Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Vlak 3: Goeie en slegte nuus vir teaters, museums

Rolprent- en ander teaters, museums, galerye en argiewe mag ná byna ’n maand amptelik weer hul deure oopswaai, maar hulle sal steeds deur streng beperkings gekniehalter word.

Die Boer-restaurantteater in Durbanville, Kaapstad, in die tyd voor die Covid-19-pandemie die wêreld getref het. Die teater beplan wel om op 20 Augustus te heropen. Foto: Neels Kleynhans

Pres. Cyril Ramaphosa het Sondagaand aangekondig die aangepaste vlak 3-inperking geld van Maandag, wat baie instellings, veral dié in die kunste, weer toelaat om sake te doen.

Enige plek waar ’n kulturele aanbieding van enige aard plaasvind, moet egter om 21:00 sluit, voordat die aandklokreël van 22:00 tot 04:00 in werking tree.

Daarmee saam mag slegs 50 mense binnenshuis en 100 mense buite vir ’n kulturele aktiwiteit byeenkom, mits elke persoon ten minste 1,5 meter van mekaar af kan wees. Indien dié afstand nie gehandhaaf kan word nie, mag venues in die kunste slegs die helfte van hul kapasiteit toelaat.

Die aktrise Lizz Meiring sê sy het so gehoop Ramaphosa skrap dié reël omdat kunstenaars met beperkte gehore niks minder as ’n reuseverlies maak nie – sy het ook tot in die besonderheid lang somme op haar Facebook-blad gemaak om dit te illustreer.

“My plante kry ’n konsert in my tuin sodra die koue oor is – of hulle dit nou wil aanskou of nie!” sê sy grappenderwys.

“ ’n Mens kan net kopskud en lag. Toemaar, ek is nie moedeloos nie; daarvoor is ek net te astrant, halsstarrig, koppig en positief.”

Met die beperkings wat in alle waarskynlik tot vroeg volgende jaar gaan fluktueer, gaan dit vir ’n baie lang tyd byna onmoontlik vir teaters wees om volstoom sake te doen.
Ismail Mahomed

Sy het ook blitsvinnig op Facebook ’n antwoord gehad vir haar aanhangers wat sê sy moet eerder ’n aanlyn vertoning aanbied.

“As jy dit professioneel en tegnies ordentlik doen, soos gehore behoort te kry, moet jy professionele klank, kameramense, redigeerders en finale mengers kry én in ’n klankdigte ateljee opneem én nog sorg dat die uitsaai daarvan nie gaan vashaak of ophou nie én internetsekuriteitmaatreëls daar stel én ’n goeie, betroubare internetplatform gebruik wat tot 60% van jou kaartjieverkope vra.

“Nou trek ons al by R50 000 se onkoste as almal net hul regmatige betaling kry.”

Sy sê ook inryteaters is nie ’n opsie vir teateraanbiedinge nie omdat die onkoste – die huur van ’n skerm, venue, spesiale klank, kameras en ’n kamera-, klank- en beligtingspan – sowat R100 000 is.

Die vlak 3-inperking is “redelik onprakties vir meeste teaters” en die beperkings op gehoorlede maak teater “ekonomies onlewensvatbaar”, sê Ismail Mahomed, hoof van die sentrum vir skeppende kunste aan die Universiteit van KwaZulu-Natal.

“Met die beperkings wat in alle waarskynlik tot vroeg volgende jaar gaan fluktueer, gaan dit vir ’n baie lang tyd byna onmoontlik vir teaters wees om volstoom sake te doen.

“Teaterlui, wat geen inkomste sal hê nie, se wekroep om deur maatskaplike toelae gesteun te word, moet werklik al hoe harder opklink.”

Daar is nie maklike oplossings nie, sê hy, en dit help ook nie dat die nasionale departement van sport, kuns en kultuur “g’n idee” het waar om te begin om die kunstesektor genoegsaam te ondersteun nie.

• Nu Metro Cinemas het bevestig dat sy teaters op 30 Julie sal heropen, maar dat hulle slegs van Vrydae tot Sondae en op openbare vakansiedae sake sal doen. Lokettreffers soos Space Jam: A New Legacy en Fast & Furious 9: The Fast Saga sal dadelik begin wys.

Meer oor:  Kunste  |  Lizz Meiring  |  Vlak 3  |  Ismail Mahomed
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.