Vermaak
Berna Ackerman uitnemende woord-, musiekmens

Die feit dat Berna Barbara Ackerman op 27 September 1935 (oorlede 10 Augustus 2015) in Boksburg gebore is en op tweejarige ouderdom Vrystaat toe gekom het, kon Bloemfonteiners min skeel. Vir haar vriende, kollegas, studente en haar lesers was sy ’n “Bloemfonteinse” skrywer.

Waarskynlik eers met die publikasie van haar bekroonde roman Liesbet Delport se Oorlogboek het ’n mens die intieme aard van haar verbintenis met hierdie stad besef. By ’n herlees van haar eerste twee romans, Halfstuiwer-mossie en Seuntjie met die Vlek, lê die stad egter, sonder dat dit by die naam genoem word, oop en bloot voor jou: die watertorings, en Boegoebron aan die buitewyke, om maar twee voorbeelde te noem.

Berna was ’n uitnemende maar beskeie woordmens: “Ek is nie in staat om ’n geleerde boek te skryf nie. Ek skryf basiese boeke,” het sy per geleentheid aan ’n joernalis gesê.

Tog het hierdie onpretensieuse skryfwerk telkens gunstige oordeel van resensente ontvang, terwyl lesers van elke boek op ’n persoonlike en eg menslike wyse geraak is.

In Liesbet Delport se Oorlogboek, ’n werk met ’n sterk outobiografiese inslag, leer ons die negejarige Liesbet se koerantpa as een van die karakters ken. Dit is ’n belangrike leidraad om die skrywer se liefde vir en verknogtheid aan woorde te verstaan. Haar pa, Koos Cloete, was van 1937 tot 1966 ’n proefleser by Die Volksblad.

Van kleins af het Berna dagboek gehou van gebeure wat haar op een of ander wyse geraak het. Van haar pa het sy ’n kosbare Croxley notaboek gehad waarin hy gedigte geskryf het.

Benewens die woord-nalatenskap wat van haar pa se kant af gekom het, was daar ook die musiekinvloed wat sy van haar ma gekry het.

Sy het Ackerman van jongs af liedjies leer sing, en as agtjarige met klavierles laat begin.

Dié begin, in Pres. Steynstraat 30, het gelei tot Berna se studierigting en beroepskeuse. As musiekonderwyser aan die Hoërskool Sentraal, Hoër Meisieskool Eunice, Hoër Meisieskool Oranje en die Bloemfonteinse Onderwyskollege, het sy baie leerlinge vir musiek gewen. As ’n mens Berna se agtergrond nie geken het nie, sou jy nooit haar statuur as akademikus uit haar omgang met mense kon aflei nie. Sy het die graad D.Mus. in kerkmusiek verwerf en kon onderhoudend en interessant oor die geskiedenis van die Kerslied gesels.

As musiekdosent was sy onderlê in kontrapunt en harmonie (waaroor sy ook ’n handboek gepubliseer het). By musiekkonserte was sy ’n getroue en meelewende ondersteuner en het jou nooit vertel die programnotas vir die konserte was haar werk nie. Sy was ook baie jare Volksblad se musiekresensent.

Berna Ackerman

In die laat 1960’s het sy met ’n “stokperdjie” begin: die skryf van tydskrifverhale. Twee van die vervolgverhale is in 1981 deur Tafelberg Uitgewers in boekvorm uitgegee, Halfstuiwer-mossie en Seuntjie met die Vlek.

Lees ’n mens vandag die twee romans, wat vir die hedendaagse oog “oudmodies” voorkom, kom jy onder die indruk van die vaardige hand van ’n knap skrywer. Albei verhale het ’n sterk intrige-lyn met karakters waarmee die leser hom kan vereenselwig. Soos dekades later in Met ’n Ompad het sy aktuele kwessies gebruik soos die verwikkelde sosiale en emosionele situasies van kinders wat met ’n fisieke rem moet leef: die lewe van ’n bloeier, die seuntjie met ’n onooglike geboortemerk, of ’n tienermeisie wat op ’n skenkernier wag.

Kenmerkend van die drie romans is die geloofwaardigheid waarmee die fiktiewe storielyn met feite aangevul word, sonder dat die verhale swaarwigtig of uitsigloos word.

Die Christelike perspektief waaruit sy skryf word nooit patroniserend nie maar bevestig slegs die potensiële innerlike krag van mense wat in hul geloof geanker is. Haar onwrikbare vertroue in die “gewone mens”, en die wyse waarop hulle na mekaar uitreik, vorm in al vier haar boeke die hooftema.

Dis alledaagse waarhede en situasies wat met nugterheid en empatie deurgewerk word: sosiale verwerping, sieklike heb- en selfsug, rasionalisering, terminale siektes, vereensaming, enkelouerskap. Kitsoplossings bestaan nie in die realiteit nie, en ook nie in Berna se verhale nie.

Die ATKV se prosaprys (1998) vir Liesbet Delport se Oorlogboek was vir Ackerman die hoogtepunt in haar skryfloopbaan. Dit is ’n boek wat steeds op eie stoom voortleef. Is dit omdat Liesbet se drome ook Berna s’n was? Of gewoon omdat die stem van die ware storieverteller nooit stil word nie?

– Leana Lategan is hoofnavorser by Naln.

Volg Netwerk24