Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
HARLEKIJN-KULTUURFEES
Afrikaanse sangers verstom gehoor
Die eerste Harlekijn-kultuurfees waar Afrikaanse en Nederlandse kunstenaars saam opgetree het, het meer as duisend besoekers gelok. Ingrid Glorie was daar.
Jaconell Mouton, Karin Hougaard en Pops Mohamed. Foto: Ingrid Glorie

Meer as duisend mense het die naweek na die eerste Harlekijn-kultuurfees, ’n Afrikaanse en Nederlandse kultuurfees op die Nederlandse sanger Herman van Veen se landgoed naby Soest, gestroom.

Die landgoed De Paltz met sy 19de-eeuse herehuis, beukelanings en grasvelde het ’n betowerende omgewing gebied vir die besonderse fees.

Maar die belangrikste was natuurlik die kunstenaars. Vrydagaand en Saterdag se vermaak was hoofsaaklik Nederlandse produksies. Die Suid-Afrikaanse kunstenaars het eers van Saterdagaand af hul opwagting gemaak. Een van die hoogtepunte van die Nederlandse deel van die program was ’n heropvoering deur Van Veen van sy ikoniese kinderteater-stuk wat handel oor die dapper eend Alfred Jodocus Kwak. Op dié dag, veertig jaar gelede, het hy dié karaktertjie op 29 Augustus 1976 die lig laat sien.

Lees ook: Keur van Afrik​aans op fees in Nederland

Die gehoor was van voor af betower deur die pragtige taalgebruik en die verfynde musikale verwerkings in hierdie oënskynlik eenvoudige storie.

Ná ’n intieme optrede van die gewilde Nederlandse cabaretière Claudia de Breij het die Afrikaanse sangers Luna Paige, Coenie de Villiers en Anna Davel Saterdagaand opgetree. Al drie het hulle Nederlandse gehoor verstom met die skoonheid van hul taal en hul enorme talent. De Villiers het ’n interessante program gekies vol verwysings na die Suid-Afrikaanse landskap en het getoon dat hy wat betref Suid-Afrikaanse musiek van dieselfde statuur is as Van Veen in Nederland.

Sondagmiddag het al die aanwesige kunstenaars eers ’n aantal van hulle gunsteling- Afrikaanse gedigte voorgelees, terwyl die besoekers sommer op stoeltjies in die lang gras onder die bome gesit het. Daarna het Andries Bezuidenhout – sanger, liedjieskrywer, digter en beeldende kunstenaar, onder meer ook bekend as ‘‘Roof’’ uit die Brixton Moord en Roof Orkes – party toeskouers in trane gehad met sy diep, poëtiese tekste en sy gevoelvolle en soms ironiese voordrag, en het Pops Mohamed die gehoor laat kennismaak met die inheemse instrumente van die San uit die Kalahari, soos die kora en die duimklavier.

Tydens Harlekijn en de Zuid-Afrikaanse dagen is die eerste deel van ’n versamel-CD bekend gestel om die Nederlandse luisteraars vertroud te maak met die rykdom en diepte van die Afrikaanse musiek. Al 20 kunstenaars op die album was bereid om sonder vergoeding ’n opname af te staan vir hierdie projek. Die album is verpak met ’n boekie met lirieke, ’n gedig van Van Veen. Die omslag is deur Diek Grobler ontwerp. Die opbrengs van dié projek gaan na die Suid-Afrikaanse Teaterbystandsfonds.

Na ’n regte Suid-Afrikaanse vleisbraai was Joshua na die Reën aan die beurt. Hy en sy orkes, asook twee babas, het na Nederland gereis. Dié simpatieke jong kunstenaars het die gehoor oorrompel met hul dromerige lirieke, interessante melodieë en die energie van hulle opvoering.

Jannie du Toit het spesiaal deurnag gevlieg om aan die fees te kon deelneem. Terwyl Jaconell Mouton deurentyd daar was om die kunstenaars op die klavier te begelei. Du Toit het ook enkele nommers saam met die blinde Nederlandse pianis Bert van den Brink gedoen.Veral ‘‘Die liefde’’, geskryf deur Christa Steyn, het die Nederlandse gehoor op hul voete gehad.

Karin Hougaard, wat saam met Van Veen die dryfveer agter hierdie fees is, het heel laaste opgetree. Sy het nie sommer net ’n paar liedjies gesing nie. Sy het kragte gesnoer met Mouton én met Mohamed, en haar veelsydigheid as sangeres én aktrise bewys.

Vir baie kunstenaars in Suid-Afrika en die res van die wêreld was Van Veen in sy loopbaan van 50 jaar ’n voorbeeld en ’n inspirasie. Nou was dit die Suid-Afrikaners se beurt om te wys hoeveel talent en gehalte daar ook uit Suid-Afrika kom.

Hougaard het op haar Facebookblad geskryf dat sy vanaand “so ongekend Proudly South African” gevoel het dat “my hart skoon pyn!” Dit was die gevoel van baie mense wat hierdie geskiedkundige geleentheid kon bywoon.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.