Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing 2019
Waldimar Pelser gesels met Thabo Mbeki
Kaders: ‘Dit was ’n tydelike plan'

Nog nooit het die ANC so goed gevaar by die stembus as toe hy president was nie. Thabo Mbeki verduidelik waarom hy glo die party het die pad byster geraak.

Oudpres. Thabo Mbeki: “Die ANC het van sy beste lede verloor.” Foto: Thulani Mbele

Die ANC-regering het die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) “uit sy duim uit gesuig” en dikwels bestaande ekonomiese beleid vir ongetoetste alternatiewe verruil sonder om hoegenaamd die moontlike gevolge daarvan te bestudeer, het oudpres. Thabo Mbeki in ’n wydlopende onderhoud met Rapport gesê.

Hy het ook erken dat die regering van oudpres. Nelson Mandela, waarin hy wat Mbeki is self adjunkpresident was, in 1996 al gewaarsku is dat dit die beste sal wees om die staatsdiens te professionaliseer sodat dienslewering aan alle Suid-Afrikaners verbeter kon word, maar dat dit ANC eerder besluit het dit was “te vroeg” hiervoor. Toe breek die era van die “kader” aan, met gevolge wat vandag duidelik te sien is.

In ’n week waarin hy kiesers aangemoedig het om tog vir die ANC te stem, het Mbeki ook die ANC se beleidsbesluit oor onteiening sonder vergoeding by sy Nasrec-konferensie in Desember 2017 beskryf as ’n “radikale afwyking” van ANC-beleid wat in die middernagtelike ure deurgedwing is bloot om te keer dat die konferensie ineenstort.

Ons sê die ANC kan nie sê dat Suid-Afrika aan almal behoort wat hier woon, swart en wit, en dan sê ‘behalwe wanneer dit kom by grond’ nie. Jy kan nie. Dit is nie reg nie.

Onder Mbeki het die ANC 69,7% van die stemme behaal in 2004 se algemene verkiesing – ’n hoogtepunt – en die ekonomie het teen 5% gegroei in 2007, die jaar waarin hy by die Polokwane-konferensie deur Jacob Zuma as ANC-president vervang is.

Nou groei die bevolking vinniger as die ekonomie en vrees die ANC selfs dat hy Gauteng kan verloor. Mbeki herlei dit alles terug na sy voortydige herroeping.

“Die ANC het van sy beste lede verloor. Hulle het teruggetree en was nie meer aktief betrokke in die beweging nie,” het Mbeki (76) gesê, wat tussen 1994 en 1999 adjunkpresident was en toe president tot in 2008.

Die paleisrevolusie teen hom is boonop gesneller deur die idee dat hy “kil” was, sy Gear-beleid “neoliberaal”, en Zuma ’n charismatiese man wat “baie sensitief was vir die toestande van arm mense en die werkersklas”.

Eintlik het Mbeki en sy kabinet bloot geweet dat dit die armes is wat vir verkwisting betaal.

“Ons het eenvoudige goed probeer verduidelik, soos dat ons versigtig moet wees vir begrotingstekorte,” onthou Mbeki. “Jy kan nie vir ewig op geleende geld leef nie. Op die ou end belas jy mense om die banke te kan betaal. Daar sal geen geld wees om skole en klinieke mee te bou nie. Maar die mense wat gepraat het van die ‘1996-klasprojek’ sou sê nee, dis neoliberalisme. Nou het die behoorlike bestuur van die fiskus weer ’n probleem geword.”

Die Zuma-ANC het die ekonomie ook in ander opsigte verniel.

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens is feitlik bankrot, al floreer ’n staatsbeheerde lugdiens soos Ethiopian Airlines, en Eskom stort ineen weens redes wat, agterna beskou, kristalhelder is.

Die besluit van Eskom se direksie in 2007 – toe Mbeki nog president was – om 38 afsonderlike kontrakte toe te ken vir die bou van die Medupi-steenkoolkragsentrale eerder as ’n enkele kontrakteur, was ’n “baie groot fout”, sê die oudpresident. Die ANC se beleggingsmaatskappy, Chancellor House, het by van die kontrakte gebaat.

“Om redes onbekend aan my, en ek onthou dit glad nie, want ons was toe president, het hulle besluit om die kontrak vir die bou van die kragsentrale te verdeel: Jy doen die stoomketel, jy doen die sweiswerk, ensovoorts.” Maar daar was geen koördinering nie. Die kostes het deur die dak geskiet en bouwerk is jare agter.

Mbeki onthou ander foute van sy opvolger ook wat intussen vir talle lede van Zuma se destydse juigbrigade duidelik geword het (maar nie vir almal nie). Op ’n dag het ’n senior staatsamptenaar in die presidensie vir hom gesê dat die 300 personeellede in die president en adjunkpresident se kantore in 2008 vermeerder het tot ’n duisend teen 2015. “Ek het gesê hoekom, wat doen hulle? Hy sê toe niks, hulle kom werk toe en speel Patience op die rekenaar, of Solitaire. Ons sou nooit iets soos dit toegelaat het nie.”

Ekonomiese beleid was chaoties.

Toe die wêreldekonomiese krisis losbars in 2008 moes die regering ten regte alle moontlike beleidsreaksies bestudeer het. “Dit was net nie daar nie. Of neem die Nasionale Ontwikkelingsplan. Die korrekte manier sou gewees het om ons ekonomiese beleid sedert 1994 te bestudeer. Het dit gewerk? En dan te beplan vir die toekoms. Daardie beleidshersiening is nooit gedoen nie. Ek het mense wat daaraan gewerk het gevra, het julle dit gedoen, en hulle het nee gesê. Die gevolge is dat jy hierdie visie uit jou duim uit gaan suig.”

So die NOP, die kern van ANC- ekonomiese beplanning, “is nie ’n plan nie. Dis ’n visie. Daar is geen plan om die visie te implementeer nie. Dit is nooit bespreek nie.”

Met dié kritiek het Mbeki maar opgewarm vir sy aanslag op die ANC se hantering, laat een aand by die Nasrec-beraad, van grond, en die besluit dat die Grondwet moet verander.

“Beskou teen die konteks van geskiedkundige ANC-beleid, is dit ’n groot, radikale afwyking. Nou as jy op dié manier afwyk, moet jy dit tog sekerlik eers behoorlik bespreek? Ten einde hierdie ding te regverdig,” het hy gesê. Toe nie.

“Aan die einde het party van hulle (ANC-afgevaardigdes) gesê kom ons stem maar in tot hierdie ding, net om die konferensie te red, maar ons sal byvoeg dat dit nie die ekonomie of landbouproduksie moet benadeel nie. Jy kan nie beleid op hierdie manier maak nie. Dit sou beter gewees het om te sê, kamerade, kom ons verdaag die gesprek hieroor, want daar is skerp verskille tussen ons, om ons meer tyd te gee. Maar dit is nie gedoen nie.

“Mense in die ANC verwys graag na die Vryheidsmanifes, wat baie spesifiek is oor die grondvraagstuk, naamlik dat die grond gedeel sal word tussen dié wat dit bewerk. Dit sê nie swart, wit, setlaar, of nie setlaar nie. So, het die ANC dan nou afgewyk van hierdie standpunt?”

“Populistiese” beleid kan slegs vermy word as jy bestaande beleid grondig bestudeer en vra: Wat werk? Wat werk nie? Toe word ras die fokus . . .

“Die tese dat daar setlaars was wat Suid-Afrika toe gekom het, hulle het ons grond gevat sonder vergoeding, en daarom moet ons die grond terugvat en dit vir ons mense gee, wat op aarde beteken dit?

“Ons sê die ANC kan nie sê dat Suid-Afrika aan almal behoort wat hier woon, swart en wit, en dan sê ‘behalwe wanneer dit kom by grond’ nie. Jy kan nie. Dit is nie reg nie.”

Selfs die aanname dat massas Suid-Afrikaners landbougrond wil hê, is ’n drogargument.

“As jy praat van grondhonger, waarvan praat jy? Dit is voor die hand liggend dat daar geweldige druk is rondom stedelike grond vir menslike nedersettings. Ons moet dringend daaraan aandag gee. Maar wanneer jy praat van honger vir landbougrond... dis iets heeltemal anders.

“Met grondrestitusie het ons besef die meeste mense wie se eise slaag, verkies om die kontant te neem, eerder as die grond. Dit sê vir ons iets oor mense se houding oor grond.”

                                                                         ***

In Desember 1997, by die ANC se konferensie in Mafikeng, is Mbeki tot president van die party verkies.

By dieselfde geleentheid is ’n konsepbeleid oor kaderontplooiing oorweeg. Die beleid sou die nasionale uitvoerende komitee van die ANC opdrag gee om “ ’n kaderbeleid te ontwikkel om lede voor te berei om ontplooi of herontplooi te word in verskeie sfere van regering en staatsbeheerde entiteite en die private sektor”, skryf James Myburgh, destyds ’n DA-navorser en nou redakteur van PoliticsWeb.

Daarna het dit standaardpraktyk geword vir die ANC-regering om lojale kaders in topposte aan te stel, van die polisie tot die Suid-Afrikaanse Inkomstediens tot die Reserwebank.

Die ANC sou beheer kry oor “alle hefbome van mag”. Lojaliteit is bo alles beloon.

Ek vra Mbeki of hy steeds glo die ANC moet mik om “alle hefbome van mag” te beheer, wetende wat ons vandag weet oor misbruik? “Nee, ek dink nie so nie,” sê hy. Maar . . .

Hy onthou ’n verslag deur die presidensiële hersieningskommissie oor die hervorming van die staatsdiens (1996) waar dr. Vincent Maphai, die voorsitter, aanbeveel het dat die staatsdiens geprofessionaliseer word om dienslewering te verbeter.

“Ons het na die verslag gekyk en gesê, dit is te vroeg, want ons het ’n staatsdiens geërf wat bestaan het uit die ou staatsdiens onder apartheid plus die staatsamptenare wat van die Bantoestans gekom het. Ons het as regerende party gesê jy het ’n behoorlik funksionerende staatsmasjinerie nodig. Daarom moes ons mense vind wat ANC is, en ANC-beleid verstaan, maar wat weet hoe om die werk te doen.

“So, ons het inderdaad toe talle mense uit die ANC aangestel in poste soos DG. Want dit is duidelik dat daar ’n mate van ooreenstemming moet wees tussen die uitvoerende gesag in die regering en die staatsdiens wat die beleid moet implementeer. Ons het dit so gehou.

“En toe in 2007 – Geraldine Fraser-Moleketi was minister van staatsdiens en administrasie – het ons besluit dat ons dink ons is nou in ’n posisie om terug te gaan na wat Vincent Maphai aanbeveel het, naamlik die professionalisering van die staatsdiens.

“Ons het ’n omsendbrief uitgestuur, waarin ek aan die DG’s gesê het,” en hier beklemtoon Mbeki elke woord met sy vuis op die tafelblad, “ons dink dit is tyd om terug te gaan na hierdie kwessie in die Maphai-verslag. Kom, laat ons ’n professionele staatsdiens hê. Wie van julle is gereed om ’n professionele staatsamptenaar te word?

“Ons het allerhande dinge verander, soos reëls en regulasies, om ’n profes­sionele staatsdiens te bou. Die meerderheid het ingestem. Ons was besig om dit te doen toe jy hierdie ander verwikkelings gehad het soos die Polokwane-konferensie, so die program het uitmekaar geval.

“Dit was nooit die plan dat daar permanent ANC-mense in topposte in die staatsdiens moes wees nie.”

Meer oor:  Thabo Mbeki  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.