Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
André P. Brink gesels oor vroue van vlees en op papier
André P. Brink

SEDERT sy Sotho-oppasser haar liefde vir stories met hom as kind gedeel het, die invloed van sy suster, die skrywer Elsabe Steenberg, sy verhouding met Ingrid Jonker en ander daarna, vind in die Afrikaanse skrywer André P. Brink se oeuvre ’n ingewikkelde wisselwerking tussen vroue op papier en in die vlees neerslag.

Op die US Woordfees in Stellenbosch, waar hy twee jaar gelede ook oor die titelkarakter van sy roman Philida gesels het, is vanjaar op die fees opnuut na sy werk gekyk, met die fokus op die vrouekarakters in sy romans.

In ’n gesprek met die skrywer-joernalis Willemien Brümmer het Brink, wie se werke in tientalle tale vertaal is, dié aspek van sy skrywerskap bekyk.

Hy het verwys na sleutelvrouefigure in sy lewe soos sy Sotho-oppasser en haar liefde vir stories vertel en sing, en veral sy suster wat voor hom begin publiseer het.

Ná hul hegter band van vroeër het hy sy suster se werk in ’n stadium op ’n afstand gehou.

Die bekende vrouekarakter in Brink se werk is die nimfagtige vrou.

Hy self heg aan dié figuur die betekenis van ’n lewe na aan die natuur, ’n spontane bestaan.

Brümmer het gewys op die wyse waarop hy telkens ’n stereotipe opstel en dit dan ondergrawe.

“Die ondergrawing het mettertyd meer van ’n motivering geword,” het hy gesê.

Wat sprekend is van verskeie van sy figure “is ’n blywende sin vir skoonheid, die jeug, die provokatiewe, dit wat uitdagend is”.

Vroue bevat “die begeerlike in die mens en dit wat naaste is aan die wesenlike van menswees”.

Brümmer het geskerts dat baie lesers seks ontdek het deur Brink se boeke. Waarop hy gesê het: “Ek ook!”

Onvermydelik het die gesprek ook gegaan oor die menslikheid en die langdurende invloed van Jonker.

Sy belewing van haar “enorme register van menswees” was vir hom intens.

“En sy het ’n helse humorsin gehad. Sy wou nooit inpas by ander mense se beeld vir haar as vrou nie.”

Soos die geval was met die roman Philida, delf Brink in sy komende boek in die Brink-familiegeskiedenis.

Die hoofkarakter, Josie, “was ’n merkwaardige” vrou met ’n lewe ryk aan ervaring en geskeur tussen uiterstes: Sy het op 17 jaar weggeloop na Engeland, waar sy bevriend geraak het met Oscar Wilde en in van sy stukke opgetree het.

Josie was ’n uiters eksentrieke vrou wat met ’n skatryk man in Suid-Afrika getrou het, in ’n swart koets gery het wat deur sebras getrek is, en verskeie minnaars gehad het, onder andere koning Edward VII van Engeland.

Sy het ook, ná haar terugkeer uit Engeland, die Anglo-Boereoorlog beleef.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.