Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
3 van SA wen Switserse fotografieprys
Van die foto's deur Jodi Bieber wat haar 'n CAP-prys besorg het. Foto: Instagram

Drie Suid-Afrikaanse fotograwe is op die internasionale photo basel-kunsteskou in Basel, Switserland, met ’n Contemporary African Photography (CAP)-prys bekroon.

Jodi Bieber, Thembinkosi Hlatshwayo en Jansen van Staden het saam met Abdo Shanan (Algerië) en die duo Sanne de Wilde (Nederland) en Bénédicte Kurzen (Nigerië) met die louere weggestap.

Hulle is saam met 20 ander fotograwe, onder andere ses van Suid-Afrika, vir die prys benoem.

Bieber, ’n Johannesburgse fotograaf, verduidelik dat die prys ’n blootstellingsprys is, wat wenners toelaat om hul werk op verskeie fotofeeste se buiteluguitstallings in Afrika en Europa ten toon te stel.

“Daar is vir my geen beter prys nie, dis ’n A-plus-prys,” sê Bieber. “Dit is deesdae so moeilik om jou werk in al hierdie venues (in Afrika en Europa) uitgestal te kry.”

Bieber se weninskrywing is getiteld #i en is oor ’n tydperk van drie jaar voltooi. Haar portretreeks fokus op sowat 45 jong Suid-Afrikaners tussen die ouderdom van 15 en 23 jaar oud wat, volgens haar, “met vars, nuwe gesprekke” Suid-Afrika die toekoms kan inneem.

Hlatshwayo, ook van Johannesburg, het in sy fotoreeks Slaghuis herinneringe van sy jeug opgediep, toe hy in ’n huis met ’n aangeboude kroeg grootword het.

Daar is vir my geen beter prys nie, dis ’n A-plus-prys.

“Ek konfronteer die onopgeloste probleme wat ek met daardie kroeg het,” skryf hy in sy weninskrywing. “Ek konfronteer my geskende of miskien selfs getraumatiseerde gemoed. Ek konfronteer die herinnering.”

Van Staden, van Kaapstad, het in sy weninskrywing, Microlight, die invloed van sy pa se trauma weens die Grensoorlog op hom ondersoek.

“My generasie is die eerste Suid-Afrikaanse generasie wat nie oorlog ervaar het nie,” het hy geskryf. “Ons het die geleentheid en verantwoordelikheid om (die trauma wat van een generasie na die ander oorgedra word) te bekyk en te verseker dat dit nie aanhou nie.”

Die CAP-prys word jaarliks sedert 2012 deur die CAP-vereniging, ’n organisasie sonder winsbejag in Basel, toegeken. Vyf fotograwe, wie se werk óf in Afrika geskep is óf op Afrika-diaspora fokus, word elke jaar vereer. Vanjaar het 19 internasionale kurators, redakteurs, uitgewers en kunstenaars saam beslis wie die wenners is.

Meer oor:  Switserland  |  Jodi Bieber  |  Fotografie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.