Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘Meesterplan’ vir kunstebedryf is glo op pad

Die nasionale departement van sport, kuns en kultuur het Donderdag ’n “meesterplan” aangekondig om die kulturele en kreatiewe bedryf in Suid-Afrika weer op die been te kry.

Nathi Mthethwa, die minister van sport, kuns en kultuur. Foto: Getty Images

Nathi Mthethwa, die minister van sport, kuns en kultuur, en dr. Cynthia Khumalo, die departement se adjunkdirekteur-generaal, het egter nie enige besonderhede oor die plan bekend gemaak nie, bloot dat dit aan die kom is en tans nog afgerond word.

“Ons hoop om dit volgens ons beplanning teen die einde van September aan die kabinet voor te lê, so dit staan einde se kant toe,” het Khumalo gesê.

“Talle sleutel-aksieplanne (in dié meesterplan) sal nog in die huidige finansiële jaar van stapel gestuur word.”

Die aankondiging is een van talle wat Donderdag tydens Mthethwa se eerste For the Record-sessie gemaak is. Hy het dié reeks “ongeredigeerde en regstreekse” aanlyn gesprekke begin om regstreeks met joernaliste oor talle kwessies te praat en daarmee ’n wanopvatting stop te sit dat sy departement veral kunstenaars tydens die Covid-19-pandemie versaak het.

Mthethwa het gehamer op die feit dat sy departement sedert die begin van die pandemie reeds R642,9 miljoen aan 63 363 begunstigdes uitgedeel het, drie rondes noodfinansiering aan kunstenaars gebied het én ’n samewerkingsooreenkoms met die Solidariteitsfonds gesluit het omdat hy en sy departement vir kunstenaars “omgee”.

Hy het ook glo reeds vuur onder parlementslede gemaak om die omstrede Wysigingswetsontwerp op Outeursreg en die Wysigingswetsontwerp op die Beskerming van Voordraers, wat akteurs sal toelaat om tantième te eis, vinniger te herbekyk. Albei wetsontwerpe sloer reeds sedert 2017 en is verlede jaar verder vertraag toe pres. Cyril Ramaphosa dit weens talle bekommernisse na die parlement terugverwys het. Dít het talle kunstenaars omgekrap.

Strydig met die algemene siening, gee ons om (vir kunstenaars). Ons het gedoen wat ons kon en ons sal voortgaan om ons beste te doen omdat ons kunstenaars se penarie begryp.
Nathi Mthethwa

“Ons is nie allergies vir kritiek nie – kritiek help ons om te fokus en vorentoe te beweeg – maar wanneer kritiek ter sprake is moet ons as ’n departement dalk meer kommunikeer, wat die doel van hierdie platform is,” het hy gesê.

“Strydig met die algemene siening, gee ons om. Ons het gedoen wat ons kon en ons sal voortgaan om ons beste te doen omdat ons kunstenaars se penarie begryp.”

Hy het wel erken dat hulle weens “beperkte hulpbronne” nie elke kunstenaar in die land sal kan help nie.

“Ons het wel reeds na talle kunstenaars uitgereik en hulp in dié tyd verskaf. Sedert die president die ramptoestand verklaar het, het ons al die moontlike gedoen om kunstenaars te steun omdat hulle die sektor is wat die hardste getref is.”

Netwerk24 het Mthethwa gepols oor die presidensiële stimulusprogram vir werkskepping (PESP) en of hy en sy departement gaan optree teen die Nasionale Kunsteraad se omstrede bestuur van R300 miljoen se PESP-finansiering. Die kunsteraad, wat aanvanklik veronderstel was om al dié geld teen Desember verlede jaar aan kunstenaars uit te betaal, het steeds nie uitbetalings afgehandel nie.

Vusumuzi Mkhize, die departement se direkteur-generaal, het gesê die kunsteraad se direksie het ’n forensiese ondersoek oor die aangeleentheid geloods – en dat die departement sal optree as die ondersoek enige wanbestuur ontbloot.

Hy het ook gesê daar is in dié stadium “geen sprake” van ’n tweede ronde PESP-noodfinansiering nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.