Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
10 vrae aan Roeline Daneel

Die Avonture van Wilde Willemientjie was Netwerk24 se kinder-luisterboek van die maand in Augustus 2019 en die aktrise Roeline Daneel doen die voorlesing. Netwerk24 het met haar gesels.

Roeline Daneel. Foto: Justin Munitz/Headshots Cape
Roeline Daneel. Foto: Justin Munitz/Headshots Cape Town

1. Jy het die voorlesing van Riana Scheepers se Die avonture van Wilde Willemientjie gedoen. Wat is vir jou besonders van hierdie kinderboek?

Ek is mal oor die avontuurlustige hoofkarakter! Dit is seker nie meer so uitsonderlik om meisiekarakters teë te kom wat nie die tradisionele “sugar and spice”-model pas nie, maar dit was nogtans lekker om lewe te probeer gee aan ’n willewragtag wat hou van tjops en wors en wat skerpioene en slange onder haar vriende tel. Vanuit ’n meer tegniese oogpunt is daar ook ’n baie lekker ritmiese en vloeiende eienskap aan die teks, wat dit baie pret maak om voor te lees.

2. Wilde Willemientjie het lekker baie energie en ’n verbeelding wat skrik vir niks. Hoe was jy as kind? Het jy ook ’n groot verbeelding gehad?

Ek dink ek het! Ek en Kate Borthwick, my beste kindermaatjie, het ure deurgebring om wêrelde, scenario’s en liedjies op te maak. Ons was natuurlik ook 80’s-kids, wat beteken ons het nie baie van die tegnologiese afleiding gehad wat hedendaagse kinders het nie. Ons moes ons verbeelding gebruik. Ek het ook graag my eie “boeke” geskryf deur prentjies te teken en dan vir my ma voor te sê om die teks en dialoog by te skryf. Ek het nou die dag op een van hulle afgekom – nogal glad nie sleg nie, al moet ek nou self so sê.

3. Wat was jou gunsteling-kinderboek as kind?

My ma vertel altyd my gunsteling-sprokie was Gouelokkies en die drie bere, omdat daar nie ’n baddie in is nie. Verder het ek die Storieman-reeks verslind en ek onthou Huppelkind ook bitter goed. Ek was gelukkig genoeg om onlangs die voorlesing van laasgenoemde ook te behartig.

Roeline Daneel. Foto: Justin Munitz/Headshots Cape
Roeline Daneel. Foto: Justin Munitz/Headshots Cape Town

4. Jy word binnekort ma. Waarna sien jy die meeste uit?

Ek sien daarna uit om alles weer vars en deur nuwe oë te ervaar. Ek is ook heeldag besig om lang stories en liedjies met my twee katte te deel. Ek vermoed ’n mensekind gaan effe beter geselskap wees.

5. Jy en jou man verwag ’n dogtertjie. Het julle al op ’n naam besluit?

Nog nie . . . Dalk weet ons eers as ons haar sien.

6. Watter boek kan jy nie wag om vir jou dogter te lees nie?

Ek weet ons ou Storiemanboeke en -kassette is nog êrens! Ek sien uit om dit op te spoor. En dan ’n kassetspeler op te spoor . . . Ek het ook ’n paar talentvolle akteursvriende wat boeke geskryf het en ek hulle laat teken het. Ek sien daarna uit om Milan Murray se idioomreeks en Emily Child se Jeff en George en die totempaal voor te lees.

7. Hoe belangrik dink jy is dit om van kleins af by kinders ’n liefde vir boeke te kweek?

Dit is vir my bitter belangrik. Boeke was ’n groot deel van my grootwordjare en ek is nou nog ’n kranige leser. Ek glo dit help met taalontwikkeling, om ’n gesonde verbeelding te kweek en empatie met ander te ontwikkel.

8. Hou jy daarvan om na luisterboeke te luister?

Ek moet bieg, ek is nogal old school as dit by my leesgewoontes kom. My gunstelingmanier van lees bly om opgekrul te sit met ’n harde kopie. Ek het wel ’n Kindle en soos wat my boekrak voller word, brei ek my Kindle-biblioteek ook fluks uit. Ek luister wel podcasts, maar luisterboeke is nog uncharted territory vir my.

LEES OOK: Roeline Daneel gaan ma word!

Ek dink egter dis wonderlik en belangrik dat boekuitgewers bybly met mense se lees- (of dan luister-) gewoontes. En wat kinderboeke betref, dink ek luisterboeke is fantasties. Nie alle ouers is dalk lus vir al die toneelspel wat met die stemme en karakters gepaardgaan nie en soos Storieman my leer lees het, sal oudioboeke nuwe generasies leer lees.

9. Hoe sal jy iemand aanmoedig wat nog nooit luisterboeke geluister het nie?

Baie mense het dalk nie die luukse van tyd om boeke op die ou manier te lees nie. Luisterboeke kan verslind word terwyl ’n mens iets anders doen: in die verkeer vassit, op die treadmill draf of aandete voorberei.

10. Jy is binnekort in die fliek Ander mens te sien. Vertel ons meer oor die fliek en watter rol jy daarin speel.

Dis ’n baie lekker, donker aksiefliek met ’n wonderlike unlikely hero in die vorm van Daniel Niemand (vertolk deur Bennie Fourie). Hy is ’n papperige knaap wat ’n onbenullige bestaan voer, totdat ’n reeks misverstande hom in die oog van ’n reusestorm laat beland. Ek speel sy (amper eks-) vrou, Pauline, wat hom verneuk met hul huweliksberader (gespeel deur Tim Theron). Ander mens is op 23 Augustus in teaters.

Wil jy na Die Avonture van Wilde Willemientjie luister?

Kinders én hul ouers kan tot 30 Augustus 2019 na twee stories van Riana Scheepers se Die Avonture van Wilde Willemientjie luister.

Luisterboeke op Netwerk24

Netwerk24 en NB Uitgewers stel elke maand luisterboeke op Netwerk24 beskikbaar.

  • Die boeke is slegs beskikbaar vir Netwerk24-intekenare.
  • Die boeke is tot 30 Augustus op Netwerk24 beskikbaar en sal daarna met 'n ander luisterboek vervang word. Begin daarom sommer vandag nog luister.
  • Jy kan op jou rekenaar of binne ons app na die luisterboeke luister.
  • Maak seker jy het die jongste weergawe van die app as jy die boek op jou selfoon wil luister.
  • Maak seker jou wifi is aangeskakel as jy die boek begin luister.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.