Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
Beeldhouwerke in buitelug op landgoed uitgestal

JOHANNESBURG. – Die tweede Winter Sculpture Fair word op 10 en 11 Mei op die Nirox-landgoed in die Wieg van die Mensdom in Gauteng aangebied.

Benewens die versorgde omgewing van die Nirox-landgoed is daar ’n uitstalling van beeldhouwerke en stalletjies met fynproewerskos en wyn van die Franschhoek-omgewing.

Die mark, aangebied deur MasterCard, word gereël deur Artlogic, wat ook onder meer jaarliks die Joburg Art Fair aanbied.

Die landgoed van sowat 15 ha is nie gewoonlik oop vir die publiek nie.

Soos verlede jaar vertoon die kurator, Mary-Jane Darroll, beeldhouwerke in die Nirox-landskaptuin – onder groot bome, langs water en op oop grasperke.

Beelde van Marco Cianfanelli en Angus Taylor is te sien, maar volgens Ross Douglas, direkteur van Artlogic, is daar vanjaar ook die werk van Suid-Afrikaanse kunstenaars te sien wat terug is in die land ná ’n verblyf in die buiteland soos Johan Thom, Aliza Levi en Sean Blem.

Met geld wat MasterCard verlede jaar bewillig het, het die Nirox-stigting Frank van Reenen opdrag gegee om ’n werk te skep. Dié beeld, The Giant, word vanjaar vertoon.

Darroll het vanjaar sowat 100 beelde van 50 kunstenaars, onder meer dié van Willem Boshoff, Doreen Southwood, Richard Forbes, Hannelie Coetzee, Rodan Hart, Lwandiso Njara, Bronwyn Lace, Liza Grobler, Stephen Hobbs, Marcus Neustetter, Michelle Mathieson, Jeremy Rose, Stephan Erasmus en Gordon Froud ingesluit.

Besoekers kan kos en wyn by die stalletjies koop en piekniek hou op die landgoed.

Restaurante soos die Bread & Wine Vineyard-restaurant, The French Connection en The Kitchen at Holden Manz verkoop varsgemaakte middagetes.

Onder die landgoedere wat wyn by die geleentheid sal verkoop, is Haute Cabrière, Môreson, Leopard’s Leap, Vrede en Lust en La Motte. Wyn en vonkelwyn kan per bottel of per glas gekoop word.

Daar is ook kaas, delikatesse en sjokolade van die Franschhoek-omgewing beskikbaar. Dié wintermark is op albei dae oop van 10:00 tot 17:00. 

• Kaartjies kos R100 en die getal is beperk. Bespreek by webtickets.­co.za. Toegang is gratis vir kinders o.12. Vir aanwysings besoek wintersculpturefair.co.za.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.