Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing 2019
Waldimar Pelser: Die DA se eerste mislukte verkiesing

Nelson Mandela was nog president toe Tony Leon, DP-leier, in 1999 verkiesingsplakkate opsit wat sê “Fight back!”. By ’n foto van Leon wat ’n barshou kyk, het ’n ander plakkaat in Afrikaans gesê: “Die moed om terug te slaan.” Leon se veglus het optimiste se nekhare laat rys, maar kiesers was in vervoering. Die DP se steun het van 1,7% tot 9,6% gestyg. Skielik was die DP nie meer ’n “klein party” nie en die helfte groter as die Nuwe Nasionale Party (toe op 6,9%), wat hy sou insluk om die Demokratiese Alliansie (DA) te baar.

Tien jaar later, op 13 April 2009, het Helen Zille, Leon se opvolger, die eerste “Stop Zuma”-plakkaat aan ’n paal vasgeplak, want sy het geglo Zuma se mafiapolitiek sou die land vernietig. Weer het die DA se boodskap soos ’n bom gewerk. Sy steun het van 12,4% tot 16,6% gestyg, al het meewarige kommentatore Zille se “Stop Zuma”-boodskap tongklappend as ’n “swart-gevaar-moment” getipeer. Die analis en aktivis Karima Brown, wat vir ’n lang ruk baie lief vir Zuma was, het die DA se boodskap “Zumafobies” genoem.

Ag bog. Albei die boodskappe was nie net doeltreffend nie; dit was ook die regte ding om te doen: Leon was reg dat daar aspekte van selfs Mandela se ANC was waarteen alle Suid-Afrikaners rede had om te veg (1999 was die jaar van die wapenskandaal) en Zille was kennelik reg om Zuma te wou stop toe dit nog ongewild was om dit te sê.

Nou, vir die eerste keer, het ’n DA-verkiesingsveldtog misluk.

Die DA is egter nie net gestraf omdat hy foute gemaak het nie. Die politiek, hier en elders, verander.

Die party wat in 2014 gespog het met meer as 4 miljoen stemme – 1,1 miljoen meer as in 2009 – het vanjaar honderdduisende minder stemme gelok as vyf jaar gelede en Vrydagmiddag eers deur die 3 miljoen-kerf gebreek in toestande wat, met die uitsondering van Cyril Ramaphosa se gesig op lamppale, kwalik meer ideaal kon wees vir ’n opposisieparty: ’n gediskrediteerde, korrupte ANC; ’n hatige, veglustige EFF; hoë werkloosheid; knaende kragonderbrekings; wanhoop oor die ekonomie.

Die DA se “Een Suid-Afrika vir almal”, “Stop die ANC & EFF” en “Stem teen korrupsie” het nie gewerk nie. Die party se aandeel in alle uitgebragte stemme het weliswaar met net ’n persentasiepunt of so gedaal, maar die party kon nie eens die kiesers behou wat in 2014 DA gestem het nie, wat nog te sê van groei soos hulle wou.

In Noordwes het die DA altesame 31 777 minder stemme gekry as in 2014 (’n afname van 23%). Die daling in die Wes-Kaap was minstens 100 000 (8%) en in Mpumalanga 20 000 (14%).

Waar DA-steun wel onder swart kiesers gegroei het, is dit uitgewis deur ’n daling in steun onder kiesers uit die minderheidsgroepe, wat die DA in 2014 vir die eerste keer verenig het: In 2014 het Rapport berig die party se steun onder Indiërs het gegroei tot 61%, onder bruin kiesers tot 67,7% en onder wit Suid-Afrikaners tot 92,8%. Terselfdertyd het die DA dit toe reggekry om 6% van swart kiesers te lok.

Nou lyk dit of die DA dalk in 2014 vir die laaste keer sulke oorweldigende meerderhede onder minderheidskiesers in ’n algemene verkiesing behaal het. Hul sterk vertoning in plaaslike regeringsverkiesings sal voortduur, glo ek, want baie kiesers is mos bereid om op die nasionale stembrief ’n kans te vat solank hul wyk, stadsraad en provinsie asseblief net nie ANC is nie!

Die DA se indrukwekkende prestasie in regering word met ander woorde beloon. Maar kiesers hou nie van die DA se boodskap nie.

Die party se besluit om op klein partye te pik wat onontbeerlike koalisievennote van die DA is, het kiesers vervreem wat uit huis uit simpatiek was teenoor byvoorbeeld die VF Plus, wat Woensdag die merkwaardigste politieke herlewing sedert 1994 aangeteken het deur sy getal stemme met meer as 110% te groei. Patricia de Lille se Good-party het die DA ook stemme onder bruin kiesers gekos; data uit Mitchells Plain wys die DA het in bykans elke wyk daar kwaai gebloei.

Die DA se boodskap “Stop die ANC & EFF” het insgelyks trefkrag gekort omdat daar in baie DA-kiesers se harte tog die hoop bestaan dat Ramaphosa sal slaag in sy taak, al glo hulle nie noodwendig hy sal nie. Dit is boonop nie so duidelik as wat dit onder Zuma was wat die alternatief vir die ANC is nie.

Wat die EFF betref, wel, die DA het in 2016 (Zuma-jare!) heel korrek aangevoer dat hy met die EFF moet saamwerk in Tshwane en Johannesburg om die ANC uit te skop. Hoe stop jy iemand sonder wie se steun jy nie twee sleutelstede sou kon bestuur nie?

Wat betref “Een Suid-Afrika vir almal” omarm ek die idee. Baie kiesers deins terug van etniese nasionalisme.

Maar as ’n groeiende, radikaal linkse party soos die EFF bloed soek – en dit sê – en as die ANC hom (soos in die Zuma-jare) nie daarvan distansieer nie, soek baie kiesers ’n wapen eerder as ’n welluidende ideaal. ’n Hele klomp van hulle het na Pieter Groenewald se “Slaan terug!” gegryp, dalk in die hoop dat hulle veiliger sal wees in die kleiner VF Plus-tent.

Die DA is egter nie net gestraf omdat hy foute gemaak het nie. Die politiek, hier en elders, verander. Breë kerke sukkel. Dit weet die ANC. As die DA linkse populisme wil pak, help dit nie hy self skuif bloot na links nie.

Meer oor:  Waldimar Pelser  |  Wag 'N Bietjie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.