Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing 2019
Wie gaan jy met jou X beloon...?

Die ANC beloof ’n radikale bekering; die DA, skoon regering. Rapport help jou besluit vir wie om te stem – en watter party om te vermy.

Stem ANC...

* Want Cyril Ramaphosa is die party se presidentskandidaat, en steun vir Rama­phosa kan net uitgedruk word met ’n stem vir die ANC. Sedert Ramaphosa in Februarie 2018 vir Jacob Zuma sover gekry het om te bedank, maak hy erns met pogings om die skade wat Zuma aangerig het, te dokumenteer en te korrigeer. Die klimaat van “hernuwing” wat Ramaphosa help skep, maak dit vir getuies voor regter Raymond Zondo se kommissie van ondersoek na staatskaping moontlik om met aansienlike waagmoed bykans daagliks bewerings oor korrupsie in die ANC en sy regering te maak.

Ramaphosa sal betoog dat ’n goeie vertoning vir die ANC by die stembus wys dat kiesers sy hervormings sover goedkeur en nog daarvan wil hê.

* Want die ekonomie is in ’n haglike toestand. Die laaste ding wat ons nou nodig het, is onstabiliteit. Nog vyf jaar van die ANC bied aan beleggers ’n mate van kontinuïteit. Die ANC is dalk nou nie die DA nie, wat volgens The Economist beter gerat is om die ekonomie te bestuur, maar is ook solank Ramaphosa aan bewind is nie die EFF nie. Die markte weet dalk nog nie of hy die aptyt het vir ekonomiese hervorming nie, maar weet reeds hy gaan versigtig te werk, en dat hy die belange van groot beleggers nie summier van die tafel sal vee nie.

* Want Ramaphosa hanteer die grondkwessie versigtig. Met sy advieskomitee oor die voorgenome wysiging van die Grondwet koop hy tyd – die komitee sal eers ná die verkiesing sy verslag bekend maak – en probeer hy sy beeld bevorder as ’n tegnokraat wat graag advies vra. Ramaphosa doen ook moeite om politiek uit die grondkwessie te hou en bied anders as sy voorganger grondroof nie as ’n oplossing vir enige van ons land se dringendste probleme aan nie.

Moet nie ANC stem nie...

* Want dit sou waansinnig wees om die ANC se wanbestuur met nog ’n mandaat te beloon. Die ANC is ’n misdaadsindikaat wat al vir 25 jaar – volgens sy eie erkenning – mik om alle hefbome van mag in die samelewing te beheer. Sodra hy mag kry, misbruik hy dit.

* Want die ANC het slegte planne vir die ekonomie wat selfs op Ramaphosa se wagbeurt grootliks gebou is op die beginsel van staatsbeheer. Dit is die ANC wat besluit het die Grondwet moet onnodig verander word om grondonteiening sonder vergoeding te bespoedig nadat die ANC se grondhervormingspogings onder die gewig van korrupsie en onbevoegdheid inmekaargestort het. Genoegsame beleggings sal wegbly solank as wat eiendomsregte onseker is.

* Want die ANC se sekretaris-generaal is Ace Magashule, sy adjunkpresident is David Mabuza, en sy kandidatelys sluit die name in van Malusi Gigaba, Nomvula Mokonyane en Bathabile Dlamini, wat almal direk by staatskaping en wanbestuur betrek is.

Dit is nie in hierdie spul se belang dat Ramaphosa se hervormings slaag nie. Vra jouself af: Sal jy die ANC steeds vertrou as Ramaphosa nie meer die president van die party is nie? As die antwoord nee is, stem teen die ANC, want die party kan nie vertrou word om die regte ding te doen nie.

Stem DA...

* Want nege uit Suid-Afrika se tien bes bestuurde munisipaliteite is in die DA-bestuurde Wes-Kaap. Driekwart van alle nuwe werksgeleenthede wat die afgelope jaar geskep is, is geskep in die Wes-Kaap, waar werkloosheid 14 persentasiepunte laer as die landsgemiddeld is.

* Want die DA het goeie, getoetsde planne vir die ekonomie: Privatiseer die SAL, waarborg die Reserwebank se onafhanklikheid en eiendomsreg, beperk die staat se rol in die ekonomie, bring beleidsekerheid, en hervorm arbeidsbeleid wat dit te duur maak om werkers in diens te neem en te moeilik om van hulle ontslae te raak.

* Want die DA is ’n veelrassige party wat die versoeningstaak ernstig opneem. Hoewel die DA se diverse koukus vereis dat kompromieë soms aangegaan word, probeer die party om ’n werklik inklusiewe Suid-Afrika te skep waar jou velkleur geen deure vir jou toemaak nie.

* Want die party se parlementêre koukus is uiters bekwaam en hulle het oor die afgelope tien jaar meer as hul deel gedoen om die vergrype van die Zuma-jare aan die kaak te stel en in die howe te help stuit, ten spyte van die ANC se misbruik van die parlementêre proses.

Moet nie DA stem nie...

* Want die DA verkondig die halwe waarheid dat jy jou stem “mors” as jy dit gebruik vir ’n “klein” party. Nie net was die DA self nou die dag nog so ’n klein party nie, maar is die DA steeds klein genoeg dat hy in Johannesburg, Tshwane en talle ander munisipaliteit net met die hulp van sogenaamde klein partye regeer.

* Want die DA verwys nie een keer in sy verkiesingsmanifes na moedertaalonderrig nie, laat staan nog na Afrikaans, wat deur die meeste DA-kiesers gepraat word daar waar die DA al die langste regeer. Die party is versigtig om op te kom vir Afrikaans, net soos hy bang is om regstellende aksie te kritiseer omdat hy glo swart kiesers sal hierdeur vervreem word.

* As jy van sterkman-leiers hou. Mmusi Maimane soek konsensus en kompromis eerder as stryd. Dit maak hom die uitsondering eerder as die reël, ’n man wat sy tande in ’n kerk geslyp het eerder as op straat of in die vakbondwese. In vergelyking met Malema en Ramaphosa beoefen Maimane ’n tipe politiek wat dalk te sag vir hierdie brutale land is.

Stem EFF...

* Want Jacob Zuma is weg en die EFF het die klimaat help skep waarin swart en wit teen Zuma se vergrype kon verenig. Die strydkrete “Pay back the money” en “Zupta must fall” weerklink nou nog in die gange van die Nasionale Vergadering, waar die EFF Zuma se lewe ondraaglik gemaak en die ganse ANC ten aanskoue van die publiek verneder het.

* Want studente uit arm gesinne kan vandag met staatshulp studeer. Dit was die EFF wat nog voor die ANC op gratis hoër onderwys aangedring het. Baie kiesers vind ook byval by die party se fokus op die regte van vroue en gay mense.

* Want toe die ANC weier om Zuma in 2016 te herroep, grond te nasionaliseer en e-tol af te skaf, het die EFF besluit om ’n samewerkingsooreenkoms met die ANC van die hand te wys en liewer met die DA saam te werk – met die gevolg dat die ANC nie meer in beheer van sowel Tshwane as Johannesburg is nie.

Moet nie EFF stem nie...

* Want Julius Malema word betrek by tenderkorrupsie in Limpopo terwyl die EFF betrek is by die multimiljoenrandskandaal rondom VBS-bank. Dit stink en Malema se aanvalle op Pravin Gordhan en sy verdediging van die oud-SAID-baas Tom Moyane wek agterdog.

* Want nasionalisering van myne, banke en grond, wat die EFF bepleit, beteken Venezuela, waarheen Malema in 2010 ’n afvaardiging gelei het. Hy bewonder die land steeds. Die EFF se planne vir die ekonomie is niks meer as roekelose fantasieë nie.

* Want die party verwerp openlik die grondwetlike ideaal van ’n “verenigde en demokratiese Suid-Afrika”. Malema dreig gereeld met geweld teen wit mense, revolusie en anargie.

Stem VF+...

* Hulle is die enigste wat hulle ondubbelsinnig vir Afrikaans beywer.

* Want hulle is Afrikaans, regs en konserwatief sonder om aanstoot te gee of ander (veral swart) landgenote te antagoniseer of te vervreem

*Jy kan dus waarskynlik jou laaste pennie verwed dat die VF+ weer ná Woensdag minstens vier lede parlement toe sal stuur. Soos dinge nou vir die party gaan, selfs meer.

Moet nie VF+ stem nie...

* Want die uittrede van Pieter Mulder uit die politiek het die party ontneem van sy grootste bate – ’n charismatiese leier. En of ons daarvan hou of nie, politieke partye in Suid-Afrika word gebou om die beeld van hul leier.

* Want hul fokus op wit, Afrikaanse steun plaas noodwendig ’n plafon op die party se groeipotensiaal, hul flirtasie met Peter Marais in die hoop om Wes-Kaapse bruin kiesers te lok, ten spyt.

* Want soos baie ander klein partytjies het hulle eenvoudig nie genoeg lede in die parlement om hul invloed te laat geld in die vele staande komitees waar die belangrikste parlementêre werk gedoen word nie.

Stem ACDP...

* Want dis ’n werklik veelrassige party met sterk Christen-demokratiese waardes en leiers wat openlik hul Christenskap bely en hul beleid hiervolgens rig.

* Want onder hul twee parlementslede tel die indrukwekkende Steve Swart, ’n leidende figuur in baie parlementêre subkomitees wat sy party se invloed veel verder laat strek as hul relatiewe getalsterkte.

* Want dis ’n party wat sterk klem lê op tradisionele waardes en wie se beleid klem lê op die belangrike posisie wat die gesin beklee in ’n ordelike, gelukkige en welvarende land.

Moet nie ACDP stem nie...

* Want hul siening oor maatskaplike kwessies soos aborsie, homoseksualiteit, pornografie en die doodstraf is nie altyd in pas met die goed gevestigde regte en die liberale siening wat baie Suid-Afrikaners hieroor het nie.

* Want hul het ’n nou en geslote fokus op net een geloofsgroep, Christene.

* Want hulle is ’n baie klein party wat veral op provinsiale vlak sukkel. Op die oomblik is hulle in net een provinsiale wetgewer, die Wes-Kaap, verteenwoordig.

Stem Cope...

* Want die party, veral sy leier Mosiuoa Lekota, handhaaf ’n baie sterk en beginselvaste standpunt oor grondonteiening sonder vergoeding.

* Want die party is uitgesproke daaroor om terug te keer na die oorspronklike waardes van nasiebou en die Vryheidsmanifes wat sê dat Suid-Afrika behoort aan almal wat hier woon, anders as die ANC se gedurige dubbelpratery.

Moet nie Cope stem nie...

* Want soos Bantu Holomisa se UDM is Cope wesenlik ’n eenmanparty. Nadat hulle in 2009 30 setels in die parlement gewen het, moes hulle in 2014 met net drie tevrede wees.

Lus vir iets nuut?

* Die Kapitalistiese party (ZACP) veg vir individuele regte, vryheid van spraak, ’n markekonomie, klein regering en vuurwapeneienaars se regte. Die vraag is net: Sal die Pers Koei-bende genoeg stemme kry vir ’n setel in die parlement?

Meer oor:  Cope  |  Verkiesing 2019  |  Da  |  Anc  |  Udm  |  Vf Plus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.