Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
10 vrae aan Dana Snyman

Dana Snyman se reisjoernaal, Op pad, is in Julie Netwerk24 se luisterboek van die maand. Netwerk24 het met Dana gesels.

Op pad met Dana
Dana Snyman Foto: VIA

1. Die eerste deel van Op pad vertel van die dele wat jy saam met ’n produksiespan op die pad was vir die verfilming van jou reeks vir VIA. Geniet jy die verfilming van die program? Wat is die hoogtepunte en die laagtepunte?

Moeilike vraag. Miskien geniet ek dit tog. Ek probeer maar maak of die kamera – ek reis meestal met net ’n kameraman by my – nie daar is nie, en doen maar my ding. Dit bly ’n voorreg om Suid-Afrika aan die lyf te kan voel, en met ons mense te kan gesels. Dis nie altyd lekker om die sukkel en die armoede te sien nie. Maar altyd sien jy ook hoop. Mits jy hoop wil raaksien.

2. Waarom het jy Op pad geskryf?

In ’n sekere sin reis ’n mens elke lang reis twee keer: Die eerste keer is dit die fisieke in die bakkie klim en die pad vat. Die tweede keer is wanneer jy by die huis kom en woorde probeer vind wat jy op die langpad ervaar het. Die boek was my gestoei in woorde met die land.

3. Soos ’n goue draad loop die storie van die optelhond Blackie deur die boek. Wat het toe van die hond geword?

Blackie het – ek is jammer as dit melodramaties klink – soos ’n engel my lewe ingekom. Hy woon steeds by my, saam met my drie ander honde, Jerry, Kleintjie en Vlooi. ’n Wonderlike hondjie.

4. Jy skryf oor jou besoek aan Nkandla in Op pad. Hoe het jy gevoel die dag toe Zuma uiteindelik uitgetree het?

Ek het ’n moerse paartie in my hart gehou. Ek was bly en dankbaar sy bewind is verby. Of is dit werklik verby?

5. In Op pad skryf jy ook oor die Rugbywêreldbeker van 2015. Wat is jou verwagtinge vir die Wêreldbeker later vanjaar?

Al wat ek het, is hoop. Hoop ons wen Die Beker. Ons, Suid-Afrika, het dit meer as enige ander land nodig. Ons moet wen, flippit, ons moet.

6. Jy het onlangs ook ’n spesiale Andrew Murray-prys gekry as die skrywer van die toneelstuk Die klaagliedere van ds. Tienie Benadé waarop die rolprent Dominee Tienie gegrond is. Waarom dink jy het veral dominees aanklank by dié toneelstuk gevind?

Ek is baie dankbaar oor die Andrew Murray-prys. My oorle pa was ’n predikant. Die prys is syne ook. Hoekom vind predikante aanklank daarby? Ek glo, in alle nederigheid, dis omdat ds. Tienie se storie eg is. Dat dit ook hul storie is, op ’n manier. Sallas de Jager-hulle wat die fliek gemaak het, het dit so goed gedoen. Miskien sou ek die prys nie gekry het as dit nie vir die fliek was nie. Die prys is ook Sallas s’n.

7. Vertel ons van jou nuwe toneelstuk, Donkie. Waaroor gaan dit?

Donkie gaan oor ’n onderwyser, ’n skoolhoof, wat in baie dieselfde situasie is as ds. Tienie – die situasie van die wit, Afrikaner-man in die post-1994-Suid-Afrika. Donkie, dis die bynaam wat die leerlinge vir hom gegee het, se woord is nie meer wet nie. ’n Skoolhoof is nie meer die magtige figuur in die gemeenskap soos eens nie. In die toneelstuk vertel Donkie sy storie.

8. Jou nuwe boek kom in September uit. Waaroor gaan die boek?

Die boek se titel is Soekmekaar. Dis kort- en langer vertellings oor my huismense en allerhande dinge in die land. Soek ons, die mense in die land, nie op allerhande maniere na mekaar nie? Ek probeer iets daarvan op ’n klein manier verwoord, soos ek dit ervaar.

9. Vertel ons van jou skryfproses.

Ernst Hemingway, ’n oneindig beter skrywer as ek, het gesê om te skryf is om voor ’n tikmasjien te gaan sit en te begin bloei. Skryf is vir my deksels moeilik. Ek sit maar en sit en tik en bloei, soms ure aaneen. En dan lees jy soms wat jy geskryf het – en dink: Hierdie is dan so ’n simpel ou storietjie, hoekom het ek so daarmee gesukkel? Uiteindelik is als Genade as iets min of meer werk.

10. Dit gaan in Oktober twee jaar wees sedert jou verloofde haar eie lewe geneem het. Hoe gaan dit met jou en die rouproses?

Dit gaan regtig goed met my. Ek leef ’n geseënde lewe, en is so dankbaar oor al die goeie dinge wat met my gebeur. Maar Anette… Gebeur so iets met ’n mens kan jy nooit heeltemal ophou rou nie. Ek sal altyd ’n bietjie oor haar treur. Anette se dood het my meer as ooit laat besef hoe belangrik mense in jou lewe is. Om ’n skrywer te wees, is nogal ’n selfsugtige manier van leef… Nou probeer ek meer uitreik en op my manier goed wees vir ander, want mense is so goed vir my.

Wil jy na Dana se luisterboek op Netwerk24 luister?

Klik hier om na Dana Snyman se reisjoernaal Op pad te luister.

En vir die kleinspan is daar ook 'n lekker luisterboek. Klik hier om na Fiona Moodie se Noko en die Koel Katte te luister.

Luisterboeke op Netwerk24

Netwerk24 en NB Uitgewers gaan vir die volgende jaar elke maand twee luisterboeke op Netwerk24 beskikbaar stel

  • Die boek is slegs beskikbaar vir Netwerk24-intekenare.
  • Die boek is tot 31 Julie op Netwerk24 beskikbaar en sal daarna met 'n ander luisterboek vervang word. Begin daarom sommer vandag nog luister!
  • Jy kan op jou rekenaar of binne ons app na die luisterboeke luister.
  • Maak seker jy het die jongste weergawe van die app as jy die boek op jou selfoon wil luister.
  • Maak seker jou wifi is aangeskakel as jy die boek begin luister.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.