Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
Bartho Smit se nalatenskap opnuut bekyk
Bartho Smit word erken as een van die voorste Afrikaanse dramaturge van sy tyd, maar as leidende figuur in Sestig het die establishment hom nie na waarde geskat nie. In die week dat hy 90 sou geword het, het Willem de Vries van sy medeskrywers en mense wat hom in die toneelwêreld meegemaak het, gevra om sy werk opnuut in oënskou te neem.
Bartho Smit op kantoor in die Afrikaanse Pers in ­Johannesburg in 1967. Foto: Anna Rudolph

Bartho Smit word erken as een van die voorste Afrikaanse dramaturge van sy tyd, maar as leidende figuur in Sestig het die establishment hom nie na waarde geskat nie. In die week dat hy 90 sou geword het, het Willem de Vries van sy medeskrywers en mense wat hom in die toneelwêreld meegemaak het, gevra om sy werk opnuut in oënskou te neem. 


Andre P. Brink

’n Rigtende geesdrif

Bartho Smith (1924 – 1986) het ná sy verblyf in Europa, waar hy hom veral in die na-oorlogse teater van Bertolt Brecht en sy tydgenote in Duitsland verdiep het, ’n ­hele register van die teater in die bewussyn van ons jong Sestigers laat posvat.

Afgesien van sy eie lewendige belangstelling in Duitsland, waar hy hom jare lank verdiep het in die prosa en drama van sy tyd, kon hy ook spesifiek oor die werk van Brecht – en tydgenote soos Dürrenmatt en ander uit die prosa en drama van sy tyd – lig opsteek by sy wonderlik begaafde en inspirerende aktrise-vrou, Kita Redelinghuys, wat baie ­intens betrokke was by alles in die teater in Johannesburg en Pretoria (en metter-tyd ook al hoe meer by ­daardie destydse Mekka van die Afrikaanse teater in Bloemfontein).

Hy kon vir ons, wat hoofsaaklik ons ­inspirasie in Frankryk gaan soek het, die hele dimensie van die Duitse teater oopmaak.

Daarby was Smit se eie werk natuurlik algaande ’n bron van lewende inspirasie. Hy en die inspirasie Redelinghuys was, tesame, in daardie jare vir ons ’n voorloper van die soort leeftog wat later van Cobus Rossouw en Sandra Kotzé uitgegaan het. Die ure en dae en nagte wat Redelinghuys en Smit ons ­onderhou het met vertellings van hul jare in Duitsland, was meer werd as jare van studie. En deurgaans was hul inligting van binne af verlig deur hul geesdrif en jare van lewe en werk in die hart van wat hulle intiem in Europa leer ken het. Tesame het hulle aan daardie stralende eietydse hoofstuk vir ons ’n onuitroeibare lewe en geesdrif gegee, wat deel geword het van ons ondervinding en van die sin vir die wonderlike en die ­onver­wagte wat so ’n kerndeel van die begrip “Sestig” geword het. – André P. Brink

Sandra Kotzé en Cobus Rossouw Foto: Michael Hammond

’n Inspirasie om mee saam te werk

Cobus Rossouw: Ek het Bartho Smit in 1958 ontmoet toe ek en sy vrou, Kita Redelinghuys, ­gespeel het in die NTO-produksie Jakkalsstreke van ­Sca­pino, skitterend vertaal deur hom. Die jaar daarna het ons die eerste keer saamgewerk toe hy sy eerste stuk, Moeder ­Hanna, in die Bellville-skouburg vir NTO geregisseer het. En ek, bloedjonk nog, Oupa Harmse ­gespeel het.

Sandra Kotzé: Ek het hom jare daarna, in 1965, ontmoet nadat ek as speelster by Truk ­aan­gestel is. Kita het my aan ­Bartho voorgestel omdat hy my van ­naderby wou leer ken, ­aangesien ek ’n moontlike ­kandidaat vir Maria in Put­sonderwater kon wees.

Wat my die meeste van hom beïndruk het, was sy rustigheid en sjarme. Vyf jaar later sou Putsonderwater deur Kruik opgevoer word. Ek, Cobus en Siegfried Mynhardt is gekontrakteer en sou saam met Bartho na Kaapstad vertrek om met ­instudering te begin.

CR: Die stuk is egter tot ons ontsteltenis ter elfder ure afgelas deur die hoofraad van Kruik! Die inhoud van die stuk was, het ons later verneem, nie ­geskik vir “ons Afrikaanse ­toneelgangers ten opsigte van ons volkslewe en -denke nie”. Selfs toneelkenners soos W.E.G. Louw het gedink die stuk is “on­toneelmatig” en “ ’n prul”.

SK: Moeder Hanna moes weer tot die redding kom. Dié keer met Siegfried Mynhardt as ’n skitterende Oupa, Kita as ­Hanna, ek as Maria en Cobus as Ouboeta.

CR: Bartho se regie van sy eie werk was deurdag en deurleef en ons het sy leiding as kundig en gegrond ervaar. Hy was simpatiek en geduldig teenoor die spelers; tipies weerspieëlend van sy persoonlikheid. Ook in 1973 met Langenhoven se 100-jarige herdenking, toe ons in sy verhoogverwerking ­Sagmoedige Neelsi e gespeel het, was sy regie inspirerend en ­samewerking met hom was ­uiters aangenaam.

SK: Dit is nogal ironies dat ’n mens meer van Bartho leer ken het deur sy skitterende ver­talings uit Frans en Duits as deur sy eie werke wat keer op keer deur sensuur weggewys of ­onaanvaarbaar, selfs as im­moreel en vuil beoordeel is. Soos byvoorbeeld Christine.

Dieselfde lot het Die verminktes getref. En Bacchus in die ­Boland het dieselfde pad geloop. Twee dae voor die opening het ek ’n bevel gekry om aan die verhoogpersoneel opdrag te gee om die stel te verwyder. Geen rede is ooit verstrek nie.

Ek was die regisseur, Cobus sou die hoofrol vertolk en ­Bartho was op pad van Johannesburg om die laaste kleed­repetisie by te woon . . .

CR: In Ilse Salzwedel se radioprogram Skrywers en boeke vroeër vanjaar sê Paul Boekkooi hy het twee groot helde in die Afrikaanse drama: Bartho Smit en Pieter Fourie.

Die verskil is hoewel sommige van Fourie se werke dieselfde aanslag moes verduur deur mense wat nie die doel en wese van die toneel verstaan nie, dit tog die verhoog gehaal het.

Vir Bartho Smit was dit ’n ramp en dit het hom byna ­geknak. Maar rustig het hy ­gebly en sy sin vir humor ­behou. In sy laaste dae het hy gesê hy wil so graag nog een stuk skryf. – Cobus Rossouw en Sandra Kotzé

Braam de Vries

Smit bied talle insigte

Oudmodies soos dit mag klink, Bartho Smit was die “vader” van Sestiger, die tydskrif; die redaksie het hy en Chris Barnard saamgestel. Hy het ­daarna in die tydskrif ­nadruk gelê op die kompleksiteit, die vele dimensies van menslikheid, dus ook van opstandigheid.

Ek was by die agtermiddag toe hy en Chris Barnard (hulle het my op die lughawe gaan haal) by die Unie-Boekwinkel in Pretoria die finansiering van die tydskrif gaan ­bespreek het.

Die seminale bydraes van André P. Brink, Etienne Leroux, Breyten Breytenbach, Elsa Joubert en Adam Small in die tydskrif en ook op jaar­vergaderings van die Skrywersgilde is bekend.

Smit se artikel in Standpunte oor Henri Michaux, die “geheime bron wat ’n duisend strome voed”, is by terugskouing een van die insiggewendste as ­agtergrond vir Jan Rabie se 21 en later Breytenbach se Katastrofes. So ook sy vertalings van Michaux se gedigte, onder meer “Dat hy mag rus in opstand”, waarin hoorbaar reeds Eluard se “Liberté” én Ingrid Jonker se verse in Rook en oker klink.

Dit is opvallend in hoeveel van sy dramas Christus-verwante figure voorkom soos, Maria in Put­sonder­water en Christine in die gelyknamige drama. Sy artikels oor “Die krisis van ons werklikheidsbeeld in drama en epiek” noem John Kannemeyer met reg “ ’n sleutelopstel” vir begrip van party Sestigerwerk. Bewustheid van die veranderende religieuse dimensies van menslikheid was eie aan Smit se manier van dink.

Tot sy nadeel kon hy ook lag. Hy het waarskynlik sy geliefde Bertolt Brecht se bekendstelling van homself (Ich, Bertolt Brecht, bin aus den schwarzen Wäl­dern) in gedagte gehad toe hy homself in ’n gedig jare voor sy ­dramas só bekend gestel het:

Wie is ek?

Waar kom ek vandaan?

Ek is Bartho Smit

Ek kom van my moer

En ek gaan na my moer.

Byna, sou mens kon sê. Maar sy tradisie van ­mis­kennings en teleurstellings is verbreek toe hy wel die Hertzogprys gekry het. – Braam de Vries

Sy verset deurentyd lojaal

Vir my is Bartho Smit ­bowenal die skepper van Christine, ’n baanbrekersdrama met ’n uitsonderlike belewing van tyd en werklikheid; meedoënloos word ’n gekwelde bewussyn voor jou oë waar.

Ons ag hom ook vir sy rol as uitgewer. Nie alleen het hy deur vertalings die Afrikaanse leser aan werk in ander tale bekend gestel nie, maar talle skrywers wat buite die heersende ­patroon gewerk het, is voortdurend aangemoedig.

Per slot van rekening was hy saam met Chris Barnard verantwoordelik vir die dubbele debuut van Breyten Breytenbach in 1964, Die ­ysterkoei moet sweet en ­Katastrofes.

In sy beginjare het hy ­tydens ’n Europese verblyf kennis gemaak met die skryfwerk van die na-oorlogse skrywers in Nederland en Duitsland, en met sy terugkeer het hy soos ­André Brink (en N.P. Van Wyk Louw) ’n ruim aandeel ­gehad in die formulering van wat vernuwende letterkunde alles inhou; wat in die 1950’s in Nederland ­gebeur het, daarvan sien ons al die trekke by die Sestigers. Dan was hy ook die sentrale dryfveer agter die stigting van die Afrikaanse Skrywersgilde in 1975.

Vroeg in die sestigerjare sien sy Putsonderwater die lig en in die tydskrif Sestiger, waarvan hy aanvanklik die klandestiene redakteur was, verskyn stimulerende opstelle. Deur sy toedoen publiseer Afrikaanse Pers-Boekhandel bundels soos Windroos met bydraes deur die voorste name van sy mede-Sestigers.

Ons samewerking dateer eers van die einde van die sestigerjare toe ons saam op die redaksie van Kol was.

Dit was alombekend hoe hy hom altyd vasgeloop het teen die onverdraagsaamheid jeens alles wat die heersende denkraamwerk in die geringste uitgedaag het. Die swaard van afdanking as uitgewer het feitlik konstant oor sy kop bly hang. In hierdie tyd het my eie, latere prosa­debuut ook by Afrikaanse Pers-Boekhandel ’n draai gemaak en in die slag gebly ten spyte van Smit se geesdriftige ontvangs en ’n gunstige literêre aan­beveling, maar ’n ouderling het ongeërgd sy gestewelde voet dwars gesit.

Van die grootste teleurstellings het Smit feitlik met reëlmaat te beurt geval, nie alleen miskenning nie, maar meer as een keer is ’n drama-opvoering gekanselleer. Ten spyte hiervan het hy voortgewerk, binne die raamwerk, sy verset was deurentyd lojaal. – John Miles

John Miles
Adam Small

’n Blywende bydrae

Ons is geseënd met ’n kragtige jong literatuur in Afrikaans, en as een ­voor­beeld hiervan noem ek graag Bartho Smit se ­dramakuns.

Die digter T.T. Cloete het onlangs kommer laat blyk dat “die politiek van die dag die Afrikaanse gedig, drama, roman en kort­verhaal gaan doodmaak”.

Ek deel Cloete se houding oor die politiek, hetsy links, hetsy regs. Ek meen egter dat ons nie in die minste angstig oor so ’n doodmaak van ons letterkunde hoef te wees nie: Die politieke geraas sou lankal gesterf het, dan sal ons letterkunde voortleef.

Smit het gesorg vir van die beste werk in ons drama­skat, stukke soos die welbekende Putsonder­water, Moeder Hanna en Die Keiser.

Hy is ’n ánder soort ­dramaturg as ekself, maar nouja, daar is verskillende soort aanslae in die genre, elke styl synde geldig.

Terwyl my eie manier, soos ek dink, ’n sagter en liriese warmte bring, is Smit se werk in ’n harder, bykans ­liturgiese styl.

’n Onlangse RSG-aanbieding van Putsonderwater het dit vir my herbevestig.

’n Mens kan Smit se werk ook as realisties ­bestempel, half-tragies en ritualisties, met ’n onderlaag van sarkastiese ­sinisme, soos van Bredero en Hooft in die 17de eeu.

Hoe ook, Smit se werk het my altyd nog waar­derend gevind, en sy ­bydrae tot ons literatuur is ­bly­wend.

Ek was bevoorreg om Smit persoonlik te ontmoet toe ek in 1974 in Johannesburg was en hy nog die verbintenis met die Afrikaanse Pers gehad het. – Adam Small

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.