Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing 2019
Verkiesing: Só wissel partye se steun sedert ’95

Die algemene verkiesing op 8 Mei is vinnig besig om nader te kom. Sarel van der Walt het gaan kyk hoe die vernaamste partye in die vorige vyf verkiesings presteer het.

In die vorige vyf algemene verkiesings sedert 1994 het die ANC nooit minder as 10,6 miljoen (1999) stemme op hom verenig nie.

Baie politieke ontleders meen vanjaar kan moontlik die eerste keer wees dat dié party minder as 50%-steun sal kry.

Met die eerste geskiedkundige demokratiese verkiesing 25 jaar gelede op 27 April 1994 het die party met oudpres. Nelson Mandela as leier 12,2 miljoen kiesers se steun geniet.

’n Rekord van 86,9% kiesers het daardie dag in lang rye gestaan om hul kruisies trek.

62,7% stem vir ANC in 1994

Oudpresidente Nelson Mandela (links) en FW de Klerk voor die eerste demokratiese verkiesing op 27 April 1994. Foto: Argief

Daardie dag het 62,7% van die land se kiesers vir die ANC gestem, teenoor die 20,4% van die kiesers wat vir die Nasionale Party (NP) van oudpres. FW de Klerk en die 10,5% wat die Inkatha-Vryheidsparty (IVP) van Mangosuthu Buthelezi gesteun het.

Die ANC het daardie jaar 262 van die 400 verteenwoordigers in die parlement, teenoor die NP se 82, opgelewer.

Die NP bestaan nie meer nie en die IVP – wat in die vroeër 1990’s baie sterk in KwaZulu-Natal en Gauteng was – het van 43 parlementslede in 1994 tot tien vyf jaar gelede gekrimp.

Hoewel die NP, wat later die Nuwe Nasionale Party (NNP) sou word, hom by die ANC aangesluit het, het die meerderheid NP-kiesers begin om vir die Demokratiese Party (DP) en uiteindelik die Demokratiese Alliansie (DA) te stem.

Die DP het in 1994 1,7% van die kiesers se steun geniet en sewe verteenwoordigers in die parlement gehad.

In 1999 het die DP, met Tony Leon as leier, 9,56% van die stemme op hom verenig, wat aan hom 38 parlementslede besorg het.

NP-ondersteuners help DA

Vyf jaar later het die ou NP-ondersteuners die nuwe DA gehelp om 12,3% van die stemme te kry. Die 1,9 miljoen kiesers wat tóé vir die party gestem het, het beteken die DP het 50 setels gekry.

In 2009 het dit 2,9 miljoen stemme gekry en 67 parlementslede gehad.

Vyf jaar gelede het die DA danksy 22,23% van die stemme 89 parlementslede gekry.

DA se steun kan daal

Emeritusprofessor Pieter Labuschagne, ’n politieke ontleder van Unisa, meen die DA se steun kan op 8 Mei tot in die omgewing van 20% terugsak.

Hy meen die ANC sal 55% tot 58% steun geniet, terwyl die EFF se steun met ’n persent of twee sal styg.

Die EFF het in 2014 6,4% van die steun geniet.

Die minste steun wat die ANC sedert 1994 geniet het, was die 62,15% onder oudpres. Jacob Zuma in 2014. Vyf jaar vroeër was die ANC se steun – ook onder Zuma – 65,9%.

In 2004, toe oudpres. Thabo Mbeki vir die tweede keer in ’n verkiesing die ANC-leier was, het die party 69,6% (279 parlementslede) steun geniet – die meeste nog.

In 1999, toe Mandela uitgetree en Mbeki by hom oorgeneem het, het die ANC 66,4% van die kiesers se steun geniet en 266 parlementslede gehad.

Die wegblystem uit protes teen die ANC kan die groot struikelblok vir die regerende party in vanjaar se verkiesing wees.

Die wegblystem het drie jaar gelede met die munisipale verkiesing die einde van die ANC se beheer in die metrorade van Johannesburg en Tshwane beteken.

IVP kan beter vertoon

Labuschagne meen die IVP – wat in 2014 slegs 2,41% van die stemme (441 000) gekry het – kan die ANC se verlies in KwaZulu-Natal syne maak.

Die National Freedom Party (NFP), wat in 2011 van die IVF weggebreek en drie jaar later 288 000 stemme gelok het, is nie meer ’n groot faktor nie. Dié party kon weens finansiële probleme nie in 2016 aan die plaaslike verkiesing deelneem nie.

Die PAC, wat sê hy hoop om 50 setels in die verkiesing te wen, het sedert 1994 erg agteruit geboer.

In 1994 het 243 000 mense vir dié party gestem, voordat Robert Sobukwe se eertydse party se steun skerp begin daal het.

Vyf jaar gelede het net 37 000 kiesers PAC gestem.

Hoewel daar op 21 Maart, met die Menseregtedagvieringe in Sharpeville in die Vaaldriehoek groot getalle mense met PAC-T-hemde was, meen Labuschagne dié party het hier emosionele steun.

Dit is hier waar ’n optog van die PAC op 21 Maart 1960 skeefgeloop en 69 mense deur die polisie geskiet is. Labuschagne sê die PAC droom as hy dink hy op 8 Mei 50 parlementslede verkies sal kry.

VF Plus se mikpunt ‘nie onmoontlik’

Vroeër vanjaar het dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, gesê dié party se mikpunt is 1 miljoen stemme.

Hoewel dié party vyf jaar gelede net 165 000 stemme gekry het, meen Labuschagne dat 1 miljoen stemme dalk nie onmoontlik is nie.

“Veral konserwatiewe Afrikaners wat met vorige verkiesings vir die DA gestem het, is ontnugter met die DA wat ’n ideologiese skuif gemaak het om meer swart steun te kry.”

Toe die VF Plus in 1994 as die pasgestigte Vryheidsfront met genl. Constand Viljoen aan die eerste demokratiese verkiesing deelgeneem het, het 442 000 mense vir die party gestem en hy kon nege verteenwoordigers parlement toe stuur.

Viljoen was in 1999 ook die partyleier toe die party se steun met meer as die helfte tot 127 000 stemme gedaal het.

Hierna, onder die leierskap van dr. Pieter Mulder, het die party se steun stadig maar seker toegeneem.

Nie veel hoop vir dié partye

Labuschagne sê hy verwag ook nie dat partye soos die ACDP, die UDM en Cope noemenswaardig sal groei nie.

Cope, wat in 2009 van die ANC weggebreek het nadat die ANC Mbeki herroep het, het daardie jaar ’n stewige vertoning by die stembus gelewer.

Danksy die 1,3 miljoen stemme wat Cope gekry het, was hy naas die ANC en die DA die grootste party in die land. Hy het 30 parlementslede gehad.

Hierna het erge binnegevegte dié party sodanig seergemaak dat hy in 2014 net 123 000 kiesers se eerste keuse was.

* Sy Mamabolo, hoofkiesbeampte van die Verkiesingskommissie (OVK), sê die OVK hoop dié keer op ’n stempersentasie van sowat 80%. Sowat 26 miljoen – die meeste nog – kiesers het geregistreer om te stem.

Meer oor:  Nelson Mandela  |  Fw De Klerk  |  Pieter Labuschagne  |  Steun  |  Partye  |  Ovk  |  Verkiesing 2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.