Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Sê dankie vir die engele, sê Lieb kort voor sy dood
Lieb Bester Foto: Eden Wessels

Die akteur Lieb Bester (72), wat Woensdag in Pretoria ter ruste gelê is, het twee dae voor sy dood verlede Woensdag op pad na die hospitaal aan sy broer, ds. André Bester, gesê: “Die gemeente waarvan ek deel geword het, is vol engele. Dis engele, hierdie mense. Die manier waarop al hierdie mense na my uitgereik het. My boetie, ek verdien dit nie, maar sê vir hulle ek sê dankie.”

André, van die Evangelies Gereformeerde kerk Rietfontein in Pretoria, het Woensdag sy broer se gedenkdiens gelei.

“Lieb het my in 1996 gebel. ‘My boetie, die wonderlikste ding wat met enige mens kan gebeur, het nou net met my gebeur: Ek het Christus as my saligmaker ontmoet. Hy het my kosbare siel gered.’ ”

André het verlede Woensdag Bester se Bybel langs sy bed in die hospitaal gekry.

“Net op een plek, Efesiërs 4:31 tot 32, is dit onderstreep en (daar is) ’n inskrywing in sy eie handskrif: ‘Op Vrydag 26 Julie 1996 het ek hierdie sonde van my bely teenoor die Here. En die opregte gebed van my hart is dat ek voortaan in die krag van Jesus deur die Heilige Gees sal lewe.’ Hy was nie sondeloos volmaak nie, maar ek weet hy het van daardie dag af ’n nuwe erns by die Here gekry. En daar het ook ’n dankbaarheid in hom ontstaan.”

Lieb het vroeër Covid-19 opgedoen, maar het dit volgens André die laaste twee weke van sy lewe nie meer gehad nie. Die virus het egter sy organe beskadig.

“Toe ons Woensdagoggend laat weet is ons moet dringend hospitaal toe, was my onmiddellike reaksie ‘nee, dit kan nie wees nie’. Maar ek het die vrede op sy gesig gesien. Ek is vanmiddag dankbaar om te weet my ouboet is by die Here. Ek dink aan hoe bly hy is om Pa en Ma weer te sien. Om Sunétjie (sy dogter) weer te sien. Ek dink die Here het hom van baie ellende gespaar. Ons het almal gebid dat hy nie sal ly nie. Ons is dankbaar dat die Here hom eindelik kom haal het. Die afgelope drie weke het ek ’n dankbaarheid in Lieb gesien wat moeilik is om in woorde om te sit.”

Chris Coetzer het twee liedere in die diens gesing en veterane van die weermag het sy kis gedra en ’n laaste militêre eerbetoon aan hom gegee. Lieb was ’n kolonel in die weermag.

André het die lied “Lichtstad met uw paarlen poorten”, Lieb se gunsteling- Nederlandse lied, in die diens gespeel.

“Die jaar toe Lieb 70 geword het, was daar ’n begeerte in my hart. Ek sou in April (sy verjaardagmaand) in Nederland klas gee en dit was my begeerte om Lieb saam te vat. En die Here het wonderlik voorsien. Terwyl ons in die kerk was, het ons die voorreg gehad om langs mekaar uit volle bors die lied ‘Lichtstad met uw paarlen poorten’ te kon sing.”

Lieb, wat by sy broer en skoonsuster in die pastorie in Pretoria gewoon het, was die afgelope sowat anderhalf jaar die orrelis in die gemeente.

“Julle weet nie hoe ek hom op daai stoel sal mis nie. Dikwels as ek hier staan en preek het, het dit my oog gevang hoe skud hy soos hy huil as die Woord sy hart tref. Dis ’n ongelooflike voorreg om met so ’n herinnering die lewenspad voort te sit.”

Lieb word ook deur ’n seun en twee dogters oorleef.

Meer oor:  Lieb Bester  |  André Bester  |  Pretoria  |  Gedenkdiens  |  Akteur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.