Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
AKTIEWE, KREATIEWE ROL ERKEN
Belgiese universiteit vereer André P. Brink
‘Kosbaarste eer ter wêreld’
Die Afrikaanse skrywer André P. Brink

Die Afrikaanse skrywer André P. Brink gaan op 2 Februarie ’n eredoktorsgraad van die Franstalige Katolieke universiteit in Leuven, België, ontvang.

Vir Brink is dit ’n belang­rike verering omdat prof. Rob Antonissen, ’n letterkundige wat ’n groot invloed op hom asook die Afrikaanse letterkunde gehad het, ’n student aan hierdie universiteit was.

Die erkenning in België, sê hy, is “eintlik kosbaarder as enigiets anders in die wêreld in hierdie stadium van my ­lewe”.

Die band met Antonissen maak die eregraad des te belangriker vir hom.

“Juis omdat ek so ’n agting het vir Antonissen, die hele benadering van die universiteit en die benadering van kultuur. Ek kan aan geen ander eerbetoon dink wat vir my meer kan beteken nie.”

Die eregraad beteken vir hom ook baie vanweë “die klem wat die universiteit met hierdie eregrade op skeppende kunstenaars plaas”. “Dít beteken vir my besonder baie, die feit dat dit gaan aan skrywers wat in verskeie kontekste ’n aktiewe, kreatiewe rol speel.”

Antonissen was die hoof van die departement Afrikaans en Nederlands aan die Rhodes-universiteit op Grahamstad terwyl Brink in Frankryk gestudeer het.

Antonissen het in daardie tyd met Brink se studieleier aan die Sorbonne, prof. Charles Dedeyan, indertyd van die departement van vergelykende literatuurstudie, gekorrespondeer.

Brink het toe die eerste proewe vir sy roman Lobola vir die Lewe aan Antonissen gestuur.

“Rob se aanbod van ’n betrekking [op Grahamstad] het toe die hele loop van my lewe verlê. Die kennismaking met hom, met sy ongelooflike belesenheid en sy kulturele agtergrond was soveel meer as net letterkunde. Dit het my gestuur in ’n bepaalde rigting waar ek nooit anders sou kom nie.

“Antonissen het net só wyd gedink dat dit ’n mens op ’n bepaalde spoor geplaas het. Ek dink dit het te make gehad met die manier waarop letterkunde vir hom deel was van ’n enorme kulturele gegewe – wat musiek, filosofie en wiskunde ingesluit het.

“Wat Rhodes merkwaardig gemaak het toe ek Grahamstad toe gegaan het, en toe hy professor in die departement Afrikaans en Nederlands was, was dat daar ook ander mense in Duits, filosofie en Frans was wat ’n soortgelyke internasionale benadering van kultuur gehad het. Hulle was almal groot vriende en om in so ’n klein plekkie soos Grahamstad te beland in ’n gemeenskap wat só ’n ontsaglike wêreldkultuur met hulself gebring het, dít was die ongelooflike daarvan.”

Eve Ensler van Amerika en Jean-Claude Guillebaud van Frankryk sal ook by dieselfde geleentheid deur die universiteit vir hul skryfwerk vereer word.

Volgens Martin Buysse van die Leuvense universiteit het hierdie skrywers “deur hul skryfwerk, as dade van blywende betrokkenheid, geveg om spesifieke beleide en die gemeenskap in die geheel te verander”.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.