Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
terug na silwerdoek
Afrikaanse rolprente van ouds laat herleef
‘Noem die naam Trompie en mense glimlag’
Die plakkaat van 1976 se Trompie-fliek.
Trompie en sy brak, Boesman .
Trompie (André Laubscher), ofte wel Grootkaptein, en sy maat Rooies maak hulle reg vir ’n avontuur in die rolprent Trompie wat van 1976 dateer.

KAAPSTAD. – Trompie. Die naam roep skurwe knieë, ’n ­reusegrinnik en eindelose, ­onskuldige avonture op ’n plek genaamd Kwaggaberg op. En daar is ’n lojale brak in die prentjie, is daar nie altyd nie?

Besoekers aan die Silwerskermfees van 27 tot 30 Augustus in Kampsbaai gaan getrakteer word op ’n blinknuwe gerestoureerde weergawe van die oorspronklike vollengte-Trompie-fliek van 1976.

Dit is gegrond op die Vrystaatse skrywer Topsy Smith se gewilde kinderreeks wat handel oor die karaktervolle Trompie en sy avonture met die Boksombende.

“Noem Trompie se naam en mense glimlag. Die Trompie-boeke is deel van die Afrikaanse kultuur – dit is steeds blitsverkopers. Ek sal my selfs verstout om te sê dit is tydloos. Elke seun sal ­aanklank vind by die avonture van Trompie,” vertel Benjamin Cowley, die hoof van Gravel Road Entertainment wat die prent ­gerestoureer het.

Dit is ’n duur proses, maar Cowley meen daar is beslis ’n mark vir die ou prente hier en oorsee. “Dit is belangrik vir ons om die prente te bewaar en ­toeganklik vir jonger gehore te maak. Dit is so ’n belangrike deel van ons rolprentgeskiedenis.”

Heelparty Afrikaanse prente is nog in aantog, maar kykers sal tot 2015 moet wag om die titels te hoor, vertel hy. Trompie gaan wel later op kykNET vertoon word.

Cowley het grootgeword in die jare tagtig en is bekend met die oorspronklike Trompie-televisiereeks met Riaan Winter. “Ek was werklik verstom om te hoor dat daar ’n vollengte-rolprent oor Trompie was nog voordat daar ­televisie in Suid-Afrika was.”

Hy vertel die prent is oorspronklik in inryteaters en ­bioskope vertoon. Hy meen só ’n belangrike stuk rolprentgeskiedenis moes net uit die stof en motgif­balletjies gehaal word.

Die “tweede” Trompie – André Laubscher – werk tans as ’n dokter in Ceres. Laubscher sê hy vind dit interessant dat die prent weer aftrek kry. “Ons sal maar moet sien of dit so gewild sal wees soos wat dit vir ons was.”

Met die hulp van die regisseur van die prent, Tonie van der ­Merwe, het Cowley die oorspronklike fliek in die Nasionale Rolprent-en-video-argief opgespoor. “Hulle het die meester-afdruk in 35 millimeter in hul ­bewaring gehad.” Daarna het die restourasie­proses van ses weke begin. Eers word die film per hand ondersoek vir fisieke skade. “Soms is die film beskadig by die splitspunte of aan die buitekant van die raampie, dit sal dan vashaak in ons skandeermasjien.”

“Nadat ’n hoogs bedrewe film­tegnikus dit herstel het, word dit eers met die hand skoongemaak en dan chemies. Dit word dan ­digitaal geskandeer op die hoogste moontlike resolusie. Terselfdertyd word die klank geskandeer en vir klankrestourasie gestuur.

“Die beeldsekwens word een vir een nagegaan sodat krap­merke, stof en greinerigeid verwyder kan word. Daar word ook aan byskrifte gewerk. Klank gaan deur dieselfde proses, beeld word by klankgreep gepas en soms nuwe klank geskep wat verlore is.

“Dit duur ses weke voordat dit vir finale versorging gestuur en ’n nuwe meester geskep word,” vertel Cowley.

  •  Gravel Road Entertainment is verantwoordelik vir die projek ­RetroAfrika Bioscope en het onlangs die geskiedkundige Joe Bullet (1973) gerestoureer. Hy restoureer honderde verlore Suid-Afrikaanse rolprente wat van die jare sewentig en tagtig dateer. Van die prente is onlangs op SABC 1 as die Mayibuye-rolprentfees vertoon.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.