Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing 2019
Wes-Kaap bly blou; nou is alle oë al op 2021

Wes-Kaapse partye rig nou al hul visier op die munisipale verkiesing in 2021 nadat die twee grootstes nie bevredigende vertonings in die provinsiale verkiesing gelewer het nie en kleiner partye gegroei het.

Ebrahim Rasool, ANC verkiesingshoof in die Wes-Kaap, wens Alan Winde, DA premierskandidaat, Vrydagmiddag geluk met sy oorwinning in die provinsiale verkiesing in die uitslagsentrum in Century City, Kaapstad.Foto: Jaco Marais

Alan Winde, die DA se premierskandidaat, het Vrydagmiddag nadat die Wes-Kaap se uitslag bekendgemaak is, gesê hy stem nie saam dat die party steun in die provinsie verloor het nie as dit met dié van die res van die land vergelyk.

Winde sê die DA gaan beslis nou introspeksie hou en ’n ontleding doen van waar sy steun verbeter en verswak het.

“Dit sal vir ons ’n goeie idee gee van waarop ons moet fokus en wat ons reg of verkeerd gedoen het.

“Ons moet daardie paar punte waarmee ons (steun) gedaal het, terugwen.”

Die DA het 1 140 653 stemme (55,45%) in die Wes-Kaap gekry, teenoor 1 259 645 (59,38%) in 2014. Die stempersentasie was 66,28% en in 2014 was dit 72,76%.

Die party verwag sowat 24 van die 42 setels in die wetgewer.

Faiez Jacobs, ANC-sekretaris in die Wes-Kaap, sê die ANC is “effens teleurgesteld” met sy uitslag in die provinsie en skryf dit toe aan “gure weer en ’n swak opkoms” onder sy steunbasis.

Alan Winde, DA premierskandidaat vir die Wes-Kaap.Foto: Jaco Marais

“Ons is ook teleurgesteld dat die Kaapse Vlakte nie die ANC ’n kans gegee het nie, ten spyte daarvan dat hulle kla oor maatskaplik-ekonomiese probleme, hoë watertariewe en die verkoop van alkohol by skole.”

Die ANC verwag 12 of 13 setels in die wetgewer. Hy het 589 056 stemme (28,64%) ontvang, teenoor 697 664 stemme (32,89%) in 2014.

Faiez Jacobs, ANC sekretaris in die Wes-Kaap.Foto: Malherbe Nienaber

Die EFF se steun het byna verdubbel, van 44 762 stemme (2,11%) in 2014 tot 83 074 stemme (4,04%) in 2019. Hy sal ’n setel kry, maar hoop op twee.

Good, die nuutgestigte party van Patricia de Lille, het ander gevestigde partye in die Wes-Kaap uitgestof en 61 877 stemme (3,01%) getrek.

Brett Herron, sekretaris-generaal van Good, sê die party is tevrede met die uitslae gegewe dat hulle net vier maande gehad het om hul veldtog te beplan en op die been te bring.

Good verwag minstens een setel in die wetgewer, maar hoop ook op twee.

Die ACDP het sy steun met byna 150% laat groei teenoor 2014 en het 2,66% van die stemme in die Wes-Kaap gekry.

Brett Herron, sekretaris-generaal van Good.Foto: Jonathan Lestrade/SON
Ferlon Christians, ACDP premierskandidaat vir die Wes-Kaap.Foto: Malherbe Nienaber
Erika Botha-Rossouw, VF Plus onderleier in die Wes-Kaap, en Peter Marais, VF Plus premierskandidaat, Vrydag in die provinsiale uitslagsentrum in Kaapstad.Foto: Malherbe Nienaber

Die VF Plus het gegroei van die agtste grootste party in die provinsie in 2014 tot die sesde grootste. Hy het met sy 32 120 stemme sy steun byna verdubbel.

  • Gauteng was Vrydagaand teen druktyd nog op ’n mespunt en dit was nie ’n uitgemaakte saak dat die ANC sy volstrekte meerderheid daar sou behou nie.

Ralph Mathekga, ’n politieke ontleder, het gesê die ANC is in tamatiestraat en as hy nie begin om na die mense te luister nie, sal hy nie meer vir lank in Gauteng aan die bewind bly nie.

Hy het gesê die mense is baie kwaad vir die ANC in Gauteng en dit is duidelik in die verkiesingsuitslae in dié provinsie.

Meer oor:  Da  |  Anc  |  Wes-Kaap  |  Verkiesing 2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.