Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Stellenbosch dalk Unesco se Afrikaanse dorp van letterkunde
Darryl David is die man agter ’n bod om deur Unesco Stellenbosch as Afrikaanse dorp van letterkunde verklaar te kry.

Stellenbosch kan dalk binnekort deur die wêrelderfenisorganisasie Unesco as ’n Afrikaanse dorp van letterkunde verklaar word.

Dr. Darryl David, wat ook in 2017 gesorg het dat Durban die eerste stad van letterkunde op die Afrika-vasteland geword het, het ’n bod ingedien by die organisasie. David is ’n dosent aan die departement van opvoedkunde aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) en is bekend as organiseerder van literêre feeste landwyd. Hy was etlike jare dosent in Afrikaans aan die Universiteit van KwaZulu-Natal.

Hierdie bod is vir die groter Stellenbosch-munisipaliteit, wat die geskiedkundige dorpe Stellenbosch en Franschhoek insluit.

Volgens David hoef niemand eintlik vreeslik hard te dink oor hoekom Stellenbosch ideaal sou wees nie. Hy rits die redes af.

“Dit is die tuiste van die grootste Afrikaanse kunstefees in Suid-Afrika, die Toyota US Woordfees, daarby huisves Franschhoek die grootste Engelse letterkundefees in Suid-Afrika, en die dorp is enkele kilometer weg. Dit is ook die tuiste van die Adam Small-boekfees in Pniel, en Small is ’n reusefiguur in die kanon van die Afrikaanse letterkunde.”

Darryl David in Stellenbosch by die standbeeld van Dok Craven, legendariese Suid-Afrikaanse rugbybaas en Springbok, en sy hond, Bliksem. Foto: Verskaf

Daarby huisves dit die pasgestigte fees van kinderliteratuur. Meer as 50 000 mense het vroeër vandeesmaand ingeskakel vir dié fees wat vanjaar virtueel op Facebook aangebied is.”

David tel ook die projek Woorde open Wêrelde (WOW) van die Woordfees ter versterking van die bod by, asook die onderneming in Franschhoek om biblioteke te bou in agtergeblewe gemeenskappe.

“Min mense sal die feit betwis dat die Stellenbosch-munisipaliteit baie ondersteuning gee vir die beskikbaarmaking van literatuur aan kinders.”

Baie Afrikaanse skrywers noem ook Stellenbosch hul huis, meer as enige plek in die land en die wêreld, meen David. Dit is nog ’n goeie rede om die bod huis toe te bring.

“Dit is werklik die wieg van die Afrikaanse letterkunde. Dink aan inwoners soos Athol Fugard, Marlene van Niekerk, Etienne van Heerden en Deon Meyer.”

Indien die dorp die bod wen, is hy op die wêreldkaart saam met stede soos Dublin, Praag, Manchester, Utrecht en Melbourne, wat reeds dié eretitel dra.

“Ek is ’n ywerige dissipel van die kreatiewe netwerk wat Unesco bied. Ek glo die projek sorg vir ’n netwerk van skrywers wêreldwyd en dit beteken ons skrywers sal uitgenooi word na ander wêrelddele. Ons beplan ook ’n internasionale gebeurtenis. Dit is belangrik dat Afrikaanse skrywers trots is op hul letterkunde.”

David het in 1994 ’n lektorskap in Afrikaans aanvaar – dieselfde jaar as die geboorte van Suid-Afrika se demokrasie.

Ek dink ek het moeg geword daarvoor om op ’n eiland te wees. Dit is tyd vir Afrikaans om die boeie as taal van apartheid af te skud en haar plek te neem by die tafel saam met die groot letterkundes van die wêreld.”

“Sedertdien is ek laat voel of ek ’n tweederangse lektor is; ek word verdra eerder as verwelkom. Dit is nou voordat ek by die UWK begin het. Vanjaar is ons al 27 jaar ’n demokrasie, Mandela was ook 27 jaar op Robbeneiland. Ek dink ek het moeg geword daarvoor om op ’n eiland te wees. Dit is tyd vir Afrikaans om die boeie as taal van apartheid af te skud en haar plek te neem by die tafel saam met die groot letterkundes van die wêreld.”

Indien Stellenbosch die titel kry, sal dit David se werk word om “ ’n taal en letterkunde waarvoor ek lief is, te bevorder, sonder dat iemand ’n mens skuldig laat voel. Dit is die groot letterkunde van Breyten Breytenbach, Antjie Krog, Small, NP van Wyk Louw, Ronelda Kamfer, Van Niekerk, Wilma Stockenström, Clinton du Plessis, Eben Venter en Karel Schoeman, om maar ’n paar op te noem.

“Ons hoop ook dat dit die deure vir ’n nuwe geslag skrywers in Afrikaans sal oopmaak. Dat die skrywers sonder die stigma veroorsaak deur pigmentasie sal skryf.”

Benewens ’n bestekopname van die dorp se letterkundige tradisie, kyk Unesco na die aantal boekwinkels op die dorp, die bedrywighede van letterkundige organisasies in die gebied en of daar skryfkursusse aangebied word, word ondersoek, en of daar ’n universiteit in die omgewing is en daar letterkundepryse is vir die betrokke taal.

“Ons kan al oral regmerkies maak. Kyk hoe innoverend was die Woordfees om hul fees na DStv (in Oktober) te skuif en só in mense se huise te wees te midde van ’n pandemie. Die ATKV sowel as PEN is hier bedrywig, daar is baie pryse vir Afrikaanse letterkunde en die kortlyste vir twee van die grootste Engelse letterkundige pryse word op die letterkundefees in Franschhoek bekend gemaak. Unesco kyk ook na ’n stad of dorp se vermoë om internasionale gebeure aan te bied.”

David glo die dorp kan lag-lag sy deure vir oorsese besoekers oopgooi.

“Ons het ’n opwindende fees in vennootskap met die Stellenbosch Sculpture Trust voorgestel vir die bod. Ons wil beeldhouers nooi om beelde geïnspireer deur hul gunsteling- Suid-Afrikaanse gedig te skep. Die gedig sal dan by die beeld aangebring word.”

Hoewel die bod sterk fokus op Afrikaans, word ander tale nie uitgesluit nie, benadruk David. “Maatskaplike samehorigheid is ’n belangrike doelwit van Unesco. ’n Daglange poësiefees in Kayamandi is daarom deel van ons bod. Binnekort maak ons die stigting van ’n isiXhosa- literêre museum by die UWK bekend; dit is net 15 km van Stellenbosch. Die UWK is net so Afrikaans soos Stellenbosch.

“Die belangrike Jan Rabie- en Marjorie Wallace-prys word bestuur deur die departement van Afrikaans aan die UWK, asook die Swart Afrikaanse Skrywersimposium. Wyle Jakes Gerwel, ’n seun van die UWK, het sy huis in Somerset-Oos nagelaat as ’n skrywershuis waar Afrikaanse skrywers kan gaan skryf. En ek is ’n man van die UWK, wat die bod dryf.”

David hoop dat die simboliek van ’n Indiërman van een van die mees Engelse provinsies in die land (KwaZulu-Natal), wat die voortou neem in ’n bod om Stellenbosch die Afrikaanse Unesco-stad van letterkunde te maak, by niemand verby sal gaan nie.

As die bod suksesvol is, is die eerste fees op die kalender die Long Walk to Freedom-fees. “Die idee is om van die Paarl, die dorp wat oudpres. Nelson Mandela die eerste as ’n vry man gesien het, te stap na die Dwarsrivier-dorpe Pniel en Kylemore. Al die deelnemers gaan rugsakke dra waarin boeke is wat aan skole in dié gebiede geskenk gaan word. Die staptog sal voorafgegaan word deur ’n colloquium, wat hopelik die taal se lang tog tot vryheid vanaf die stigma van apartheid sal begin.”

Nou wag hy en al die mense wat gehelp het om die bod voor te berei, tot November om te hoor of dit suksesvol is. “Ek hoor daar is ’n wyn met die naam Afrikaans wat op Stellenbosch gemaak word. Ek gaan ’n bottel koop en dit koud hou tot die eerste week in November. Net vir ingeval.”

Die komitee wat aan die bod gewerk het, is Matthew Cyster, Adam Small-fees, Pniel, France Beyers, redakteur van Visio, die skrywers Dominique Botha, Gaireyah Fredericks en Simon Witbooi, Ingeborg Pelser van die Franschhoek-boekefees, Paul Roviss Khambule van die Lokxion-stigting in Kayamandi, Etienne van Heerden van Litnet, Jean Meiring van die raad van die Afrikaans Taalmonument, Chareldine van der Merwe van die ATKV,en Elmari Rautenbach van die Toyota US Woordfees.

Meer oor:  Bod  |  Letterkunde  |  Dorp  |  Unesco  |  Stellenbosch
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.