Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
Aardklop bekroon bestes van 2014
Beste produksie: Poskantoor. Foto: Alet Pretorius
Beste aktrise: Rolanda Marais in Die seemeeu. Foto: SALMON BECKER
Beste akteur: De Klerk Oelofse as Rooi Piet in Na-aap. Foto:Lerato Maduna
Beste regisseur: Marthinus Basson vir Bloed & Rose: Die lied van Jeanne en Gilles.
PG du Plessis, skrywer en dramaturg, is vanjaar, in sy 80ste jaar, deur Aardklop vereer vir sy jarelange bydrae tot die kunste.

Drie Aardklop-debuutproduksies het vanjaar elkeen in afsonderlike kategorieë pryse gewen.

Die komiese Afrikaanse opera Poskantoor het die Clover Soveel Beter-prys vir die beste algehele aanbieding gewen. Die prysgeld is R60 000. Volgens die beoordelaars het die produksie deur klankgrense gebreek en die moderne en vernuwende aanslag plaas dit vierkant in die 21ste eeu. Braam du Toit is die komponis, Tertius Kapp die librettis en Jaco Bouwer die regisseur.

Christiaan Olwagen het die Beeld-Aartvark-prys vir grensverskuiwende werk gewen vir sy regie van Die seemeeu. Die prysgeld beloop R25 000. Die beoordelaars sê Olwagen bewys die Russiese dramaturg Anton Tsjechof is steeds in die konteks van die 21ste eeu ongelooflik aanpasbaar en relevant. Olwagen maak dit nuut en vars deur Tsjechoviaanse konvensies veral ten opsigte van karakteruitbeelding op sy kop te keer.

Marthinus Basson het die OFM-prys vir die beste regisseur opgeraap vir Bloed & rose: Die lied van Jeanne en Gilles. Gekombineer met sy ontwerp (van sowel die stel as die kostuums) is hy volgens die beoordelaars die “totale pakket”, wat die verwikkelde teks van die Belgiese dramaturg Tom Lanoye sekuur blootlê in ’n produksie wat al die elemente naatloos saamvoeg.

Rolanda Marais is bekroon met die Clover Soveel Beter-prys vir die beste aktrise vir haar rol as Nina in Die seemeeu, terwyl De Klerk Oelofse die Clover Soveel Beter-prys vir beste akteur gewen het vir sy spel in die solovertoning Na-aap. Dié drie pryse is elk R15 000 werd.

Die Burgemeestersprys van R6 000 vir die gewildste produksie is gewen deur Vir ewig en altyd (met Marius Weyers en Sandra Prinsloo in die rolverdeling en Hennie van Greunen as regisseur).

Medupi Band het die Clover Mama Afrika-prys van R5 000 vir die beste gemeenskapskunstenaar of -projek gewen.

Die dramaturg en skrywer PG du Plessis is in sy 80ste jaar gehuldig vir sy onmeetbare bydrae tot die Afrikaanse literêre skat en in die besonder ook vir sy noue verbintenis met Aardklop. ’n Installasie-werk van die kunstenaar Jan van der Merwe is by die geleentheid aan hom oorhandig.

Die beoordelaars van die onderskeie Clover Soveel Beter-pryse en die OFM-prys was die resensente Thys Odendaal en Diane de Beer, asook die skrywer en resensent Deborah Steinmair. Die resensente Rudolf Stehle en Paul Boekkooi, en die dramaturg en drama-onderwyser dr. Nico van Niekerk was die paneellede vir die Aartvark-prys.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.