Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
2 skrywers van SA op langlys vir Booker-prys
Karen Jennings Foto: Carol Coelho vir Karavan Press

Twee Suid-Afrikaners pryk op die langlys vir die gesogte Bookerprys. Damon Galgut vir sy agtste roman, The Promise, en Karen Jennings vir haar vierde roman, An Island.

Daar is 13 boeke op die langlys, wat gekies is uit 158 romans wat tussen 1 Oktober 2020 en 30 September vanjaar in Brittanje of Ierland gepubliseer is.

Die Bookerprys is oop vir skrywers van enige nasionaliteit wat in Engels skryf en wie se boeke in Brittanje of Ierland gepubliseer word. Die lys is vroeër Dinsdag bekend gemaak.

Die plaaslike resensent Jonathan Amid dink Galgut is ’n sterk kandidaat om nou vir die derde keer die Booker-kortlys te haal.

“Hy is naas J.M Coetzee waarskynlik ons bekendste en mees gevierde skrywer sedert 2000. Ondanks stewige kompetisie van onder andere Rachel Cusk en Kazuo Ishiguro is Galgut uitstekend geplaas om ’n Booker op te raap: The Promise, met sy gewigtige temas en verstommende stilistiese en formele intelligensie, is ’n onvergeetlike ontluistering van die plaasroman.

Damon Galgut Foto: Nigel Maister

“Ek is verheug dat Karen Jennings se An Island op die lys is. Dit is die soort postkoloniale letterkunde wat jou uitboul met intensiteit, met elke greintjie van die roman wat getuig van ware vakmanskap, nuanse, empatie en deernis. Dis ’n broeiende sielkundige riller wat jy eenvoudig nie kan of wil neersit nie.”

Jennings (39), ’n boorling van Kaapstad, is ’n skrywer van romans, kortverhale en digkuns. Sy woon deesdae in Brasilië. Sy het ’n meestersgraad in Engelse letterkunde en kreatiewe skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad behaal en het dit met ’n doktorsgraad in kreatiewe skryfwerk van die Universiteit van KwaZulu-Natal opgevolg.

Sy het gedebuteer met Finding Soutbek, wat die kortlys gehaal het van die eerste Etisalatprys vir fiksie van Afrika, haar memoires, Travels with my Father, het in 2016 verskyn en ’n digbundel, Space inhabited by Echoes, in 2018.

An Island word op die Booker-webblad beskryf as ’n roman oor “skuldgevoelens en vrees, vriendskap en aanvaarding, asook die betekenis daarvan om ’n ware tuiste te hê”. Dit handel oor ’n eenkantmens, Samuel, wat al lank alleen woon op ’n eiland. Hy het net die bejaarde ligwagter vir geselskap. Toe hy ’n vlugteling op die strand vind, word sy oortuigings en belewenis van sy lewe tot dusver uitgedaag. Herinneringe aan sy lewe in sy vaderland begin hom teister, die land wat deur koloniseerders beset was en ná ’n lang en gewelddadige struweling om vryheid onder die heerskappy van ’n diktator verval het.

Galgut (58) is ’n skrywer van Kaapstad wie se werk al in 16 tale vertaal is en sy romans het al twee keer die kortlys vir die Bookerprys behaal: The Good Doctor in 2003 en In a Strange Room in 2010. Hy skryf romans en toneelstukke. Sy roman The Quarry is al twee keer verfilm.

Die skrywer Edmund White beskryf Galgut as een van die “wêreld se groot skrywers” en tipeer The Promise as die belangrikste boek wat die afgelope tien jaar verskyn het. Dit handel oor ’n gesin wat buite Pretoria op ’n plaas vergader vir die matriarg se begrafnis; die jonger generasie is in opstand teen dit waarvoor hul familie staan. Hulle is veral ontsteld oor die belofte aan hul swart huishulp wat haar lewe lank vir die gesin gewerk het, wat blyk op niks uitgeloop het nie. Sy sou haar eie huis en ’n stuk grond ontvang.

Die enigste ander skrywer van die Afrika-kontinent is die gebore Somaliër Nadifa Mohamed, wat tans in Brittanje woon.

Die volledige langlys vir die Bookerprys lyk so:

A Passage North, Anuk Arudpragasam

Second Place, Rachel Cusk

The Promise, Damon Galgut

The Sweetness of Water, Nathan Harris

Klara and the Sun, Kazuo Ishiguro

An Island, Karen Jennings

A Town Called Solace, Mary Lawson

No One is Talking About This, Patricia Lockwood

The Fortune Men, Nadifa Mohamed

Bewilderment, Richard Powers

China Room, Sunjeev Sahota

Great Circle, Maggie Shipstead

Light Perpetual, Francis Spufford

– saamgestel deur Laetitia Pople

Meer oor:  Damon Galgut  |  Karen Jennings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.