Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing 2019
Vyf stemlokale wat toe is: ‘Gee hulle weer kans’

Verskeie beroepe is Woensdagaand op die Verkiesingskommissie (OVK) gedoen om te verseker dat kiesers wat by vyf stempunte in die land geregistreer is maar nie daar kon stem nie, toegelaat word om dit Donderdag te doen.

Mashego Shiburi, adjunkhoof van die OVK, het Woensdag op ’n mediakonferensie in die OVK se uitslagsentrum in Pretoria gesê vyf stempunte was teen 17:00 nog nie oop nie weens onrus in die gemeenskappe waar hulle geleë is.

Kiesers het Woensdagmiddag geduldig in die lang ry in Motherwell gewag om te kan stem. Foto: Lulama Zenzile

Drie is in die onrusgeteisterde Inkosi Langalibalele-munisipaliteit (Escort) in KwaZulu-Natal en die ander twee in die Oos-Kaap, naamlik in die Buffalo City-metro (Oos-Londen) en in die Ntabankulu-munisipaliteit aan die Wildekus.

Prof. Shadrack Gutto, grondwetkenner, sê die betrokke geregistreerde kiesers moet toegelaat word om vanoggend te stem, anders word hulle hul reg op ’n vrye en regverdige verkiesing ontsê.

Ook Lawson Naidoo van die Raad vir die Bevordering van die Suid-Afrikaanse Grondwet (Casac) sê die OVK moet dringend voorsiening daarvoor maak om die mense te laat stem.

Die OVK het op die mediakonferensie ook gesê hy is bewus van beweerde pogings deur kiesers wat bedrieglik twee keer probeer stem het deur die ink van hul duimnaels te verwyder.

Sy Mamabolo, hoofkiesbeampte, sê talle mense “het doelbewus probeer om die ink van hul duime te verwyder” om dan by ’n ander stempunt te kan stem. “Dit is bedrog en iets wat die kommissie nie kan toelaat nie,” sê hy.

Die EFF het vroeër gister in ’n verklaring teen die ANC in Noordwes uitgevaar omdat ANC-ondersteuners hulle glo daaraan skuldig gemaak het.

Kiesers in 7de Laan in Booysenspark skuil onder die stukkie afdak van die sinkplaathuis terwyl hulle wag om te stem. Foto: Lulama Zenzile

Daar was ook gevalle van te min stembriewe by sekere stempunte in Kaapstad. Reëlings is getref om nog stembriewe na dié punte te stuur en die probleme is uiteindelik opgelos, sê Shiburi.

Daar was gister uit die staanspoor probleme op stemdag met sterftes wat aangemeld is, motorongelukke waarby kiesbeamptes betrokke was, 17 stemlokale wat nie betyds geopen het nie en bewerings van werkgewers wat hul personeel gedwing het om op die vakansiedag te werk.

“Ons het klagtes ontvang oor werkgewers in die handelsektor wat nie reëlings wou tref dat hul werknemers kan gaan stem nie,” het Mamabolo vroeër gister gesê.

Hy sê ook ’n bejaarde kieser is by ’n stemlokaal in Elandspoort in Pretoria dood en ’n adjunk- voorsittende beampte in die Oos-Kaap is in die nag weens siekte dood.

Daar was ook plek-plek probleme met stembusse, stembriewe en skandeerders vir identiteitsdokumente.

Athol Trollip, die DA se federale voorsitter, het Woensdag by die Walmer-stadsaal in Port Elizabeth gestem. Foto: Lulama Zenzile
Die ANC-LP en Khoi-San-aktivis Christian Martin maak gereed om sy stembrief by die houer in te gooi. Foto: Lynn Williams

“In Benoni is ’n kiesbeampte afgedank en in Ermelo het ’n party­beampte ’n kiesbeampte gehelp om stemme van ’n spesiale stemsak na die stembusse te dra. Ons het daardie stembriewe geïsoleer en die amptenaar is afgedank,” sê Mamabolo.

Julie Stanworth, provinsiale woordvoerder van die OVK in die Oos-Kaap, sê benewens die stempunte wat nie oopgemaak het nie, is twee voorvalle in die Buffalo City-metro aangemeld waar kiesers weggewys is deur mense wat by politieke partye se tafels voor die stemlokaal gewerk het.

Die mense het glo kiesers se name gevra en dan gesê hul name is nie op die kieserslys nie.

In Helenvale, Port Elizabeth, het die polisie Woensdag op ’n huis toegeslaan nadat ’n klag ingedien is oor ’n verseëlde boks met stemme wat glo in die huis is. Die huis is oorkant die Bayview Primary School, waar ’n stemlokaal is.

Die polisie kon by nadere ondersoek vasstel dat dit nie ’n boks met stemme was nie, maar ’n DA-lid se trommel met papiere en toiletpapier daarin. – Verslagspan: Lynn Williams, Cara-Lee Dorfling en Bonolo Selebano

Marlon Daniels, Patriotic Alliance (PA)-raadslid in die Nelson Mandelabaai-metro, het ook sy stem uitgebring. Foto: Lynn Williams
Mongameli Bobani, die Nelson Mandelabaai-metro se burgemeester, maak gereed om sy kruisies te trek. Foto: Cara-Lee Dorfling
Met sambrele en jasse het inwoners van Despatch Woensdag in die reën in ’n lang ry voor die kerksaal gestaan om te kan stem. Foto: Cara-Lee Dorfling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.