Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing 2019
VF Plus nog nie klaar met BLF

Die VF Plus se stryd teen die “rassisme en rassepolarisasie” van Black First Land First (BLF) is nog lank nie uitgewoed nie.

Die party het Dinsdag op ’n mediakonferensie by die parlement bekend gemaak dat hy hom (weer) tot die hof gaan wend nadat die Verkiesingskommissie (OVK) sy appèl teen die BLF se registrasie as ’n politieke party van die hand gewys het.

Andile Mngxitama
Andile Mngxitama (voor, middel), leier van die BLF, Donderdag saam met van die party se volgelinge buite die hof. Foto: Netwerk24

Die VF Plus is vasbeslote om te verseker dat die BLF nie aan die algemene verkiesing op 8 Mei deelneem nie.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het die OVK daarvan beskuldig dat hy “nie bereid is om te erken hy het gefouteer” toe hy die BLF toegelaat het om as politieke party te registreer nie.

Die VF Plus sal nou die Kieshof nader om die OVK te beveel om dié “fout” reg te stel.

Die party het aanvanklik in Maart vanjaar aangekondig dat hy’n hofaansoek in die Kieshof in Bloemfontein gaan bring om die BLF in sy spore te stuit, maar die party het dié hofproses weens “prosedurele redes” gestaak.

Die besluit is geneem omdat die VF Plus nie die saak weens tegniese redes wou verloor omdat hy nie alle roetes tot sy beskikking uitgeput het voordat hy hom tot die hof gewend het nie. Vandaar die appèl wat hy nou by die OVK aangeteken het teen die registrasie van die BLF as politieke party.

Groenewald sê die VF Plus hoop om Woensdag ’n datum by die hof te kry oor wanneer die geding aangehoor sal word.

Dié besluit kom sowat twee weke voor die nasionale en provinsiale verkiesing op 8 Mei. Die BLF is een van 48 politieke partye wat op nasionale vlak vir die verkiesing geregistreer is.

Die VF Plus se teenkanting teen die BLF is gegrond daarop dat die BLF se grondwet bepaal dat slegs swart mense lede van die party mag wees. “Ingevolge die Wet op die Verkiesingskommissie mag die OVK nie ’n politieke party registreer wat lidmaatskap op grond van ras, kleur of etnisiteit uitsluit nie. Die BLF se grondwet bepaal dat slegs swart mense lid van die party mag wees,” sê Groenewald.

Ons vra die hof om die BLF as ’n politieke party te laat deregistreer.
Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus

Die grondwet van die BLF skep volgens die VF Plus ook ’n teelaarde vir rassisme en haatspraak.

“Ons vra die hof om die BLF as ’n politieke party te laat deregistreer. Ons weet dat die stembriewe reeds – of in die proses is – om gedruk te word, so hul naam sal daarop verskyn vir 8 Mei. As daar na die (OVK se) gedragskode gekyk word toon dit dat die OVK ’n besluit kan neem om nie daardie party se stemme te tel nie weens die een of ander wangedrag ten opsigte van die kode,” het Groenewald uitgewys.

Andile Mngxitama, BLF-leier, het in reaksie gesê die VF Plus is “mal en bangbroeke. Hulle kan niks doen nie. Ons kom parlement toe en ons gaan hulle aanvat.”

Meer oor:  Blf  |  Ovk  |  Vf Plus  |  Verkiesing 2019  |  Dr. Pieter Groenewald  |  Vryheidsfront Plus  |  Ff Plus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.