate dit opduik, het ingesluit Downs, Beatie Hofmeyr van die ANC, Mike Moriarty van die DA en verskeie verteenwoordigers van die EFF en IVP.

Hulle moes gemoedere in hul eie partyleierstrukture kalmeer om te keer dat die geloofwaardigheid van die ganse verkiesing openlik bevraagteken word, wat groot gevolge sou inhou vir die rand, beleggersvertroue en die ekonomie.

In ’n stadium het die EFF die ANC en OVK in die openbaar daarvan beskuldig dat hulle die verkiesing bekook, maar hulle het dit laat staan.

“Ons weet dinge het erg verkeerd geloop, maar ons moet nou die land eerste stel en die stelsel vir die toekoms verbeter eerder as om die appelkar om te gooi,” het ’n bron in die topleierskorps van die EFF Woensdagnag aan Rapport gesê.

“Dit is nie dat ons die proses of die land wil laat ontspoor nie, maar die onvermoë van die OVK om die omvang van die probleme te erken of vas te stel, maak dat ’n oudit van uitslae noodsaaklik is vir die demokrasie,” het James Selfe, voorsitter van die DA se federale dagbestuur, Woensdagaand gesê nadat stembriewe in die DA-hartland, waaronder Durbanville, Llandudno en die Kaapse stadskom, tot drie keer op stemdag opgeraak het ten spyte daarvan dat die getal kiesers nie bo verwagting was nie.

Teen Donderdag was daar baie druk van veral die DA- en IVP-leiers om elke verkiesingsuitslag te bevraagteken en was ’n regspan gereed om hof toe te gaan, maar koel koppe het geseëvier.

Uiteindelik het die politieke partye die OVK eenparig verplig om vir die eerste keer sedert 1994 ’n verteenwoordigende oudit van uitslae te laat doen.

Daar is egter ernstige bedenkinge daaroor dat staatsinstansies eerder as die groot private ouditeursmaatskappye die oudit gaan onderneem.

Die DA, UDM, Cope en ACDP het dus aangedring dat politieke partye die proses monitor.

“Die OVK, die parlement en die regering het nou vyf jaar voor die volgende nasionale verkiesing om die stelsel te verander sodat verhoed kan word dat mense meer as een keer stem. Daar sal ’n manier gevind kan word dat ID-boeke en ID-kaarte geskandeer word op ’n nasionaal moniteerbare manier – dit is nie so moeilik nie.

“Dit was ook waarskynlik die laaste keer dat mense toegelaat word om buite hul stemdistrikte te stem,” het ’n bron in die presidensie Vrydag aan Rapport gesê.

Meer oor:  Verkiesing 2019  |  Ovk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.