Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing 2019
Verkiesing: Jonges ‘soek meer as vryheid’

Millenniërs wat volgende maand gaan stem, of nié gaan stem nie, se sug na ’n beter toekoms strek verder as net hul eie vryheid.

Izelle van Tonder (23), ’n meestersgraadstudent in sielkunde aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), sê jong mense van vandag se konteks verskil hemelsbreed van dié van vorige generasies.

Jong vrywilligers van die Kairos-gemeente in Bloemfontein en YWAM (Youth With A Mission) is van die millenniërs wat hul sê gesê het oor die komende verkiesing. Van links is Tiisetso Simelane, Jacobus Booysen, Thembi Motloung, Whitney Bruintjies, Amos Mokwena, Luschka van Rooyen, Lindelwa Makuba en Kekeletso Madonsela. Foto: Mlungisi Louw

“Daar is probleme en geleenthede waarmee ons nooit vantevore te doene gehad het nie. Wit, bruin of swart – elkeen het iets om te hanteer wat vorige generasies nie nodig gehad het om te hanteer nie.

“Omdat jong mense in die middel van hierdie nuwe verwikkelinge is, is ons eintlik op die ideale plek om beheer hiervan te neem.”

Sy skep moed uit haar generasie se wilskrag om van die wêreld ’n beter plek te maak, al is dit in die kleine, soos om ’n vegetariër te word, of om hulle te beywer vir vroueregte, of “iets simpel soos om nie meer plastiekstrootjies te gebruik nie”.

“Ouer generasies sal dalk hul oë hiervoor rol, maar dis ons manier om te probeer om nie dieselfde foute te maak nie en op ’n meer bewustelike manier te leef.”

Oteng Tsimatsima (24), ’n biotegnologie-intern van Thaba Nchu, stem saam met Van Tonder. Sy sê jong mense probeer op hul eie manier en in hul onmiddellike omgewing ’n verskil maak.

Sy gaan nie op 8 Mei haar kruisie trek nie.

“By die UV kry die studente inligting oor wat in die land gebeur en ’n mens hoop hulle dra die inligting oor. Ons ouers weet wat die verskil van ’n stem kan beteken. Maar nou, met die ‘vryheid’, wag ons steeds op die beloftes, daarom voel baie wat is die punt om te gaan stem?”

Tian Nienaber (25), ’n sakeman van Bloemfontein, sê hy het twee weke gelede langs die treinspoor in Kalkbaai gestap en ’n plakkaat gesien wat lui: “Keep the lights on”.

“Afgesien van die party wat die plakkaat opgesit het, het ’n lig in my hart aangegaan en ek het myself afgevra of ek gaan stem – gaan ek tyd hê; gaan ek dit reg doen; kan ek die stemproses vertrou?”

Hy glo egter die stemproses is “opreg”.

Whitney Bruintjies (20), ’n enkelma van Heidedal, sê sy weier om te stem

“My stem gaan nie ’n verskil maak nie. Al stem ek, sal ek steeds nie werk kry nie.”

My stem gaan nie ’n verskil maak nie. Al stem ek, sal ek steeds nie werk kry nie.

Sy sê die regering moet sonder ’n agenda opstaan vir wat reg is.

Die boodskappe op plakkate frustreer die jonges.

“Is dít hoe julle stemme gaan probeer werf?” vra Van Tonder. “Ons soek nie daardie vyandigheid wat tussen die partye heers nie!”

Jacobus Booysen (27) van die Kairos-gemeente in Bloemfontein sê jonges moet die somme maak voordat hulle besluit vir wie om te stem. “Die beste wat jong mense kan doen,” sê hy, “is om mekaar te begin liefhê en die beste te gee vir hul medemens.”

Eckard Binding (21), die Kovsie wat vroeër vanjaar wyd lof ontvang het omdat hy rommel tydens ’n EFF-betoging op die kampus opgetel het, sê die jonger generasie het meer kennis as tevore.

“Ons is baie meer geïntegreer in die samelewing en dit is juis hoekom ons ons kennis en vermoëns moet gebruik om ’n goeie oordeel te vorm en te gaan stem.

“As jy nie stem nie, het jy nie jou deel gedoen om demokrasie vir jou te laat werk nie.”

Plakkate spreek nie tot jonges

* Kanenelo Mokoena (26), ’n BA kommunikasie-student van Phahameng buite Bultfontein, sê: “Die partye se veldtogte spreek glad nie tot jong mense nie. Hul slagspreuke en aanslag is elke liewe jaar dieselfde. Ek dink hulle moet meer betrokke raak by jong mense. Hulle moet ons gebruik vir hul veldtogte.”

* Luschka van Rooyen (23), ’n honneursstudent in onderwys, sê sy verstaan nie waarom daar net gesigte op die plakkate is terwyl ’n beter toekoms al is wat jong mense wil sien nie. “Ek glo wel daar kom ’n wending met die verkiesing en ek glo dit sal positief wees as mense nie net in sak en as sit nie. Almal het te gewoond geraak om te sit en te wag.”

Meer oor:  Verkiesing 2019  |  Bloemfontein  |  Millenniërs  |  Stem
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.