Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘Die lewe is morsig, stories kan die wêreld verander’
Chimamanda Ngozi Adichie Foto: Chimamanda.com

Die Nigeriese skrywer Chimamanda Ngozi Adichie het deelgeneem aan die Universiteit van Kaapstad se openbare lesingsreeks, waarin sy ’n pleidooi vir storievertelling gelewer het. Elmari Rautenbach het geluister.

Die lewe is morsig, dis gekompliseerd en wanneer dit nie in die boksie van ons netjies gedefinieerde teorie of vooropgestelde idee pas nie, ignoreer ons dié dele wat uitsteek. “Ons verbeel ons dis nie daar nie. Ons kyk weg.”

In haar lesing, “The Idolatry of Theory: A Defense of Storytelling”, as deel van die visekanselier se openbare lesingreeks verlede week by die Universiteit van Kaapstad, bepleit die Nigeriese skrywer Chimamanda Ngozi Adichie kragtige storievertelling as ’n manier om die wêreld te verander.

Meer as 5 000 mense oor die kontinent heen en wêreldwyd het vir die virtuele aanbieding aangemeld – die grootste gehoor tot nog toe, het prof. Mamokgethi Phakeng, die visekanselier, in haar verwelkoming gesê.

Die lesing het voortgegaan ondanks ’n ope brief aan prof. Phakeng, waarin die studenteraad protes aangeteken het teen Adichie se uitnodiging weens haar beweerde transfobiese opmerkings tydens ’n televisie-onderhoud met die BBC in 2017.

Destyds het Adichie, bekend as ’n kampvegter vir vroue- en LGBTQI+-regte, geantwoord dat wanneer daar gepraat word oor feminisme en gender, dit belangrik is om te let op die verskille in mense se ervaring van geslag. Sy het dit opgevolg met ’n sterk bewoorde opstel, “It is obscene”, in Junie vanjaar, waarin sy te velde trek teen die optrede op sosiale media deur ’n generasie jong mense wat “so bang is vir die verkeerde menings dat hulle hulself beroof van die geleentheid om te dink en te leer en te groei ”.

Chimamanda Ngozi Adichie
Chimamanda Ngozi Adichie

Dis juis die uitruil van menings – “ook dié waarmee jy nié saamstem nie” – wat die kern is van haar openbare lesingreeks, het prof. Phakeng in haar verwelkoming gesê. Sy het Adichie, wat benewens haar talle boekpryse in 2015 aangewys is as een van die tydskrif Time se 100 mees invloedryke mense ter wêreld en in 2017 as een van Fortune se 50 grootste leiers wêreldwyd, beskryf as iemand wat nog nooit bang was om vrae te stel nie.

Geklee in ’n geel T-hemp met die woorde “Nwa” daarop (wat “kind” in haar moedertaal, Igbo, beteken) en “Grace” (die naam van haar ma, Grace Ifeoma, die eerste vroulike registrateur van die Universiteit van Nigerië, wat in Maart oorlede is, enkele maande ná haar pa, James Nwoye) was Adichie haar sjarmante self.

In haar studeerkamer, met afdrukke van Afrikakuns teen die mure en ’n gekerfde houtbeeldjie in die een hoek, het sy gemaklik tussen skootrekenaar en webkamera gewissel. Op dieselfde wyse het sy haar lesing gepeper met persoonlike anekdotes, dikwels ten koste van haarself, om haar punt te maak.

Sy vertel onder meer van ’n voorval tydens haar besoek aan Suid-Afrika tien jaar ná apartheid.

“Suid-Afrikaners van alle rasse het met my oor die ‘reënboognasie’ gepraat. Ek was effens skepties oor die optimisme. Dit het te maklik gevoel.” Gedurende ’n toer van Robbeneiland was daar egter ’n onaangename voorval. ’n Wit man het in ’n Jeep verbygejaag en die groep iets aggressief toegeslinger.

“Die gids het gesê die man is ’n voormalige tronkbewaarder en het nog nie vrede gemaak met die feit dat apartheid verby is nie. Dit was as ’n verskoning aangebied, maar die Nigeriër in my het gedink, nonsens! Vir wat kan iemand hom nie net ’n klap gee nie en sê: ‘Gaan sit.’ ”

Sy het besef sy het nie insae in hoe Suid-Afrikaners hul verlede verwerk nie, maar dit het haar

laat wonder oor die storie wat die land besig was om vir homself te vertel.

“Storievertelling is ’n integrale deel van hoe ons as ’n gemeenskap die geskiedenis herskep en onthou. Maar dit kan ook ’n teenmiddel wees teen vergeet. En as die oorkoepelende teorie dié is van die reënboognasie, wat gebeur dan met die stories wat nié hierby inpas nie?

“Die blindelingse navolging van ’n teorie kan lei tot ’n onvoltooide storie. En só verminder ons die opsies wat ons gewillig is om te oorweeg vir die oplos van wérklike probleme.”

Daarom is die vertel van menslike stories so belangrik, glo sy.

Stories herinner ons daaraan dat ons nie net ’n versameling vlees en bene is nie, maar emosionele wesens.

Stories, sê Adichie, skep die geleentheid om in ’n ander se skoene te loop. Om die waarhede te ervaar van ’n ander se bestaan in teenstelling met net die feite.

“Stories herinner ons daaraan dat ons nie net ’n versameling vlees en bene is nie, maar emosionele wesens.”

Sy vertel hoe sy op ’n jong ouderdom die Igbo-skrywer Chinua Achebe se Things Fall Apart gelees het. Sy het die feite vooraf geken: Die drie jaar lange burgeroorlog wat gevolg het nadat die Igbo hul eie republiek, Biafra, in 1967 in Nigerië gestig het. Honderde mense is vermoor, verhonger, eiendom en kos is verbrand, diere is doodgesteek. Haar eie pa het alles verloor.

Chimamanda Ngozi Adichie
Chimamanda Ngozi Adichie en Michelle Obama in 2018 afgeneem

Maar dit was die menslike ervaring daarvan, soos deur Achebe uitgebeeld, wat haar aangegryp het. Die verskriklike verlies aan waardigheid. Die ontmensliking.

“Ons ken nie mekaar se stories nie.”

Sy het afgesluit met die woorde dat storievertelling waarheid en skoonheid kan skep en moontlik kan maak. Michelle Obama het op ’n keer aan haar gesê Nelson Mandela het Barack Obama moontlik gemaak. “Al was syne ’n Suid-Afrikaanse verhaal het dit die moontlikheid van ’n nuwe waarheid geskep, wat die wêreld se verbeelding aangegryp het.”

Met die bekroning van haar roman Americanah in 2013 met die National Critics Circle-prys het Adichie gesê haar skryfloopbaan het afgeskop met ’n belangrike les oor die mag van storievertelling.

Ek moes my ’n pynlike geskiedenis herverbeel waarvan ek nie deel was nie. Maar ek ís van die nalatenskap daarvan.

Sy was 29 toe sy in 2006 daarvan beskuldig is dat dit nie sy was nie, maar haar pa, ’n professor aan die Universiteit van Nigerië, wat haar debuutroman oor die Biafraanse burgeroorlog, Half of a Yellow Sun, geskryf het. Tog is dit juis die woorde waarmee haar pa altyd sy stories oor die oorlog afgesluit het, “agha ajoka” (“oorlog is aaklig”), wat sy sê haar aangespoor het.

“Ek moes my ’n pynlike geskiedenis herverbeel waarvan ek nie deel was nie. Maar ek ís van die nalatenskap daarvan.” Daarom sal sy altyd haar pa se reaksie onthou.

’n SMS van hom het gelui hy het geweet die boek sou goed wees, maar nie só goed nie.

“Toe sê hy: ‘Dankie, ons storie is nou gedokumenteer.’ En ek het gevoel, genoeg. Ek gee nou nie meer om wat enigiemand anders dink nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.