Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing 2019
Zuma spog met sy rol in 1985-bom

’n Bejaarde, sieklike en gebroke eerw. Aiken Zondo het Vrydag ’n nuwe huis van oudpres. Jacob Zuma ontvang vir die prys wat sy seun Andrew, die Amanzimtoti-bomplanter, meer as 30 jaar gelede aan die galg betaal het.

Eerw. Aiken Zondo stap saam met oudpres. Jacob Zuma deur sy nuwe huis in Lamontville, Durban. Zondo se seun, Andrew, is in 1986 gehang weens die Amanzimtoti-bomaanval twee dae voor Kersfees 1985. Foto: Jan de Lange

By die oorhandiging van die huis in Lamontville in Durban het Zuma, as deel van sy stemwerwingsveldtog, gespog met sy aandeel in die stuur van die span MK-kaders wat die bom in 1985 in die Sanlam-sentrum geplant het – die eerste regstreekse ANC-aanval op burgerlikes.

Zuma het jong ANC-aktiviste aangemoedig om soos Andrew Zondo, wat tien maande ná die bomaanval gehang is, ook bereid te wees om hul lewens te verloor in die stryd om bevryding. “Ons het politieke vryheid gekry, maar nog nie ekonomiese vryheid nie.

“Daar is mense wat hul lewens vir die ANC gegee het, wat gearresteer en gehang is. Julle is veronderstel om nou vir die ANC stemme te werf. As jy swart is en jy stem nie vir die ANC nie, wat beteken dit dan dat jy swart is? Ons vryheid is nog nie gewen nie,” het hy gesê.

As jy swart is en nie ANC stem nie, wat beteken dit dan dat jy swart is?

Andrew Zondo (19) het op 23 Desember 1985 ’n Russiese kleefmyn in ’n vullisdrom in die winkelsentrum geplant. Mense was besig met Kersinkopies. Vyf mense, onder wie kinders, Cornio Smit (8) en Willem van Wyk (2), is dood. Meer as 30 inkopiegangers is ernstig beseer in die bloedbad.

Zuma was toe intelligensiehoof van die ANC. Hy het Vrydag in sy toespraak, wat in Zoeloe gelewer is, onthul dat daar ses mense by die bomaanval betrokke was, maar dat Andrew Zondo ondanks erge marteling geweier het om die ander te verraai. “Baie mense sou gesterf het as hy gepraat het. Hy het egter in kommunikasie met ons laat weet dat hy tereggestel gaan word, maar dat hy niemand gaan verraai nie,” het Zuma gesê.

Zondo is saam met twee medepligtiges, Phumezo Nxiweni en Stanley Sipho Bhila, verhoor op die vyf moordaanklagte. Regter Raymond Leon, pa van die oud-DA-leier Tony Leon, het Zondo vyf keer ter dood veroordeel, maar Nxiweni en Bhila is vrygespreek.

Zondo is op 9 September 1986 in Pretoria gehang. By ’n roudiens ná sy teregstelling by die gesin se huis in KwaMashu is twee aktiviste doodgeskiet. Zondo se broer, Mdu, is so erg aangerand by die roudiens dat hy aan epileptiese aanvalle begin ly het en later daaraan dood is. Nxiweni en Bhila is albei later deur die veiligheidspolisie se moordbendes doodgemaak. Verskeie lede van die veiligheidspolisie het later by die Waarheid-en-Versoeningskommissie amnestie gekry daarvoor.

Een van die ses wat saam met hom gewerk het, was dr. Sibongiseni Dhlomo, vandag die provinsiale uitvoerende raadslid vir gesondheid wat by Vrydag die oorhandigingseremonie seremoniemeester was, het Zuma gesê. “Dr. Dhlomo kan vandag bevestig dat baie mense sou gesterf het as Zondo gepraat het.” Dhlomo is self later in hegtenis geneem en na Robbeneiland gestuur.

Volgens Zuma was die leier van die groep van ses ’n jong man “wat ek self uitgesoek het. Ek het hom gestuur, want ek het geweet hy is iemand wat die werk kan doen,” het Zuma gesê.

Dhlomo was die stukrag daaragter om sakelui te oorreed om die huis vir die Zondo-gesin te bou. “Ons is baie dank aan dr. Dhlomo verskuldig. Ek het hom aangemoedig om ná sy uittrede uit die politiek aan te hou om sakeleiers te werf wat ANC-veterane te help. Ons moet dr. Dhlomo daarvoor bedank, want hy het die borge gekry om die huis vir Zondo se familie te bou.

“Die meeste van dié wat in die apartheidsjare gehang is oor die gewapende stryd, was gewone mense soos Zondo. Dit was gewone mense wat besluit het om die land te bevry, al kos dit ook wat, selfs al sterf hulle. Ons moet ook bereid wees om opofferings te maak en te sterf as dit nodig is,” het hy gesê.

Meer oor:  Jacob Zuma  |  Doodstraf  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.