Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing 2019
Werkgeleenthede het meer as verdubbel – Cyril

Toe die ANC in 1994 aan die bewind gekom het, was daar agt miljoen werkgeleenthede in die land.

Nou, 25 later, is daar 16,5 miljoen, maar dit is steeds nie genoeg nie.

President Cyril Ramaphosa spreek ANC-ondersteuners by die Victory sportgronde in Mamalodi toe, tydens 'n verkiesingsveltog hier. Foto: Deaan Vivier

So het pres. Cyril Ramaphosa Donderdagmiddag op ’n voetsoolvlak-verkiesingsbyeenkoms van die ANC in die Pretoriase township Mamelodi gesê.

’n Paar honderd mense het die byeenkoms bygewoon.

Die vergadering is gehou op ’n stuk grond wat as ’n sokkerveld gebruik word en bekend staan as Victory Park.

Die meeste ANC-plakkate in die omgewing was in Afrikaans: “Saam sal ons Suid-Afrika laat groei.” Voordat die president opgedaag het, was daar groot opgewondenheid toe ’n bakkie vol T-hemde met Ramaphosa se gesig daarop aangery gekom het.

Maar nog voordat dit uitgedeel kon word, het Ramaphosa se konvooi opgedaag.

Ramaphosa is deur onder andere David Makhura, die Gautengse ANC-premier, vergesel.

Makhura, wat die ANC se premierskandidaat is, het ook ’n kort toespraak gehou en Ramaphosa voorgestel.

Inwoners van Mamalodi luister na president Cyril Ramaphosa waar hy praat met ANC ondersteuners by die Victory sportgronde in Mamalodi gesels. Foto: Deaan Vivier

Ondanks die baie Afrikaanse plakkate het die president nie ’n woord Afrikaans in sy toespraak van net meer as ’n halfuur gepraat nie, en ook baie min Engels.

Hy het hoofsaaklik Sotho, Venda en Tsonga gepraat.

“Dit is baie belangrik dat ons meer werksgeleenthede skep – en om seker te maak ons kinders kan ook in die toekoms werk kry.

“Ons moet ook meer huise bou en misdaad beveg,” het die ANC-leier gesê.

“Die ANC-regering het die afgelope 25 jaar 4,3 miljoen huise laat bou, en dit is my plan dat ons oor die volgende vyf jaar nog ’n miljoen bou.

“Grondhervorming is ook hoog op ons prioriteitslys om vir ons mense meer grond te bekom,” het hy gesê.

“Die volgende vyf jaar sal veral baie belangrik wees. Ons moet beleggers lok om meer werk te kan skep.

“Ons wil R1 300 miljard se beleggings oor die volgende vyf jaar na die land lok,” het Ramaphosa gesê.

“Ons sal van dié beleggers verwag om vir ons jeug geleenthede te gee om te werk deur hulle vir ’n jaar in diens te neem om werkervaring op te doen wat hulle later kan gebruik om werk te kry.”

Ramaphosa het gesê vroeë kinderontwikkeling (ECD) is baie belangrik.

In die toekoms sal alle jong kinders klasse by ECD-sentrums moet bywoon. Die bestuur van die sentrums word van die departement van maatskaplike ontwikkeling oorgedra na die departement van basiese onderwys, het die president gesê.

Hy het herhaal die regering beplan om in die toekoms aan alle skoolkinders tablette te gee wat hulle op skool kan gebruik. “Tablette is nie pille nie, dis rekenaars!” het die president onder ’n groot gelag gesê.

Ramaphosa het ook gesê geweld teen vroue moet gestaak word.

Nadat die ANC-leier klaar gepraat en Sandton toe vertrek het na ’n ANC-byeenkoms, is die T-hemde uitgedeel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.