Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing 2019
Voelers uitgesteek vir gesprekke oor koalisies

Voorbereidings vir moontlike koalisiegesprekke ná Woensdag se nasionale en provinsiale verkiesings was op stemdag in minstens een party reeds in ’n gevorderde stadium.

Ofskoon die beduidende stemuitslae eers in die vroeë oggendure verwag word, is daar Woensdag bespiegel dat die DA hom reeds begin voorberei vir moontlike scenario’s wat koalisiegesprekke tussen politieke partye kan noodsaak.

Dié moontlike scenario’s sluit in dat niks verander nie – die ANC behou politieke beheer op nasionale vlak en die provinsies bly onder die huidige politieke beheer.

’n Ander moontlikheid is dat die DA nie sy meerderheid in die Wes-Kaap behou nie, wat dit noodsaak om ’n koalisie te vorm; ’n verdere moontlikheid is dat die ANC onder 50% val op nasionale vlak of in een of meer provinsies, in welke geval daar ’n moontlikheid is dat die DA ’n koalisie met dié party kan vorm. Die DA was egter altyd gekant teen die idee om ’n minderheidsparty in enige koalisie te wees.

Nóg ’n moontlikheid is dat die DA en die EFF ’n koalisie van die een of ander aard kan vorm op dieselfde manier as dié wat tans in die metro’s van Johannesburg en Tshwane die geval is – maar op ’n breër skaal.

James Selfe, voorsitter van die DA se federale raad, het Woensdag by navraag in die nasionale stemuitslagsentrum in Pretoria gesê die DA het ’n span gereed vir die moontlikheid van koalisiegesprekke en dat voorlopige werk reeds gedoen is.

“Enige gesprekke sal egter vir die verkiesingswiskunde moet wag voordat bepaal kan word watter koalisies en samewerkings moontlik is in watter omstandighede,” het Selfe gesê.

Enige gesprekke sal egter vir die verkiesingswiskunde moet wag voordat bepaal kan word watter koalisies en samewerkings moontlik is in watter omstandighede.
James Selfe, DA

Dakota Legoete, waarnemende woordvoerder van die ANC, het ook in die uitslagsentrum egter gesê die ANC oorweeg nie moontlike koalisies nie.

“Soos dit staan, het ons nie ’n mandaat of ’n besluit deur die nasionale uitvoerende komitee (NUK) om koalisies te oorweeg nie. Ons neem aan die verkiesing deel om te wen.”

Hy het gesê die ANC het homself vernuwe en hoop om as die regerende party terug te keer. “Daar is geen twyfel nie dat pres. Cyril Ramaphosa sal terugmarsjeer na die Uniegebou as die uitvoerende hoof van Suid-Afrika en as die opperbevelvoerder van die weermag. Op 12 Mei gaan ons weer die Uniegebou beset en op 26 Mei gaan ons weer die Nasionale Vergadering beset – ons is dankbaar vir die ondersteuning en die vrygewigheid van die kiesers van Suid-Afrika en ons sê saam met hulle kan ons Suid-Afrika vorentoe neem,” het Legoete gesê.

Soos dit staan, het ons nie ’n mandaat of ’n besluit deur die nasionale uitvoerende komitee (NUK) om koalisies te oorweeg nie. Ons neem aan die verkiesing deel om te wen.
Dakota Legoete, ANC

Leigh-Ann Mathys, tesourier-generaal van die EFF, het gesê die party het nie enige gesprekke of besprekings gevoer oor hoe dit moontlike koalisies sal hanteer nie. “Dit is iets wat ons sal hanteer nadat die stemuitslae bekend is. In 2016 ná die munisipale verkiesing toe ons in gesprekke moes gaan – dit was nie eers ’n koalisie nie – toe ons saam met die DA gestem het – is dit altyd deur die nasionale amptenare van die party gelei.”

Ook Philip van Staden, senior leier van die VF-Plus, het gesê voordat daar oor koalisiegesprekke gepraat kan word, moet daar eers gewag word vir die uitslae om op die telbord te kom.

“As dit gebeur, sal dit deur die hoofleierskap van die party en die hoofleier self hanteer word. Wanneer daar voelers begin uitgesteek word, sal dit gedoen word op die regte tyd op die regte plek.”

Patricia de Lille, leier van die Good-party, het gesê geen voorbereidings is getref ten opsigte van moontlike koalisies nie. “Die nasionale uitvoerende komitee sal daaroor vergader as dit nodig is. Ons is vier maande oud en sal bly wees as ons enige setels kan kry. Sulke gesprekke sal plaasvind op die voorwaarde van wat die beste vir die kiesers en die mense is.”

Meer oor:  Da  |  Anc  |  Eff  |  Verkiesing 2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.