Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
Aardklop 2014
Aanbod uiteenlopend, van goeie gehalte
Aardklop-première . . . Magdalene Minnaar in die komiese Afrikaanse opera Poskantoor. Foto: Alet Pretorius

Op die pas afgelope Clover Aardklop-fees het ’n mens besef ’n kunstefees kan óf verruklik leersaam óf baie wreed wees.

Dit hang af van jou gesindheid of die vermoë om goed te kan beplan.

Dit het ook te make met kwantiteit en kwaliteit, en as jy ’n algemene oorsigtelike mening waag, is dit tog belangrik om te onthou ’n mens kan nie al die uiteenlopende kunsvorms se geleenthede bywoon nie. En van die dissiplines wat wel onder oë en in die ore gekry is, is dit ook maar ’n kleinerige persentasie wat jy uiteindelik kan bywoon.

In dié opsig moet ’n mens noem dat ’n kunstefees soos Aardklop logisties hoë eise stel en dat die organisasie daarvan lof verdien. Net soms was die tyd wat tussen produksies gelaat is te skraps, wat meegebring het dat jy nie die opvolgende opvoering kon bywoon nie.

Toneel, en verstaanbaar Afrikaanse toneel, oorheers en ’n mens kan nie naastenby reg laat geskied aan die Aardklop-aanbod nie.

Onder die stukke en produksies van besonderse gehalte was Bloed & rose: Die lied van Jeanne en Gilles deur Tom Lanoye (Marthinus Basson het ook die teks in uitmuntende Afrikaans vertaal, asook die regie behartig binne sy eie ontwerp).

Nog ’n première was Anton Tsjechof se Die seemeeu (vertaal en verwerk deur Saartjie Botha en Christiaan Olwagen was die regisseur).

Onder uitsluitlik die plaaslike produkte het Olwagen se Dogma die aandag getrek, en ook Botha se verwerking vir die verhoog van André P. Brink se Bidsprinkaan onder Janice Honeyman se regie.

In ’n sekere mate is daar tog tonele wat ingekort kan word, maar in die geheel gesien is die stukke hoogs suksesvol en die spel oorkoepelend propvol meriete.

Wat die klassieke musiek betref, was dit veral drie konserte in die Noordwes-Universiteit (NWU) se musiekdepartement in die kykNET-konservatoriumsaal wat opgeval het. Twee konserte deur ensembles saamgestel uit dosente aan die musiekskool en ’n derde konsert, of aanbieding van ’n gans ander aard, deur die veelsydige sopraan Zanne Stapelberg en die kitaarspeler James Grace.

Piet Koornhof (viool), Human Coetzee (tjello) en Olga Tsikhelashvili (klavier) se uitvoering onder die opskrif Russiese trio’s was iets besonders danksy die seldsame aanbieding van die musiek van Chebotarian, Sviridof en Arenski. Dié vertolkings was ook van uitstekende gehalte.

Die altviolis Elmarie van den Vyver en die pianis Waldo Weyer het die daaropvolgende oggend aangesluit by Koornhof en Coetzee vir Kamermusiek van Brahms – ’n meer bekende musiek-omgewing met die Klavierkwartet in A, op. 26 en die Klaviertrio in C, op 101. Die ensemblespel was puik.

Wat Stapelberg en Grace betref: Hier is twee hoogs profes­sionele musici, soos hul uitsluitlik Spaanse kitaarsolo’s en oorwegend liedere getuig. Dit geld ook hul teenwoordigheid en tegniese finesse om die dikwels sterk uiteenlopende werke met soveel oortuiging aan te bied.

Tog ’n versoek: ’n Goed versorgde programbrosjure met hope inligting was beskikbaar, maar musici kan die gehore gerus in die foyers van konsertsale op ’n enkele A4-bladsy van hul volledige programme voorsien.

Wat die nuwe Afrikaanse opera Poskantoor betref, is dit nie vergesog nie om te sê die komponis Braam du Toit, die librettis Tertius Kaap, die ontwerpers, sangers en orkesmusici het in die Suid-Afrikaanse konteks horisonne verbreed.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.